“Wees net getrou…”

Vriend en vyand en renegaat,
luister toe! Dis ’n man wat praat –
Jopie Fourie

So skryf Jan F. E. Celliers in sy gedig, ’n Wekroep tot die Volk, oor Jopie Fourie.

Josef Johannes Fourie, of Jopie Fourie, is op 27 Augustus 1878 in die Pretoria distrik gebore. Hy was ‘n verkenner en rapportryer tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Na dié oorlog bly hy betrokke by die Burgermag en sluit in 1914 aan by die sogenaamde 1914-Rebellie teen die toentertydse eerste minister, Louis Botha. Fourie was teen Botha se omstrede besluit om Duits-Suidwes-Afrika binne te val as deel van die oorlogspoging van Brittanje.

Hy stel dit so: “Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan… en wanneer ek dink aan die 30,000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet help om sy eer omhoog te hou nie.”

Tydens die Jameson-inval het die sewentienjarige Jopie, saam met sy oom Japie, onder Kommandant Piet Roos gedien. Hulle was dan ook betrokke by die laaste harde skermutseling wat gelei het tot die opsteek van die wit vlag (na bewering ‘n voorskoot) deur dr. Jameson se manne. Jopie word toe deur kommdt. Roos versoek om ‘n brief op te stel en sommer ook belas om die brief aan die doktor te gaan oorhandig. Kort daarna het dr. Jameson oorgegee.

Jopie Fourie is in die omgewing van Rustenburg gevange geneem en is op Sondagoggend 20 Desember 1914 doodgeskiet, agt ure nadat hy tydens ’n veldkrygsraadverhoor skuldig bevind is aan hoogverraad.

Jopie was tot met sy dood onbevrees en het sy geloof openlik bely. Hy sê: “…so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met sy dierbare bloed vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons, ons kan Hom voel…”

Jopie Fourie se laaste woorde was in ’n eenvoudige brief aan sy volk gerig.

“Getroue Afrikaner, Vriende en Vriendinne. Teen die tyd dat u hierdie brief lees sal ek reeds by my Hemelse Vader wees. Die Afrikanerboom wat geplant is en met my bloed benat word, sal groei en heugelike vrugte dra.

….ek vra nie trane of rou oor my nie. Wees net getrou aan julle tradisies; wees getrou aan julle volk; wees getrou aan julle godsdiens en aan julle God. Vaarwel my volk, vaarwel my land.“

Jopie is voor sy dood nie toegelaat om sy vrou of sy ouers te groet nie en hulle is eers op 27 Oktober 1915 toegelaat om sy lyk te gaan herbegrawe.

Die woorde op Jopie se grafsteen som sy oortuigings in eenvoudige woorde op.

Getrou tot die dood, geoffer vir volk en vaderland

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube