Vinkel en koljander

Hulle was blykbaar soos vinkel en koljander, soos twee broers, moes ek gisteraand om die braaivleisvuur hoor. ‘n Nuwe vriend vertel gisteraand hoe hy moes toekyk hoe sy beste vriend sowat agt jaar gelede voor sy eie oë in ‘n plaasaanval geskiet is en oomblikke daarna in sy arms gesterf het. “My vriend het die vroeg die dag die heeltyd gesê dat iets fout is,” het hy vertel. “En toe ons by die huis kom het hy om die huis gestap en sekergemaak dat alles reg is, binne die huis het hy deur elke kamer geloop, behalwe een kamer – sy suster s’n.” 

Dit was blykbaar hier waar ‘n groep rowers weggekruip het, want oomblike later is hy en sy vriend oorval. Sy vriend is in die gesig geskiet en die een rower het ook die geweer op hom gerig, maar geen skoot het afgegaan nie. Hy het toe die vroue wat daar was op ‘n veilige plek gaan toemaak, in die bakkie gespring en in die proses een rower doodgery. Steeds is daar op die kar geskiet en die een skoot het hom rakelings gemis. Hy is daar weg om hulp te kry… maar dit was te laat, want sy vriend se wonde was noodlottig.

Gisteraand voor ek gaan slaap, gaan ek weer deur die lys van plaasaanvalle wat ‘n paar weke terug op Dirk Hermann se radioprogram op Solidariteit Radio voorgelees is. En sy naam was daar. Hy was net 27 jaar oud.

En al wat nou oor is, is koljander sonder sy broer – en koljander is bitter.

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube