Die media berig vir die afgelope paar maande dikwels dat laer druk vanaf voedselpryse besig is om laer inflasie teweeg te bring. Die manier waarop hierdie verskynsel bespreek word laat dit dikwels klink asof voedselpryse besig is om te daal. Dis is egter nie waar nie. Net omdat voedselinflasie minder as voorheen bydra tot die totale verbruikersprysindeks se styging beteken nie dat voedselpryse daal nie.
Gedurende 2009 het voedselpryse slegs in Junie en Julie gemiddeld gedaal, onderskeidelik met 0,3% en 0,4%. Gedurende al die ander maande het voedselpryse gestyg – soveel so dat gemiddelde voedselpryse volgens StatsSA steeds 1,9% hoër was in Oktober as in Januarie (en 3,7% hoër as in Desember 2008). Die ekwivalente syfer vir verlede jaar (die styging vanaf Januarie tot Oktober 2008) was 11,9%. Hierdie jaar se styging is dus weliswaar nie so groot soos verlede jaar s’n nie, maar dit is steeds ʼn styging.
Wanneer ʼn geweegde mandjie van basiese voedselsoorte se pryse (soos deur StatsSA ingesamel by sowat 800 verskillende winkels landswyd) ontleed word, word ʼn soortgelyke tendens waargeneem. Die basiese mandjie se prys is steeds 1,7% hoër as wat dit in Januarie was, terwyl dieselfde syfer vir verlede jaar gelyk was aan 17,8%. Die beduidende verskil kom in wanneer die tydperk verleng word na die verskil tussen Oktober 2009 en Januarie 2008. Waar die volle, amptelike voedselprysindeks nou sowat 18% hoër is as wat dit in Januarie 2008 was, is die basiese mandjie se prys ʼn volle 28% hoër!
Die verminderde druk van voedselpryse op verbruikersprysinflasie beteken definitief nie verminderde druk op die verbruiker nie.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.