Voorstellings van data kan mislei

Daar is twee vrae wat ʼn mens altyd moet vra wanneer syfers oor persentasieveranderings of grafieke wat stygings of dalings in veranderlikes aantoon, beskou word. Die eerste vraag is: “Waarom is die spesifieke beginpunt in die datareeks gekies?” Die tweede vraag is: “Waarom is die spesifieke skaal vir die grafiek gekies?” Dit is baie maklik om die voorstelling van data met hierdie twee metodes te manipuleer.

ʼn Datastel met ʼn stygende tendens kan, deur eenvoudig die beginpunt van die meting te skuif, soos ʼn daling vermom word. Die petrolprys in Suid-Afrika toon byvoorbeeld ʼn merkbare stygende tendens oor die afgelope paar dekades (dit behoort nie nuus te wees vir enigiemand nie!). Van Januarie 2005 tot Julie 2010 het die prys van 93-oktaan-petrol in Gauteng met 92% gestyg. Indien die beginpunt van die meting vier maande aangeskuif word na Mei 2005 was die styging slegs 52%. Skuif dit nog vyf maande vorentoe (na Oktober 2005) en die styging was slegs 35%. Skuif dit nou drie maande vorentoe (na Januarie 2006) en die styging spring tot 52%. Indien die beginpunt ʼn paar jaar aangeskuif word tot Julie 2008, was daar tot op hede weer ʼn daling van 23% gewees!

Hierdie goëlery met beginpunte kom dikwels ook by die wisselkoers voor. Die volgende paar sinne is almal feitelik korrek, maar dit hang van die agenda van die skrywer af watter een in gebruik sal word:
“Sedert Januarie 2002 het die rand met sowat 34% versterk teenoor die dollar.”
“Sedert Januarie 2005 het die rand met sowat 28% verswak teenoor die dollar.”
“Sedert Januarie 2006 het die rand met sowat 25% verswak teenoor die dollar.”
“Sedert Januarie 2007 het die rand met sowat 6% verswak teenoor die dollar.”
“Sedert Januarie 2008 het die rand met sowat 9% verswak teenoor die dollar.”
“Sedert Junie 2008 was daar geen verandering in die rand se vlak teenoor die dollar nie.”
“Sedert Januarie 2009 het die rand met sowat 23% versterk teenoor die dollar.”
“Sedert Januarie 2010 het die rand met sowat 2% verswak teenoor die dollar.”
So kan ʼn mens aangaan. Elkeen van die sinne skets ʼn ander prentjie – sommige een van bestendigheid, sommige van ʼn groot verswakking en sommige van ʼn groot versterking in die rand. Wees dus altyd bedag op hierdie eenvoudige manier om die voorstelling van data te manipuleer om by ʼn spesifieke agenda te pas.

Die tweede kwessie, naamlik die skaal van ʼn grafiek, kan ook met ʼn voorbeeld geïllustreer word. Die bygaande twee grafieke bevat albei presies dieselfde data. Die een het ʼn skaal van 0% tot 100% en daarop lyk dit of die verandering tussen die twee kwartale onbenullig was. Die ander grafiek het ʼn skaal van 30% tot 33% en daarop lyk die verandering tussen die twee kwartale weer reusagtig.
.

Grafiek 1

.

Grafiek 2

Dit is dus baie belangrik om altyd noukeurig te let op die skaal van ʼn grafiek voordat ʼn oordeel op grond daarvan gemaak word. ʼn Swakkerige vertoning van ʼn beleggingsmaatskappy se portefeulje kan maklik soos ʼn skerp styging opgetooi word deur eenvoudig die skaal van die grafiek aan te pas.

Iemand wat altyd hierdie twee lesse in gedagte hou wanneer daar met persentasies en grafieke omgegaan word, sal nie deur ‘kreatiewe’ datavoorstelling mislei kan word nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube