Bladsy 3 van 3123

Sleutelwoord Argief vir 'resessie'Bladsy 3 van 3

SARB se aanwysers gee hoop

Die jongste vrystelling van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se saamgestelde ekonomiese aanwysers skets ʼn redelik rooskleurige vooruitsig. Die leidende aanwyser het ʼn definitiewe onderste draaipunt gehad in die omgewing van Maart vanjaar. Die daaropvolgende styging was eers tentatief, maar het in die drie maande tot en met Augustus baie momentum opgetel. Die samelopende aanwyser van die SARB het in die jongste beskikbare maand (Julie) ook vir die eerste keer in presies 12 maande ʼn klein styging getoon.

SARB aanwysers

SARB aanwysers

Die SARB se leidende aanwyser is ʼn indeks wat saamgestel word uit verskeie datareekse van ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik vroeër as die werklike ekonomie styg of daal. Die samelopende aanwyser is weer ʼn indeks wat saamgestel word uit ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik saam met die werklike ekonomiese siklus styg of daal. Daar is ook ʼn sloerende aanwyser, maar dit is uiteraard nie van belang indien ʼn mens wil bepaal hoe ekonomiese vooruitsigte lyk nie.

Die leidende aanwyser toon histories ʼn boonste draaipunt sowat sewe maande voordat die samelopende aanwyser (en dus ook die werklike ekonomie) ʼn afswaai beleef. Die verspreiding rondom hierdie gemiddelde is egter redelik breed – van so min as twee maande tot soveel as 15 maande. Die leidende aanwyser het egter die afgelope resessie met presies die gemiddelde sewe maande vooruitgeloop.
Lees verder ‘SARB se aanwysers gee hoop’

“Double dip” vir engiemand?

Nee, dit is nie ʼn uitnodiging om roomys te gaan eet nie! Die begrip “double dip” verwys na die moontlikheid van ʼn tweede afswaaiperiode kort nadat die ekonomie ʼn groeiperiode binnegegaan het.

In geheel het die wêreldekonomie gemiddeld in die tweede kwartaal van 2009 van inkrimping na groei omgeswaai. Hierdie groei was in vele lande merkwaardig skerp, met die grafieke wat in die vorm van ʼn V geteken word, eerder as ʼn U of ʼn L.

Suid-Afrika, tesame met ʼn hele paar ander lande, was in die tweede kwartaal egter nog nie by die draaipunt gewees nie, maar ons sal na alle aanduidings op die laatste in die vierde kwartaal weer by die groeiers aansluit.

Daar is egter nou wêreldwye bekommernis oor watter vorm hierdie groeitydperk oor die langtermyn gaan inneem en hoe volhoubaar dit sal wees. Aan die een kant bestaan die potensiaal vir goeie en snel groei as gevolg van die groot hoeveelheid industriële kapasiteit wat ongebruik lê. Dit beteken dat dit nie nodig is om nuwe kapasiteit te bou om produksie te laat groei tot op ten minste die vlakke voor die resessie nie. Aan die ander kant is daar egter ʼn groot vraagteken oor die vermoë van veral Westerse verbruikers om dié produksie op ʼn volhoubare manier te kan absorbeer. Om eenvoudig terug te keer na skuld-tot-inkomsteverhoudings van meer as 100% in Amerika gaan geen probleem oplos nie. Dit is verbasend genoeg tog wat sekere ekonomiese beleidsmakers in Amerika op die oomblik aanbeveel!
Lees verder ‘“Double dip” vir engiemand?’

Die Baltic Dry Index maak my bekommerd

Ek gooi die afgelope tyd kort-kort ‘n ogie op wat die Baltic Dry Index (‘n indeks van verskepingskoste van droë kommoditeite) besig is om te doen. Sedert middel-Junie is dié indeks nog heeltyd op ‘n afwaartse pad. Voor dit het die indeks goed geklim vanaf die laagtepunt wat dit bereik het net voor die hoogtepunt van die finansiële krisis se nadraai.

Die Baltic Dry Index (BDI) is gewoonlik ‘n goeie voorloper van wat met werklike ekonomiese aktiwiteit gebeur. Daar het egter nou ‘n groot gaping oopgemaak tussen die BDI en so te sê alle ander aanwysers. Beteken dit dat die BDI onnodig laag is en een van die dae weer gaan klim, of beteken dit dat die ander aanwysers onvolhoubaar hoog is en een van die dae weer gaan val? Aangesien die BDI ‘n weerspieëling is van werklike faktore en bitter min deur markspekulasie beïnvloed word, sou ek sê dat die kans groter is vir ‘n daling in die ander aanwysers, eerder as ‘n styging in die BDI.

Dit kan ‘n aanduiding wees van die gevreesde “double dip scenario”, waarvolgens daar slegs ‘n kort periode van ekonomiese herstel gaan wees, gevolg deur nog ‘n tydperk van afswaai, gevolg deur die uiteindelike opswaai. Dit plaas beleidsmakers in ‘n moeilike posisie. Moet hulle die ekonomie ondersteun om die moontlikheid van ‘n “double dip” te voorkom, of moet hulle beleidssteun nou reeds begin onttrek om te keer dat hulle die opswaai oormatig aanhelp eerder as die afswaai die hoof te bied?

Een ding wat goeie nuus kan wees vir Suid-Afrikaners is dat die BDI aandui dat die olieprys op die oomblik onrealisties hoog is, en dat dit kan terugkeer na ‘n vlak van sowat $55 per vat.

Leidende aanwysers wys na bo!

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het onlangs weer nuwe data bekendgemaak oor die leidende aanwyser vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hierdie aanwyser word as ʼn indeks voorgestel en die SARB se navorsers stel dit saam uit verskeie databronne. Die indeks dui aan in watter rigting die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel gaan beweeg oor sowat ses maande (soms langer).

Die indeks het gestyg van ʼn laagtepunt van 104,9 in Maart tot 106,3 in April, 107,8 in Mei en 109,7 in Junie. Dit dui dus op ʼn werklike draaipunt in die Suid-Afrikaanse ekonomie iewers in die omgewing van September/Oktober vanjaar.

Internasionaal het die leidende aanwysers van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD in Engels) se lidlande byna almal reeds ʼn definitiewe draaipunt getoon. Gaan kyk gerus by http://www.oecd.org/dataoecd/45/9/43453886.pdf na die volledige besonderhede daaroor.

Hou egter steeds in gedagte dat sprake van ʼn draaipunt en ekonomiese groei nie noodwendig ʼn terugkeer na vorige tye van groei van 5% tot 6% beteken nie. Wat baie meer waarskynlik is, is dat groei op laer vlakke gaan wees wanneer dit terugkeer. Dit beteken dat meteoriese werkskepping en armoedeverligting waarskynlik nie gou weer hul opwagting gaan maak nie.

Bladsy 3 van 3123



  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube