Die jongste statistieke toon dat die herstel in die Amerikaanse motormark oor die afgelope paar maande feitlik uitsluitlik deur die regering se “cash for clunkers”-skema (amptelike naam: Car Allowance Rebate System) gedryf is. Dit het behels dat die Amerikaanse regering gemiddeld $4 170 van ʼn nuwe, brandstofdoeltreffende voertuig se koopprys subsidieer indien die koper daarvan ʼn ou voertuig laat vernietig by ʼn skrootwerf. Dit is gedoen om die motorbedryf te stimuleer, onder die voorwendsel dat dit terselfdertyd ʼn “groen” skema is. Die “groen” deel daarvan is debatteerbaar, aangesien verskeie bronne aandui dat dit meer skade aan die omgewing aanrig om ʼn voertuig te skrap en ʼn nuwe in die plek daarvan te produseer as die skade wat die ou voertuig ooit deur sy hoër brandstofverbruik sou aanrig.
Amerikaanse motorverkope word in die vorm van seisoenaangepaste, geannualiseerde syfers vrygestel. Let daarop dat dié syfers nie aandui hoeveel voertuie elke maand verkoop word nie. Wat dit wel toon, is hoeveel voertuie in ʼn jaar verkoop sou word indien die verkoopsvolume vir ʼn spesifieke maand volgehou word vir ʼn hele jaar. Die koers van verandering in voertuigverkope word dus hier gegee, nie die absolute syfers nie.
Amerikaanse motorverkope het sedert Februarie se laagtepunt redelik stabiel gebly en in die vier maande tot Junie slegs met 6% geklim. Toe die “cash for clunkers”-skema egter in Julie in werking getree het, het verkope in een maand met ʼn verdere 16% opgeskiet en in Augustus met nóg 25%! Augustus 2009 se vlakke was selfs ietwat beter as dié van ʼn jaar gelede (voor die kredietkrisis) – iets wat op die oomblik ongehoord is onder die meeste statistieke.
Onder normale omstandighede sou hierdie syfers daarop dui dat die Amerikaanse verbruiker weer terug is by sy ou koopgewoontes. Ongelukkig breek die einde van die “cash for clunkers”-skema toe aan en motorverkope in die VSA tref ʼn baksteenmuur in September met ʼn 35%-daling terug tot skaars bokant Februarie se vlakke.
In Europa is sommige van die soortgelyke skemas steeds aan die gang, wat die vraag na voertuie steeds kunsmatig stimuleer. Hierdie skemas gee natuurlik die platinumprys ʼn hupstoot, wat Suid-Afrika se ekonomie bevoordeel. Direkte uitvoere van motors en komponente bevoordeel ook ons vervaardigers. Volkswagen, wat die brandstofdoeltreffende Polo in die Oos-Kaap vervaardig, is een van die groot begunstigdes as gevolg van Duitsland en Brittanje se skemas. Die vraag is egter wat gaan gebeur wanneer die Europese skemas ook ten einde loop teen die begin van 2010. Heelwat van die 690 114 Amerikaners wat nou ʼn nuwe motor onder die skrappingskemas gekoop het, sou in elk geval in die komende maande ʼn nuwe voertuig gekoop het. Dieselfde sal geld vir die Europeërs. Die toekomstige verkope is nou, as gevolg van die skemas, alles in ʼn paar maande ingeprop. Dit help die voertuigvervaardigers wel deur moeilike tye, maar as verkope weer alle stoom verloor nadat die skemas toekomstige maande se verkope ingesluk het, is die moeilike tye maar net tot later uitgestel.
Soos almal weet, is daar egter geen aansporingsprogram vir verbruikers in Suid-Afrika nie. Ons eie voertuigverkope het ten spyte daarvan darem in September die eerste tekens van herstel getoon, met ʼn toename van 6% teenoor Augustus se syfers. Plaaslike verkope is egter steeds 20% laer as September verlede jaar, terwyl uitvoervolumes steeds slegs die helfte is van wat dit verlede jaar was. In Suid-Afrika kan ons egter weet dat wanneer die data ʼn draaipunt aandui, dit ʼn ware draaipunt is en nie slegs die gevolg van gesubsidieerde pryse nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.