. . . dan moet jy weet daar skort iets! Ek en my man woon op ‘n plaas in Donkerhoek, oos van Pretoria. Ons val binne die Boschkop Polisiëringsgebied. Enige iemand wat in Pretoria en omliggende area woon of die gebied ken weet dat die area bekend is vir sy misdaad. (Goed, ek weet, so ook seker meeste ander dele van die stad, maar nou ja…)
Hoe dit ookal sy. Die ander dag lees ek ‘n storie van hoe ‘n persoon by die Boschkop-polisiestasie opgedaag het om dokumente te laat sertifiseer of iets en toe met skok besef dat een van die polisiemanne wat agter die toonbank staan die einste kalant is wat saam met sy makkers in ‘n rooftog by die man se besigheid berokke was.
Kan jy dit glo? Ek hoor ook dat daar tans sowat 10 000 polisiebeamptes in aanhouding is vir misdade wat hulle na bewering by betrokke was. Hoe kan ons die polisie vertrou as misdaad onder polisielede nou duidelik algemeen geword het?
Terug by my storie: Aangesien ons in die Boschkop-area woon sien ek nou gereeld die stasie se voertuie rondry. Die ander aand het ek en my man laat eers tuis gekom. Toevallig draai ‘n bakkie voor ons af op dieselfde grondpad as waarmee ons moet ry. Toe ek egter sien dat dit ‘n bakkie van die Boschkop-stasie is, het my maag dadelik in my keel gaan klop, want al die gedagtes van die een lid van die stasie wat by ‘n roof betrokke was het dadelik in my kop begin maal.
Dit is jammer dat ons in ‘n land woon waar om ‘n polisievoertuig in die middel van die nag teë te kom vrees in plaas van ‘n gevoel van veiligheid by ‘n mens aanwakker. Dit is jammer dat ek met ‘n groot spoed eerder verby die polisiewa gejaag het om lank voor hom by ons afdraai te kan kom, om sodoende veilig agter die drie elektroniese sekuriteitshekke te kom. Dit is jammer dat ek moet bang wees dat die polisiewa skielik voor my gaan ankers aanslaan op hierdie stil grondpad en ons gaan oorval. Maar dit is duidelik – wanneer jy die polisie begin vrees moet jy weet daar skort iets, iets groot!









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.