Wêreldkampioene tot op die einde toe

 

Dit was ʼn harde drie weke. Hulle was ons topspan vir die jaar. Die Satawu-stakers wat 17 dae voluit gespeel het. Halfpad het die arme klomp van Utatu uitgesak op 11 dae en die loonaanbod van 11% aanvaar.

Die wêreld kan kom met hulle beste sokker spanne maar as dit by staak kom moet hul dit hier by die kenners kom leer. Die stof het nog nie eers gaan lê nie en heel gepas sal Suid-Afrika en Cosatu sy heerskappy in die Wêreldbeker bevestig met nog ʼn staking.   Hoe is dit vir tydbeperking en om die verbeelding aan te gryp.

Transnet bestuur het hul slim gehou op CNBC Africa. Jan de Lange skets in Sake Beeld die situasie by Eskom. Steven Friedman waarsku in Business Day dat die publiek se geduld met stakers kan opraak.

Arbeidskenner Andrew Levy dink die Transnet onderhandelaars was net treurig. Lees: Why South African employers have failed/are failing. Luister na onderhoud op Moneyweb.

Kampioene moet altyd die inisiatief neem en juis nou is dit die regte geleentheid om al jou vaardigheid te wys. Dit is nou die regte geleentheid om te wys hoe die ekonomie weer ʼn skop op die maer merrie kan kry. Kyk hoe mooi het Satawu dit gedoen met hul R25 miljard skade aan die ekonomie. Om nie eers te praat van hul eie lede se sakke nie.

En die leuse vir die bittereinders is mos: An injury to one is an injury to al. Jammer vir al die plaaswerkers wat nou hul werk kan verloor. Hulle was nog altyd in die verkeerde liga.

Vergeet die groter geheel van span Suid-Afrika en uitvoerder wie se reputasie aan flarde is. Finansieel is daar groot verliese wat in landbou, mynbou en vervaardiging gaan deursyfer na ander werkers en hul verhogings wat hulle later moet beding.

Die interne strategie van Satawu as vakbond en hou hul, hul eie lede benadeel het noem mens onverantwoordelike vakbondwese. Die verlies aan inkomste oor die 17 dae wat nie gewerk is nie gaan jare neem om op te maak met enige verhoging in die toekoms.

Die Solidariteit Navorsing Instituut het gehelp om die volgende somme te maak:   

 As mens die R600 ex-gratia buite rekening laat, en mens werk op ʼn 8% oorspronklike aanbod en ʼn finale skikking op 11% en mens gebruik 250 werksdae in ʼn jaar, moet die staker 29,4 maande (dis 2,4 jaar) lank werk om in te haal wat hy verloor het tydens die staking. Die skikking is dubbel die huidige inflasie wat nie gou gaan styg nie.

 As mens werk op iemand wat voor die staking R50 000 per jaar verdien het, toon die berekening dat hy tydens die staking sowat R3672 verloor het. As mens die R600 hiervan aftrek, beteken dit dat hy steeds 24,5 maande (of 2 jaar) moet werk om in te haal wat hy verloor het. Die effek van die R600 word natuurlik al hoe kleiner namate die persoon se salaris groter word. Iemand wat byvoorbeeld R100 000 per jaar verdien, sal, selfs met die R600 in berekening, steeds 27 maande (of 2,2 jaar) moet werk om in te haal wat in die staking verloor is.

Volgens ʼn ander media-bron dat Transnet wel voor die staking (reeds op die 6de) ʼn aanbod van 11% gemaak het. In daardie geval verloor die staker dus alles en haal nooit in nie (behalwe vir die R600). Mens kan dit dan in ander terme voorstel. Iemand wat voor die verhoging R4200 per maand verdien het, het tydens die staking sowat R3700 verloor. Hy kry wel nou R600 ex gratia. Hy is egter steeds R3100 kwyt. Dit is gelykstaande aan 6,2% van sy jaarlikse salaris voor die verhoging. In die eerste vergoedingsjaar vat hy dus eintlik ʼn 6,2% sny in vergoeding en nie ʼn 11% styging nie.

Dit noem mens nou die strategie van ‘n wenner. Gefokus op die bal. Saam verloor ons. Nie net die wat staak nie maar ook die groter geheel. An injury to one is an injury to al. Die wedstryd is tot in besreingstyd gedruk en dit is die manier hoe finale gespeel word. Staak tot alles gebreek is.

Dit help ook egter nie om net vies te wees vir die stomme stakers nie. Groot skuld moet voor die bestuur van Transnet se deur geplaas word as die bestuur bestaan. Alles daar is net waarnemend. En dit was deel van die probleem. Vandat Maria Ramos daar weg is kon niemand nog ʼn besluit daar neem nie. Die grootste en enigste aandeelhouer egter is die staat. Niks meer om te sê nie. Julius Malema het seker nie ambisies om Transnet te nasionaliseer nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube