Op Donderdag, 22 Julie het die Internasionale Geregshof in Den Haag ʼn noemenswaardige uitspraak gelewer. Die hof het verklaar dat die eensydige onafhanklikheidsverklaring van die voormalige Serwiese provinsie Kosovo in 2008 nie strydig met die volkereg was nie en derhalwe wettig was. Daar was juigende reaksies van die Kosovare en woede onder die Serwiërs, wat nou ʼn deel van hul land verloor. Serwië het immers hul saak gegrond op die argument dat daardie onafhanklikheidsverklaring hul “territoriale integriteit” aangetas het. En dit maak die uitspraak vir die res van die wêreld so belangrik. Want elke beweging wat vir onafhanklikheid stry, sal hom tans gesterk voel in daardie strewe.
Dink net aan die gevolge! Neem byvoorbeeld die suidooste van Europa, bekend as die Balkan, asook die hele gebied ten ooste en suidooste daarvan. Vanaf die weste van China via Sentraal-Asië en die Kaukasus en dele van die Midde-Ooste en dan weer terug na die Balkan lê ʼn reusagtige gebied vol gefrustreerde minderhede en ou twiste wat opgelos moet word. Hier bots Moslems met die kommunistiese China of die Russiese Republiek asook met Christelike bevolkingsgroepe.
In die Balkan bots twee weergawes van die Christendom – die Rooms-Katolieke en die Russies-Ortodokse geloof – al eeue lank met die Islam. Bogenoemde botsings word dan weer vermeng met baie ou etniese konflikte en met die voortdurende inmenging deur die omringende groot magte. Rusland en China, wat albei aansienlike en talryke minderhede binne hul grense huisves, het hulle byvoorbeeld onmiddellik agter Serwië geskaar toe laasgenoemde ʼn veldtog teen die hofuitspraak geloods het.
Hierdie gebied is soos ʼn kruitvat: een vuurhoutjie is genoeg om hom te laat ontplof.
En dink verder aan die Baske in Spanje, die Iere in Noord-Ierland of Indiaanse minderhede in Suid-Amerika en ja, die Afrikaners in Suid-Afrika.
Maar nou moet ʼn mens die uitspraak sorgvuldig lees. Dit sê net dat die onafhanklikheidsverklaring van Kosovo geen enkele bepaling van die volkereg oortree het nie. Met ander woorde, die volkereg het niks te sê oor so ’n optrede nie, en dus ook nie oor die praktiese situasie van elke afsonderlike minderheid nie.
In lande soos Suid-Afrika waar ʼn mengelmoes volke deurmekaar woon en geen aaneengeslote gebiedsruimte het nie, is onafhanklikheid eenvoudig onprakties en onmoontlik, en ook dikwels onwenslik.
In Kosovo is die grootste deel van die bevolking Albanees en hulle woon almal in een gebied, en dus was afskeiding ʼn praktiese moontlikheid. Maar met ʼn swak ekonomie en baie korrupsie sal dit nog moeilik genoeg wees.
Selfs in ʼn welvarende gebied soos Vlaandere – die Nederlandssprekende deel van België – waar ʼn deel van die bevolking na onafhanklikheid streef, sal afskeiding tot groot probleme lei. Wat moet byvoorbeeld gedoen word met die hoofstad, Brussel, wat Franstalig is, maar omring word deur Nederlandstalige munisipaliteite?
De Volkskrant skryf tereg in ʼn hoofartikel dat die uitspraak goeie nuus was vir Kosovo, maar slegte nuus vir die wêreld. Want daardie wêreld het skielik baie onveiliger geword.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.