My gunsteling artikel in die vierde uitgawe van die Solidariteit Tydskrif was Stilwo(o)rd deur Marietha Malan:
Ons voete knars op die kerkpaadjie op pad na die hekkie. Op die sypaadjie dwarrel die wind droë blare rond. Die kerkklok slaan een maal hard, finaal. Ek kyk op na die kerktoring; verwag half dat die uur iets dramaties soos halftwaalf gaan wees – maar nee, dis maar net halftwee. Halftwee op ʼn gewone Woensdagmiddag; die lewe gaan voort, ons moet huis toe. Die begrafnis is verby.
Begrafnis.
Die woord voel so heeltemal uit pas met ʼn jong lewe. Sokkie, gradeplegtigheid, verjaarsdag, toets – dis almal tog woorde wat eerder sinoniem is met die lewe van ʼn jong seun; nee, ʼn jong man op universiteit. En was hy nie pragtig nie! In die kerk het ek gesit en blaai deur die foto-collage in die begrafnisbrief. Gelukkig dat ek by voorbaat ʼn stewige voorraad snesies in my baadjiesak gesteek het, want die trane het onwillekeurig gerol toe ek na die foto’s kyk. Die blonde seuntjie met die diepblou ogies. Saam met sussie Jolani. Fris matriekseun met wit hemp en skooldas. Matriekafskeid-foto. Laggend saam met maats in lawwe situasies; duidelik besig om die lewe te geniet. Foto’s so pynlik soortgelyk aan my eie seun se foto’s wat hy so gereeld op die rekenaar vir my wys. Kyk Ma, dit is nou so en so. Hier het ons so gelag, want… Sien Ma daardie ou, hy is in ons gang…
Daar is boodskappies ook in die begrafnisbrief. Hulle veroorsaak so ʼn aanslag op my snesie-voorraad dat ek hulle nie klaar kan lees nie. Die eerste een is van sy beste vriend. Ek kom net by die eerste sin uit: “Hey ou, hoe kan jy my alleen los…” begin dit. Ek maak die begrafnisbriefie liewer toe, en sien Ria (sy ma) sʼn: “Seuna”, begin dit, “Gelukkig het ek en jy ons prate gepraat toe jy nog gelewe het.” Verder as dit kry ek ook nie gelees nie.
Klik hier om die res van die artikel te lees
Geen verwante artikels nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.