Venster op Europa

Dit is die jaar 1980. Oom Koos in Pofadder ontvang een oggend nie sy koerant nie. Later die oggend stap hy twee strate ver na die kantoor van die plaaslike koerant om ʼn koerant te kry sodat hy sy geliefde sportbylae kan lees.

Dit is die jaar 2010. Oom Koos ontvang eendag nie sy koerant nie. Hy bel die kliëntediens se nommer. Hy moet ná ʼn eindelose reeks instruksies “2” druk en maak nooit kontak met ʼn mens van vlees en bloed nie en kry trouens ook nooit sy koerant nie. Oom Koos het verstrik geraak in ʼn Kafka-agtige wêreld.

Regoor die wêreld is daar miljoene Oom Kose – en voordat iemand my nou beskuldig van ʼn nostalgiese geweeklaag, dit is ʼn feit dat die kommunikasierevolusie van die laaste 25 jaar die manier waarop ons kommunikeer fundamenteel verander het. In ʼn goeie én slegte sin. Vandag se wêreldburger kan die hele dag uitgebreide kontakte onderhou, van oraloor belangrike inligting vergaar en al sy take afhandel sonder om met ʼn enkele mens te praat. Hy betaal vir sy inkopies sonder om een woord te praat. Hy doen sy banksake via die internet. Hy leef hom in die wel en wee van die karakters in sy geliefde TV-sepie in, maar hulle kan nie met hom praat nie. Hy kan ongeremd sy mening verkondig via blogs of Twitter, maar lei dit alles ooit tot ʼn regte gesprek of debat, of tot werklike menslike kontak? Kan dit wees dat die stortvloed van kommunikasie en inligting juis in die bevrediging van hierdie fundamentele behoefte tekort skiet?

In ʼn Nederlandse koerant het ʼn taalwetenskaplike, Rik Smits, ’n verband gelê tussen die agteruitgang van die sosiale lewe en die opkoms van nasionalistiese en populistiese bewegings dwarsoor die wêreld. Die sogenaamde swaai na regs in baie Europese lande, die strewe na groter outonomie deur minderheidsgroepe – soos die Baske in Spanje en die Skotte in Groot-Brittanje – en ʼn afkeur van immigrante wat sekere lande binnestroom, word volgens hom onder meer veroorsaak deur ʼn algemene en dikwels vae gevoel van angs en onsekerheid oor die samelewing en ʼn ontevredenheid oor politieke leiers.

Die fundamentele oorsaak hiervan is ontoereikende sosiale kommunikasie. Die gewone burger word deur ʼn toemenend rasionaliserende private sektor en owerheid gereduseer tot ʼn anonieme en gesiglose verbruiker van produkte. Daardie burger wil deel wees van iets wat hy kan herken en wat hom duidelikheid verskaf oor sy plek binne sy samelewing. Hy wil klets met die winkelier op die hoek en met sy bure. Hy wil sy sokkerhelde met ʼn oranje vuvuzela aanpor en saam met landsgenote sy koningin toejuig. Hy soek sekerheid en verlang na die terugkeer van die menslike maat. En as hy hierdie dinge nie kry nie, word hy angstig en kwaad en stem vir politici soos Geert Wilders van de Partij voor de Vrijheid, of vir die Skotse of Vlaamse nasionaliste. Of hy besoek byeenkomste van die regse Tea Party in Amerika.

So lank as wat die samehang van die samelewing verder verbrokkel, sal die Geert Wilderse van hierdie wêreld soos ʼn dreigende fantoom bo die gevestigde politiek bly hang.

Verwante artikels:

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Moira

    Venster op Europa word elke week ook op Solidariteit Radio uitgesaai. Luister Woensdae om 12:00. Luister hier na vorige insetsels http://www.solidariteitradio.co.za/?cat=76

  • Marionade

    Dáái is die spyker op die kop geslaan en om by jou aan te sluit, die volgende: ordentlike mense het nie meer draad vir politiek nie. Vandag se politieke figure kom uit gister se smetpoel. Dit neig (of so lyk dit vir my) na ‘n situasie waar die gewone, ordentlike, billike man sê “ag nee-wat, ek sal maar so op my eie rondom die politiekery probeer werk en regkom; laat hulle maar aangaan soos hulle aangaan”. Dit is natuurlik ‘n lékker kookpot vir konflik tussen Jan Publiek en bv. die politiek-besmette munisipale amptenary wat ons hier het, maar laat dit dan so wees.

  • Ferdi

    Prof Johan Degenaar het gese die nasionale staat word gelyktydig van bo en onder verwater. Van bo af deur globalisering, van onder af deur desentralisering, gedryf deur die tegnologiese rewolusie, aandrang van gemeenskappe op seggenskap in sake wat hulle raak.

    Dit is nie noodwendig negatiewe verskynsels nie. Hoekom moet onkundiges soos Zuma en Malema wat op nasionale vlak mag het oor alles besluit, en die goed opgeleide ouers by ‘n plaaslike skool het geen inspraak in die bestuur daarvan nie?

  • Gert

    Stem 100% saam!

  • Marionade

    Fantasties! :)




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube