Tyd vir praaitjies en dans is verby. ANC ondersteuners brand die strate af en die opposisie mor. Die Zuma regering moet begin resultate lewer. Solidariteit het sy prioriteite aangestuur in ʼn mediaverklaring en volg dit op met ʼn meningspeiling onder lede en vriende wat moet die grootste prioriteit van die regering wees. Rondom dit sal die vakbond dan mobiliseer.
Solidariteit vra Zuma om veral op vyf brandpunte te fokus
Solidariteit het vandag ʼn beroep op president Zuma gedoen om môre tydens sy staatsrede veral op vyf ernstige brandpunte te fokus. Die vakbond glo dat hierdie vyf brandpunte tans ernstige swak punte vir die regering is.
“Die vyf kwessies wat ons glo die meeste aandag verdien, is die land se infrastruktuur, onderwys, veiligheid, regstellende aksie en die krisis by Eskom. Solidariteit is bekommerd dat Suid-Afrika se geloofwaardigheid die afgelope tyd ernstig skipbreuk gely het. Indien ons die regering op hierdie vyf brandpunte beoordeel, sien ons dat hulle heeltemal daarin faal om hierdie basiese regeringsfunksies korrek uit te voer,” sê Jaco Kleynhans, woordvoerder van Solidariteit.
Solidariteit het veral sy kommer uitgespreek oor die verval van die land se infrastruktuur, veral op munisipale vlak. “ʼn Groot aantal munisipaliteite se watersuiwerings- en rioolstelsels is reeds wanfunksioneel of is tans besig om in duie te stort. Deel van die probleem is dat regstellende aksie die afgelope paar jaar vaardigheidsverliese by munisipaliteite veroorsaak het. Deel van die oplossing van die infrastruktuurprobleem sal ʼn moratorium op regstellende aksie by die vul van poste wat skaarsvaardighede vereis, wees.”
Solidariteit het ook sy kommer uitgespreek oor die regering se onvermoë om die onderwyskrisis met ʼn duidelike plan te probeer oplos. “Die meeste Suid-Afrikaanse skole beskik eenvoudig nie oor die vermoë om kandidate te lewer wat die nodige naskoolse opleiding kan ondergaan ten einde in die land se vaardigheidstekorte te voldoen nie. Die president en die minister van onderwys kan net soveel skole besoek soos wat hulle wil en oor die probleem praat, maar indien onderwysers nie oor die vermoë beskik om kinders in belangrike vakke te onderrig nie, sal die situasie nie verander nie en sal die ooraanbod van ongeskoolde arbeid wat Suid-Afrika se werkloosheid jaarliks stook net vererger.”
Die vakbond wil ook hê dat die president in duidelike terme moet uitstippel wat die regering gaan doen om Suid-Afrikaners beter te beveilig. “Ons sien tans ʼn toename in wrede plaasaanvalle en in geen een van hierdie gevalle hoor ons ʼn woord van die president of die minister van polisie oor wat hulle gaan doen om die boerderygemeenskap te ondersteun nie. Huisbrake in Suid-Afrika gaan gereeld met wreedheid gepaard. Hierdie tendens van wreedheid sal op nuwe maniere hanteer moet word. Dit help nie die president kondig elke jaar aan dat nuwe polisiemanne gewerf gaan word nie. Die probleem is groter as suiwer polisiëring.”
Solidariteit glo ook dat die krisis by Eskom een van die president se top prioriteite moet wees. “Ons glo dat Eskom tans wanbestuur word en dat dit dus ʼn klug sal wees om ʼn groot tariefverhoging aan Eskom toe te staan. Die maatskappy sal eers sy huis in orde moet kry voordat tariefverhogings toegestaan kan word. Verder blyk dit asof die regering nie die implikasies van ʼn groot tariefverhoging insien nie. Die krisis by Eskom is direk die regering se skuld omdat hulle hul verantwoordelikheid as enigste aandeelhouer van Eskom vir jare nie nagekom het nie, maar Eskom net misbruik het om politieke punte by kiesers te wen. Die Suid-Afrikaanse ekonomie moet nou daaronder ly,” sê Kleynhans.
Solidariteit sal graag wil sien dat die president se mooi beloftes in duidelike aksieplanne omskep word. “Suid-Afrikaners raak al hoe ongeduldiger oor swak dienslewering, werkloosheid, hoë lewenskostes en die veiligheidskrisis in die land. Die afgelope jaar het die regering daarin misluk om hierdie brandpunte aan te pak.”
Geen verwante artikels nie.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.