Van Egipte na Kanaän: Moses as gevallestudie in leierskap

Die Bybelse verhaal van Moses is seker een van die beste gevallestudies van leierskap en roepingsgehoorsaamheid in die Bybel. Moses het die Israeliete uit die slawehuis van Egipte na die beloofde land gelei, in die moeilikste omstandighede denkbaar.

In Handelinge 7 deel Stefanus in sy toespraak voor sy steniging Moses se lewe in drie tydperke van veertig jaar in. Die eerste tydperk was sy grootwordjare en “teoretiese studie”, die tweede tydperk sy “prakties” waar hy in die wildernis moes gaan leer, gevolg deur sy eintlike taak om die volk deur die woestyn te lei. Moses is by uitstek dié roepingsgehoorsame leier, wat sy roeping as ʼn opdrag van God ervaar, en wat teen alle werklikhede rondom hom sy opdrag roepingsgetrou uitvoer.

1. Teoretiese studie: Die eerste veertig jaar

Die Israeliete bly sedert Josef se dae in Egipte. Waar Josef vroeër onderkoning was, is hulle nou ʼn verdrukte slawevolk. In die pragtige ou Bybeltaal uitgedruk, “kom hulle geroep tot God se ore”, en Hy wil hulle red. Hy red nie met ʼn “onnatuurlike” wonderwerk nie, maar deur ʼn mens. God se raadsplan en sy almag werk en vloei deur die roepings van gewone mense.

Gód red; dis nie die mens Moses wat red met God wat hom net help nie. Dis God wat sy almag deur die roeping van ʼn gewone mens tot uitvoer bring. God is ook God oor die geskiedenis, en plooi dit so dat Moses aan die beste universiteit van daardie tyd opgelei word, al is dit die vyand s’n. Hy studeer nie net as gewone student nie; nee, as ʼn prins word hy voorberei vir sy roeping aan die hof van die Farao. Ná sy opleiding wil hy sy mense begin help, en slaan ʼn Egiptenaar dood wat een van sy volksgenote aanrand. Die vraag is nou: Het sy tyd as leier aangebreek? Nee, sy volk wil nie verstaan dat die Here hulle deur sy hand wil red nie (Handelinge 7:25). Die Israeliet sê: “Wil jy my ook doodslaan soos die Egiptenaar?” Israel het ook hulle harte verhard. Moses moet vlug sodat hy sy “prakties” kan gaan doen.

Hoekom? Die redding kon soveel gouer gebeur het, maar mense verander nie so maklik nie. Die vleispotte is te lekker, en ʼn redding wat te vinnig gebeur sal hulle laat terugdraai uit die swaarkry in die woestyn. Die Israeliete se probleem is slawerny; hulle sien nie die groter prentjie nie. God se plan is dat hulle in die beloofde land moet gaan bly en dat hulle suiwer geloof nie moes vermeng met heidense gelowe nie, sodat hulle God se volk kan bly en sodat Christus op dié beloftegrond die wêreld kon red. Hoekom die verdrukking? Miskien is die swaarkry in dié wêreld soms nodig om ons te laat smag na God se oplossing.

2. Die praktiese studie: Die tweede veertig jaar

Moses was ʼn bederfde prins en moes in die universiteit van die praktyk gaan ervaring opdoen, anders sou hy nooit die volk deur die woestyn kon lei nie.
Hy bereik nie baie hoë sporte hier soos Abraham, Isak en Jakob wat miljoenêrs word nie; hy bly maar ʼn skaapwagter. Hy word ook nie ʼn onderkoning soos Josef nie. Maar moes dit veertig jaar wees? Kon hy nie gouer geleer het en die volk gouer verlos het nie? Niemand weet nie. Psalm 105 meld dat Josef vir drie jaar in die tronk gebly het, totdat hy die toets deurstaan het. Ons is nie net passiewe objekte in sy raadsplan nie; ons is aktiewe deelnemers, en kan God se plan versnel of terughou met ons

geloofsgroei en gehoorsaamheid. Ons is in ons roepings die medewerkers van God, nie die slagoffers van die geskiedenis nie.

In Eksodus 3 word die besondere roeping van Moses beskryf. Toe God hom roep, is sy reaksie eers dat hy nie mag nie. Daarna sê hy dat hy nie kan nie. Laastens pleit hy dat hy nie wil nie. God verander egter nie van besluit nie, en stuur Aäron saam met Moses om namens hom te praat. Hierdie keer aanvaar die volk sy leiding. Ná veertig meer jare van slawerny is al hulle ou planne en alternatiewe seker al op.

3. Die derde veertig jaar: Moses voer sy opdrag uit

Moses se roeping en opdrag was heeltemal teen die bestaande werklikheid. Daar was seker baie twyfelende realiste onder die Israeliete. Hulle het sekerlik hulle eie onmag as ongewapende slawe met die supermoondheidstatus van die destydse Egiptenare vergelyk. Die plae was vir die volk net so nodig om in God te glo as vir die Farao. Maar ná die aanvanklike opgewondenheid oor die nuwe leier en sy beloftes draai die volk gou teen hom toe die Farao sê hulle moet self strooi gaan kry en stene maak (Eks. 5).

Die bekendheid en genot van Egipte se vleispotte is sterk vashoufaktore wat die volk telkens wil laat terugdraai. Hulle verwyt Moses gereeld, en verlang gedurig na Egipte. Hulle wou teruggaan met die eerste teenstand, maar die wonderwerk by die Rooisee het die verlede afgesny. Hulle kón nie weer terug nie want die see het oor die Egiptenare en agter die Israeliete toegegaan.

ʼn Slawegeslag kon nie ʼn nuwe land opbou nie. Daarvoor was ʼn nuwe volk nodig – ʼn ware pioniersvolk wat gebrei was deur die swaarkry in ʼn woestyn. ʼn Nuwe volk word dus in die woestyn gekweek, met ʼn nuwe waardestelsel wat deur God met die tien gebooie op die berg Sinai ingestel is. Daar is ook nuwe leiers wat ná die raad van sy skoonpa aangewys word. Leiersontwikkeling is orals noodsaaklik.

As alles nie vernuwe het nie, het die volk deur die woestyn getrek net om weer in ʼn ander “Egipte” aan te kom as dieselfde mense! Die swaarkry in die woestyn was dus nodig om ʼn “nuwe” volk te kweek, want ʼn slawevolk kon nie ʼn land opbou nie. Die volk het hulle “harte verhard” en wou nie verander nie. Dus het ʼn reis wat normaalweg seker drie maande sou duur uiteindelik 40 jaar geneem!

Opstande

Moses het God geken en sy opdragte uitgevoer, maar dit vrywaar hom nie van smart en swaarkry nie. In plaas daarvan dat hy die volk lei, ly hy onder hulle ongehoorsaamheid, en as gevolg daarvan mag hy self nie die beloofde land binnegaan nie. Daar is talle opstande teen Moses se leierskap, en in Numeri 11 verwyt hy God vir sy swaar taak, en vra om eerder te sterf omdat dit vir hom te ondraaglik geword het.

Uiteindelik kom hulle by die beloofde land! Maar, die volk glo dit nie en wil nie God se belofte hê nie. Hulle wil eerder ʼn nuwe leier kies en teruggaan na Egipte. Hulle verkies dus die veiligheid van slawerny bo die onsekerheid van die vryheid wat voorlê. Hulle glo die werklikheid van die meerderheidsverslag, eerder as God se beloftes. Deur hulle ongeloof stel hulle die vervulling van God se belofte uit, en verloor hulle self die belofte – hulle word uitdruklik daarvan uitgesluit! Die sondige slawegeslag sterf in die woestyn uit, en ʼn

“ander” nuwe volk sou Kanaän binnetrek – ʼn volk wat God se opdragte sou gehoorsaam en ʼn nuwe land in besit sou neem en sou opbou vir die dag wat Christus sou kom.

Maar, nuwe vaardighede was nodig om die nuwe land in besit te neem. Moses se ondervinding was nou verouderd. ʼn Nuwe taak het gewag. Nie net ʼn nuwe volk nie, maar ook ʼn nuwe leier was nou nodig. Roeping word deur tyd en plek en omstandigheid bepaal. Josua neem oor as leier – ʼn nuwe volk met ʼn nuwe leier. Die eerste toets kom dadelik: twee verspieders word uitgestuur na Jerigo. Niks het verander in Kanaän nie; daar is steeds groot reuse en sterk stede. Maar genadiglik slaag die (nuwe) volk met vlieënde vaandels, en hulle wil dadelik trek. “Wees u maar net sterk en vasberade,” sê hulle vir Josua. (Josua 1).

God het deur Moses die volk uitgelei uit die slawehuis van Egipte, en hulle deur die woestyn gelei. Josua het die nuwe volk íngelei. Israel is herskep, van slawevolk na nuwe pioniersvolk. Vanaf slawe van die sonde na die volk van God.

Moses se liefde vir sy mense word tot aan die einde nie beantwoord nie. Ten spyte van s‎ý roepingsgehoorsaamheid, ly hy onder hulle ongehoorsaamheid, en kan hy sy roeping eindelik op aarde nie voltooi sien deur self in die beloofde land in te gaan nie. Maar die Here het hom self die land gewys en hom begrawe voordat hy saam met God in die ewige Kanaän opgeneem is. God se doel was baie groter as die beloofde land alleen. Sy Seun sou uiteindelik in Israel gebore word sodat gelowiges oor die hele wêreld gered kon word.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Lindie van Zyl

    Dankie Flip, vir ‘n baie insiggewende stuk! Dit laat mens diep nadink en ek het weer eens besef ek is in my eie lewe besig om God se plan terug te hou met my gebrek aan geloofsgroei

  • Henry Barnes

    Dankie vir die stuk geskiedenis, maar jou punt van bespreking is wat? Gee jy dit nou voor omrede die blanke stadig besig is om ook in verdrukking te verval? Indien wel sal net ons geloof in God ons kan red deur gehoorsaam aan Sy woord en wet te wees.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube