Wys my een suksesvolle Afrikaland

Ek is ʼn groot ondersteuner van Afrika en sy mense. Ek is tog self ʼn Afrikaan. Maar word ek toe hierdie week deur ʼn buitelander gekonfronteer met die versoek om een suksesvolle Afrikaland te identifiseer. Ek dink Botswana, maar as jy bietjie meer oor die land gaan lees, word sy stabiliteit net deur baie diamante en ʼn militaristiese leier verseker. Ek dink volgende aan Senegal, maar moet toe lees dat menseregtevergrype daar algemeen voorkom en dat korrupsie en die verval van infrastruktuur ʼn kroniese probleem is. Ek dink aan Namibië, maar met sy hoë werkloosheid, armoede en swak plaaslike ekonomie kan jy ook nie juis dié land ʼn sukses noem nie. Net terloops, ek het nog nooit self aan Suid-Afrika as ʼn suksesland gedink nie, so my eie land was nie eers op my lysie nie.

Hoekom kan Afrika nie eers een werklik suksesvolle land hê nie? Ek dink die probleem lê juis in die uniekheid van Afrika en sy mense. Ons kontinent is soveel anders as ander kontinente. In Europa moes mense uitnemendheid ontwikkel om nie van honger en koue te sterf nie. In Australië en die VSA moes ʼn klomp tronkvoëls en armlastiges aanvalle van inboorlingstamme, natuurrampe en leë, oop vlaktes trotseer om te oorleef. Ook hulle het lande en kontinente van uitnemendheid geraak.

In Afrika het ons egter baie natuurlike hulpbronne met wildtroppe, vrugtebome en ander voedselbronne wat altyd beskikbaar was – en dít sonder enige erge weerstoestande – en dus het Afrikane nie betyds uitnemendheid aangeleer nie. Juis daarom dat die mense van die Afrikakontinent agter is met geletterdheid, vaardigheidsontwikkeling, landbouproduksie, industrialisasie, infrastruktuurontwikkeling en baie ander dinge waarmee die Amerikas, Europa, Australië en selfs Asië ons ver vooruit is.

Afrika het ook ʼn probleem om sy diverse etnisiteite te akkommodeer sonder dat dit tot geweld, korrupsie of selfs onderdrukking en volksmoorde lei. Die regte model van regering is nog nie vir Afrika uitgedink nie. Ek dink wel indien Afrika se mense op uitnemendheid kan begin fokus en ʼn goeie regeringsmodel gevind kan word, die ander kontinente wel ingehaal kan word. Ons as Afrikane het almal ʼn plig om hierna te streef.

Ander internasionale nuus van die week:

Haïti: Die slegste wat sekerlik met arm, polities-onstabiele land kan gebeur, is om deur ʼn natuurramp getref te word. Dit is wat hierdie week gebeur het toe ʼn kragtige aardbewing Haïti getref het. Die land se hoofstad, Port-au-Prince, is bykans verwoes en duisende mense word vermis.

Venezuela: Dié land gaan tans onder ernstige beurtkrag gebuk, wat die gewildheid van die ekstreem linkse president Hugo Chavez kan bedreig. Venezuela gebruik hoofsaaklik hidro-elektrisiteit en ʼn droogte veroorsaak opwekkingsprobleme.

Pole: ʼn Skildery van die wêreldbekende skilder Claude Monet wat in 2000 uit ʼn museum in Pole gesteel is, is teruggevind. Die skildery is $1 miljoen werd.

Buitenste ruim: ʼn Vreemde, vlieënde voorwerp het Woensdag by die aarde verbybeweeg sonder dat kenners kon bepaal presies wat dit is.

China: Google het die eerste groot multinasionale maatskappy geword wat bereid is om bietjie sy rug styf te maak vir die menseregtevergrype in China. Google het gedreig dat hy uit die land sal onttrek indien China nie sy sensorskap van menseregtegroepe en -aktiviste staak nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Johan Swarts

    Dan vra ek om verskoning vir premature kommentaar – ons premisse is duidelik verskillend.

  • Jaco Kleynhans

    Johan. Soos ek in my artikel gese het: Ek het nog nooit aan Suid-Afrika as ‘n suksesvolle land gedink nie. Jy is heeltemal reg met jou opsomming van probleme in Suid-Afrika. Suid-Afrika is sekerlik in ‘n beter posisie as al die ander Afrikalande (slegs geoordeel aan statistieke soos per capita inkomste), maar ver van suksesvol af. Jaco

  • Johan Swarts

    Suid-Afrika is ook vrot van korrupsie. Ons het voortdurende geweld teenoor uitlanders. Ons infrastruktuur het tot onlangs in sommige plekke inmekaargestort. En haglike armoede – dié het ons beslis.

    Sou jy ons suksesvol noem?

  • Jaco Kleynhans

    Beste Johan. Ek het beslis goeie navorsing gedoen. Om die waarheid te se ek het hierdie vakansie ‘n boek oor Afrika gelees en daarna oor die meeste Afrikalande op plekke soos Wikipedia gaan lees. Ek kan nie verstaan hoe jy kan dink dat lande soos Algerie, Nigerie, Egipte en Kenia suksesvolle lande is nie. Nigerie is vrot van korrupsie en daar is voortdurende geweld op die olievelde en tussen Moslems en Christene. Kenia het ‘n groot probleem met ‘tribalism’ – kyk maar na hul laaste verkiesing waar ‘n groot hoeveelheid mense weens geweld vermoor is. Egipte se infrastruktuur stort in duie en in Algerie is daar ‘n erge armoede wat duisende mense na lande soos Frankryk en Spanje dryf. My bewering is dus glad nie so onwaar soos wat jy beweer nie.

  • Johan Swarts

    Ek dink jy moet dit oorweeg om meer navorsing te doen voor jy weer iets skryf. Gaan lees gerus op oor Algerië, Nigerië, Egipte en Kenia. Almal weet daar is mislukte state in Afrika, maar om die stelling te maak dat daar, behalwe vir Suid-Afrika, nie ‘n enkele, suksesvolle land in Afrika is nie, is doodenvoudig onwaar.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube