Waarom is Sasol se brandstof nie goedkoper nie?

Talle Suid-Afrikaners is dikwels ontevrede daarmee dat die voertuigbrandstof wat Sasol uit steenkool en gas vervaardig, nie goedkoper is as die res van die brandstof wat uit ingevoerde ruolie vervaardig word nie. Sasol – eintlik Sasol se aandeelhouers – word erg daarvoor kwalik geneem dat hulle voordeel daaruit trek.

Daar is twee redes waarom Sasol se brandstof nie goedkoper is as ander brandstof nie, ondanks die feit dat Sasol se insetkoste per liter brandstof volgens alle aanduidings tans veel laer is as dié van maatskappye soos Shell, BP, Engen, Caltex en Total wat ingevoerde ruolie raffineer of klaarvervaardigde brandstof invoer.

Die eerste rede is dat dit teen die wet is om petrol te verkoop teen enige prys behalwe die kleinhandelprys wat maandeliks per streek vasgestel word. Selfs al wou Sasol dus petrol goedkoper verkoop, sou die wet dit verbied. Wat diesel betref, word slegs die groothandelprys deur die wet vasgestel – die kleinhandelsprys word nie vasgestel nie. Soos enige dieselgebruiker sal weet, verskil die dieselprys wel ietwat van vulstasie tot vulstasie. Daardie verskil is egter nooit baie groot nie – daarin lê reeds ʼn deel van die tweede rede waarom Sasol se brandstof nie goedkoper as die ander die maatskappye s’n is nie.

Veronderstel dat die prys van petrol nie gereguleer is nie en dat enigiemand petrol teen enige prys kon verkoop. Gestel nou dat die totale koste vir Sasol om petrol te produseer en dit aan ʼn verbruiker te lewer R8 per liter is, terwyl dit vir die ander maatskappye (wat ruolie of klaarvervaardigde petrol invoer) R10 per liter is. Slegs ʼn fraksie van Suid-Afrika se totale voertuigbrandstofbehoeftes kan deur Sasol voorsien word weens Sasol se beperkte produksiekapasiteit. Nou is die vraag: Is daar ʼn rede waarom Sasol hulle petrol teen R8 (plus ʼn klein winsgrens) sou wou verkoop, eerder as teen R10 (plus ʼn klein winsgrens) soos die ander maatskappye?

Die antwoord is nee. Teen ʼn prys van R10, dieselfde as ander maatskappye s’n, is Sasol gewaarborg dat hulle totale produksie uitverkoop sal word. Dit is nie nodig om ʼn laer prys te vra om klante te lok om brandstof verkoop te kry nie.

ʼn Praktiese voorbeeld met ʼn ander produk kan dié beginsel verder verhelder. Gestel jy koop twee gebruikte voertuie op ʼn veiling teen R80 000 elk, terwyl die normale tweedehandse prys vir sulke voertuie eintlik R100 000 elk is. Jy adverteer hierdie twee voertuie teen R100 000 elk en kry twee reaksies: Die een is ʼn voornemende koper wat bereid is om die volle geadverteerde prys te betaal vir beide voertuie en wat aandui dat hy nog drie vriende het wat ook sulke voertuie by jou sou gekoop het teen daardie prys indien nog voertuie beskikbaar was. Die ander reaksie is van iemand wat net een van die voertuie wil koop en slegs R90 000 daarvoor aanbied. Wat staan jou te doen? Teen die algemene markprys is daar ʼn vraag wat jou voorraad van twee voertuie vêr oorskry. As jy die voertuie aan die eerste voornemende koper verkoop, kan jy albei verkoop en R40 000 wins maak. Jou ander opsie is om een voertuig vir R100 000 te verkoop en ʼn ander vir R90 000 en slegs R30 000 wins te maak. Watter opsie sou jy kies?

Soos met die voorbeeld hierbo is daar ook geen rede vir Sasol om ʼn beduidend laer prys te vra as die ander maatskappye nie, selfs al het die wet dit toegelaat. (ʼn Klein prysverskil, soos met diesel op die oomblik, sou wel kon voorkom, maar slegs as ʼn manier om mense na die ekstra dienste by ʼn vulstasie te lok. Dit is vulstasie-eienaars wat hieroor besluit, nie Sasol nie.)

Gestel egter dat Sasol wel om een of ander duistere rede besluit om hul petrol eerder teen R8 per liter te verkoop, ten spyte daarvan dat hulle wins as gevolg daarvan skerp sal daal. Elke keer as ʼn tenkwa nog petrol kom aflewer, sal verbruikers om die blok toustaan by die Sasol-vulstasies vir die goedkoop petrol, totdat dit op is. ʼn Verdere mark sal dan ontstaan vir die Sasol-petrol wat herverkoop word teen ʼn hoër prys, naastenby ekwivalent aan die ander maatskappye se prys van R10. Al wat dus op die ou end sal gebeur, is dat Sasol ʼn klomp wins verloor, wat grootliks oorgedra sal word aan herverkopers.

Dit is eintlik verbasend hoe daar elke maand so woedend teen Sasol uitgevaar word omdat hulle ʼn plaaslike produk teen dieselfde prys as ʼn ingevoerde produk verkoop. By ander produkte en maatskappye word die woede gewoonlik vir die invoerder gereserveer. Klink so iets bekend? “Hoe durf ʼn maatskappy tuinstoele uit China hier in Suid-Afrika teen ʼn laer prys verkoop as wat die plaaslike vervaardigers se pryse is!? Hulle maak ons plaaslike industrie dood! Die regering moet dit stopsit met ʼn wet en ʼn kwota vir invoere afdwing!”

Aan die een kant word ʼn plaaslike maatskappy (Sasol) aangeval oor hoë pryse, maar terselfdertyd word ander plaaslike maatskappye in der waarheid geprys daarvoor dat hulle hoë pryse vra. Hierdie twee houdings is totaal onversoenbaar met mekaar, maar word tog gelyktydig gehuldig deur talle mense.

Die oplossing vir ontevredenheid oor tydperke wanneer Sasol se aandeelhouers ʼn groot wins “ten koste van die verbruiker” maak, is eintlik baie maklik: Word self ʼn Sasol-aandeelhouer. Koop ʼn klompie Sasol-aandele en gebruik die dividende wat uitbetaal word om brandstof mee te koop wanneer die pryse hoog is.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Reint

    JOHANNESBURG, NOV 23 – South African petrochemicals group Sasol expected sharply higher earnings for the six months to the end of December on higher oil prices, a weaker rand and improved operational performances, the group said on Wednesday. http://www.reuters.com/article/2011/11/23/sasol-idUSL5E7MN0XB20111123

  • Bril

    Snaaks dat hierdie saak na soveel jare steeds sy kop uitsteek – waar kry die mense hulle inligting vandaan dat dit ‘n punt van geskil bly?

    Onthou Sasol is as teenvoeter in die sanskiejare gebou (ons praat van 1950 hierso – meer as ‘n halwe eeu het al sedertdien vergaan) met staatshulp. Die doel het verval, daar bestaan geen sanksies meer nie. Die onderneming is toe geprivatiseer (dis soos Shell en ander) en nie meer in staatsbesit nie. Dit is ‘n aandele maatskappy wat net soos enige ander maatskappy wins maak. Subsidies – maar daar is baie ander maatskappye wat subsidies van die staat af kry, mense weet dit net nie. Daar is klomp maatskappye wat met staatshulp gestig word.

    Paar interessanthede van ‘n (oorlede) persoon in 2001 (van die feite het al verander) wat ‘n vooranstaande wetenskaplike by Sastech (hulle navorsingstak) was:

    1. Sasol produseer 40% van Suid-Afrika brandstof behoefte. Dit is tog ‘n aansienlike prestasie en dink net hoeveel valuta word daardeur bespaar, veral met deesdae se swak rand!

    2. Toe Sasol gestig is, is daar met oliemaatskappye kontrakte aangegaan dat Sasol nie teenoor hulle as kompetisie mag optree nie, omrede Suid-Afrika tydens die sanksiejare van hule ru-olie afhanklik was. Weens hierdie kontrakte mag Sasol geen eie vulstasies besit nie. As teenprestasie moes hulle ru-petrol en ru-diesel aankoop (m.a.w. sonder bymiddels). Daarbenewens moes hulle per vulstasie tenminste een Sasolpomp toelaat, sodat Sasol petrol as Sasolpetrol kon verkoop. Gevolglik bestaan vandag alle petrol in Gauteng en tot Bloemfontein in die suide en ? in die noorde (weet nie hoe vêr dit vandag gaan nie) uitsluitlik uit Sasolpetrol, wat deur elke oliemaatskappy  met hulle eie, dikwels geheim gehou, bymiddels bygevoeg het (byiddels is bv. antiklopmiddele, roesbeskerming, antioksidante, enjinsuiweringsmiddele, antistatiese bymiddels). Hierdie kontrakte eindig einde 2003 (my opmerking – en gevolglik het Sasol sy eie vulstasies gebou).

    3. Subsidie – Sasol kry al jare lank nie meer ‘n enkele sent subsidie nie. Eers as die ruoliepryse onder 16 US$ val, spring subsidies in werking. Maar hierdie potensiele subsidie sal moontlik in die toekoms wegval.

    • Riaan V

      Alles wat jy en Paul noem is baie waar, al wat my gatvol maak is die feit dat belastingbetalers SASOL totstand gebring het nou skep die aandeelhouers. Maar ja dis nie net SASOL nie Telkom is dieselfde.

    • Bril

      Sasol sou nie vir ewig ‘n staatsinstelling kon gebly het nie. Die staatsdiens kan nie so ‘n nywerheid bestuur nie, dis te kapitaalintensief en benodig hoogsgeskoolde personeel. Daar word gesê dat Sasol meer mense met doktorsgrade het as die hele Afrika suid van die Sahara. As dit soos Telkom, wat nou stadig in die grond in bestuur word, nog onder semi-staatsbeheer sou wees, en sou dit al lankal gevou het. Tenminste is dit een van die handjievol internasionale maatskappye wat Suid-Afrika het wat op gesonde grondslag bedryf word en ook nog uitbrei, en op internasionale grondslag kan meeding.

      As jy vat Yskor – ek ken ‘n bestuurder met ‘n MBA (ons het lank gelede saam Golden Products gesmous) in ons ouderdomsgroep en hy het vertel hoe korrup die Afrikaner topbestuur (baantjies vir boeties. Bekwame tegnici in die pad gesteek)was net voordat Mittal dit oorgevat het. Dit is skokkend om dit te hoor en jammer om te sê, maar dis werklikhede. Selfde by Saambou – die hof het die bestuur vrygespreek maar ek weet van ander korrupsie wat daar in die miljoene plaasgevind het en wat sommer net onder die mat ingevee is en nooit ooit in die lewe meer die kalklig sal haal nie, want al die getuie en ouditspore en rekenaars en personeel en getuies bestaan nie meer nie na al die jare (ek het ‘n rukkie daarso gewerk en dit gesien).

      Dieselfde die gedrag van sommige Afrikaanse bestuurderlui in die staatsdiens net voor 1994, dit was jammerlike en lafhartige patete met voete van klei wat op aandag gespring het as die minister gepraat het en op hulle voete geval het om die ANC gedienstig te wees toe dit oorgeneem het, ek het nog nooit in my lewe sulke vreesbevange en lafhartige direkteure in my lewe gesien nie – na bo gelek en die mense onder hulle getrap.

    • Anonymous

      Sasol is verkoop aan private aandeelhouers, dis nie weggegee nie. Die staat het dus geld gekry en daardie geld is weer deur die staat bestee “in plaas van” nog belastinggeld.
      Natuurlik is dit so dat mens nie altyd (nooit?) tevrede is met dit waarop die staat geld bestee nie, maar die beginsel staan.

      Telkom is ook nie juis dieselfde nie, aangesien die staat steeds tegnies die meerderheidsaandeelhouer is.

    • Anonymous

      Sasol produseer eintlik selfs meer as 40% van SA se brandstof – dit wissel van tyd tot tyd, soos produksievlakke wissel, maar dis baie, ja.
      Mense besef nie dat baie van die brandstof wat hulle by vulstasies met ander maatskappye se handelsmerke koop, eintlik ook van Sasol af kom nie.

      Dis wel nie korrek dat alle petrol in Gauteng en die noorde van Sasol af kom nie. Daar is ‘n groot pypleiding wat van die Natalse raffinaderye af kom tot in Gauteng, wat van daardie brandstof ook na Gauteng pomp om Sasol se Secunda en Natref-aanlegte se produksie aan te vul.

    • Bril

      “Dis wel nie korrek dat alle petrol in Gauteng en die noorde van Sasol af kom nie”.

      Stand 2002. Wat by die vulstasies afgelewer word.

    • Croc7777777

      Wanneer laas het die pyplyn ten volle gewerk. Dit neem 45 miljoen liter net om die pyplyn vol te maak. Ons het tans nie eers genoeg raffinadery kapasiteit om die pyp vol te maak nie! Dus hoekom daar so baie trokke op die pad is? Gaan kyk maar… Johann

    • Anonymous

      Die rede waarom daar so baie tenkvragmotors op die pad tussen Durban en Gauteng is, is juis omdat die pyplyn se volle kapasiteit gebruik word. Die bestaande lyn is wel reeds baie oud, en daarom word ‘n nuwe, veel groter, lyn tans gebou.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube