Talle Suid-Afrikaners is dikwels ontevrede daarmee dat die voertuigbrandstof wat Sasol uit steenkool en gas vervaardig, nie goedkoper is as die res van die brandstof wat uit ingevoerde ruolie vervaardig word nie. Sasol – eintlik Sasol se aandeelhouers – word erg daarvoor kwalik geneem dat hulle voordeel daaruit trek.
Daar is twee redes waarom Sasol se brandstof nie goedkoper is as ander brandstof nie, ondanks die feit dat Sasol se insetkoste per liter brandstof volgens alle aanduidings tans veel laer is as dié van maatskappye soos Shell, BP, Engen, Caltex en Total wat ingevoerde ruolie raffineer of klaarvervaardigde brandstof invoer.
Die eerste rede is dat dit teen die wet is om petrol te verkoop teen enige prys behalwe die kleinhandelprys wat maandeliks per streek vasgestel word. Selfs al wou Sasol dus petrol goedkoper verkoop, sou die wet dit verbied. Wat diesel betref, word slegs die groothandelprys deur die wet vasgestel – die kleinhandelsprys word nie vasgestel nie. Soos enige dieselgebruiker sal weet, verskil die dieselprys wel ietwat van vulstasie tot vulstasie. Daardie verskil is egter nooit baie groot nie – daarin lê reeds ʼn deel van die tweede rede waarom Sasol se brandstof nie goedkoper as die ander die maatskappye s’n is nie.
Veronderstel dat die prys van petrol nie gereguleer is nie en dat enigiemand petrol teen enige prys kon verkoop. Gestel nou dat die totale koste vir Sasol om petrol te produseer en dit aan ʼn verbruiker te lewer R8 per liter is, terwyl dit vir die ander maatskappye (wat ruolie of klaarvervaardigde petrol invoer) R10 per liter is. Slegs ʼn fraksie van Suid-Afrika se totale voertuigbrandstofbehoeftes kan deur Sasol voorsien word weens Sasol se beperkte produksiekapasiteit. Nou is die vraag: Is daar ʼn rede waarom Sasol hulle petrol teen R8 (plus ʼn klein winsgrens) sou wou verkoop, eerder as teen R10 (plus ʼn klein winsgrens) soos die ander maatskappye?
Die antwoord is nee. Teen ʼn prys van R10, dieselfde as ander maatskappye s’n, is Sasol gewaarborg dat hulle totale produksie uitverkoop sal word. Dit is nie nodig om ʼn laer prys te vra om klante te lok om brandstof verkoop te kry nie.
ʼn Praktiese voorbeeld met ʼn ander produk kan dié beginsel verder verhelder. Gestel jy koop twee gebruikte voertuie op ʼn veiling teen R80 000 elk, terwyl die normale tweedehandse prys vir sulke voertuie eintlik R100 000 elk is. Jy adverteer hierdie twee voertuie teen R100 000 elk en kry twee reaksies: Die een is ʼn voornemende koper wat bereid is om die volle geadverteerde prys te betaal vir beide voertuie en wat aandui dat hy nog drie vriende het wat ook sulke voertuie by jou sou gekoop het teen daardie prys indien nog voertuie beskikbaar was. Die ander reaksie is van iemand wat net een van die voertuie wil koop en slegs R90 000 daarvoor aanbied. Wat staan jou te doen? Teen die algemene markprys is daar ʼn vraag wat jou voorraad van twee voertuie vêr oorskry. As jy die voertuie aan die eerste voornemende koper verkoop, kan jy albei verkoop en R40 000 wins maak. Jou ander opsie is om een voertuig vir R100 000 te verkoop en ʼn ander vir R90 000 en slegs R30 000 wins te maak. Watter opsie sou jy kies?
Soos met die voorbeeld hierbo is daar ook geen rede vir Sasol om ʼn beduidend laer prys te vra as die ander maatskappye nie, selfs al het die wet dit toegelaat. (ʼn Klein prysverskil, soos met diesel op die oomblik, sou wel kon voorkom, maar slegs as ʼn manier om mense na die ekstra dienste by ʼn vulstasie te lok. Dit is vulstasie-eienaars wat hieroor besluit, nie Sasol nie.)
Gestel egter dat Sasol wel om een of ander duistere rede besluit om hul petrol eerder teen R8 per liter te verkoop, ten spyte daarvan dat hulle wins as gevolg daarvan skerp sal daal. Elke keer as ʼn tenkwa nog petrol kom aflewer, sal verbruikers om die blok toustaan by die Sasol-vulstasies vir die goedkoop petrol, totdat dit op is. ʼn Verdere mark sal dan ontstaan vir die Sasol-petrol wat herverkoop word teen ʼn hoër prys, naastenby ekwivalent aan die ander maatskappye se prys van R10. Al wat dus op die ou end sal gebeur, is dat Sasol ʼn klomp wins verloor, wat grootliks oorgedra sal word aan herverkopers.
Dit is eintlik verbasend hoe daar elke maand so woedend teen Sasol uitgevaar word omdat hulle ʼn plaaslike produk teen dieselfde prys as ʼn ingevoerde produk verkoop. By ander produkte en maatskappye word die woede gewoonlik vir die invoerder gereserveer. Klink so iets bekend? “Hoe durf ʼn maatskappy tuinstoele uit China hier in Suid-Afrika teen ʼn laer prys verkoop as wat die plaaslike vervaardigers se pryse is!? Hulle maak ons plaaslike industrie dood! Die regering moet dit stopsit met ʼn wet en ʼn kwota vir invoere afdwing!”
Aan die een kant word ʼn plaaslike maatskappy (Sasol) aangeval oor hoë pryse, maar terselfdertyd word ander plaaslike maatskappye in der waarheid geprys daarvoor dat hulle hoë pryse vra. Hierdie twee houdings is totaal onversoenbaar met mekaar, maar word tog gelyktydig gehuldig deur talle mense.
Die oplossing vir ontevredenheid oor tydperke wanneer Sasol se aandeelhouers ʼn groot wins “ten koste van die verbruiker” maak, is eintlik baie maklik: Word self ʼn Sasol-aandeelhouer. Koop ʼn klompie Sasol-aandele en gebruik die dividende wat uitbetaal word om brandstof mee te koop wanneer die pryse hoog is.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.