Mei se koue bekruip die buurt –
Kil hierdie jaar reeds in April,
die dam se water ysig stil.
Motorwrakke, huise bak bleek in die oggend
Sonder die klank van skoolkinders of honde
Net soms nog dra name ʼn eggo
Wat jy selde van naby kan hoor.
Westdene dam, Westdene bus.
Westdene bus, Westdene dam.
Dit was 27 Maart 1985, toe selfs geharde polisiemanne en joernaliste langs rye en rye toegegooide lykies gestaan en huil het. Hulle lewelose hande en voete – nog met skoolskoene aan het onder grys komberse uitgesteek.
Altesaam 42 hoërskoolleerlinge van Vorentoe Hoërskool het omstreeks 13:00 die middag op 27 Maart 1985, 25 jaar gelede, ʼn waterdood gesterf toe die dubbeldekkerbus wat hulle ná skool huis toe vervoer het, deur die sypaadjie gebars en in die Westdene-dam weggesink het. Tot vandag toe kan ooggetuies van die tragiese gebeure nie besluit wat erger was nie. Die gille van die kinders in die bus of die stilte wat daarop gevolg het nie. Of die wanhoopskrete van die ouers wat later soos ʼn refrein langs die dam opgeklink het nie.
Honderde omstanders het met afgryse toegekyk. Toebroodjies en kougom was nog in van die kinders se monde. Dit was egter ook ʼn dag van heldedade
Dit verbaas haar nie dat haar seun gesterf het terwyl hy besig was om ander mense te help nie. So sê mev. Marie Koen. Haar seun, die 17-jarige Pieter Koen het gesterf terwyl hy probeer het om van skoolmaats uit die Westdene-dam te red oomblikke nadat hy self uit die dam gered is. Een van die eerstes wat hy na veiligheid gebring het, was sy niggie, Karin Theron. Pieter het op die noodlottige dag vyf kinders van ʼn gewisse waterdood gered en nog ʼn sesde keer in die water geduik. Hy het egter nie weer lewend na die oppervlak gekom nie. Pieter is na sy dood met die Wolraad Woltemade-toekenning vir dapperheid vereer.
Danie Theron, nog ʼn leerling, het ook ʼn Wolraad Woltemade-toekenning ontvang. Hy het drie kinders gered en self ook die ramp oorleef. Hy het egter sowat vier jaar later selfmoord gepleeg.
In die Westdene begraafplaas in Johannesburg lê 36 van die slagoffertjies se grafte in twee rye. Op ene Rita se graf dié inskripsie
Geen laaste woord, geen laaste groet, in die hemel sal ons weer ontmoet.
Solidariteit Radio het verlede week in Dirk op Donderdag by ‘n paar mense uitgevind wat hulle nog van die dag onthou. Luister hier na hulle treffende verhale.
- Melinda Janse van Rensburg het haar beste vriendin in die tragedie verloor
- Adrie Smit se suster het in die ramp omgekom
- Neels Els het langs sy broer in die bus gesit toe dit die water getref het. Hy het oorleef, sy broer nie.
- Des van der Merwe sou op die bus gewees het, maar het dit verpas.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.