Gepubliseer .
Die totale uitset van die Suid-Afrikaanse ekonomie het in reële terme (aangepas vir inflasie) van die derde kwartaal van 2008 tot die tweede kwartaal van 2009 met 2,78% gekrimp. Dit het sedertdien, tot en met die eerste kwartaal van 2010, weer met 2,16% gegroei. Dit verteenwoordig ʼn verskil van 0,62 persentasiepunte.
Die vlak van uitset was egter in die eerste kwartaal van 2010 steeds 0,69 persentasiepunte laer as wat dit net voor die resessie was. Waar kom die ekstra 0,07 van ʼn persentasiepunt (wat ongeveer R4,5 miljard verteenwoordig, so dis nie ʼn onbenullige getal nie!) dan vandaan?
Lees verder ‘Groeisyfers kan bedrieglik wees’
Gepubliseer .
Sowat ʼn jaar gelede is hier geskryf oor die Google-soekenjin se “trends”-funksie, waar ʼn mens kan sien hoeveel mense na inligting oor spesifieke onderwerpe soek. In daardie stadium het soektogte na sleutelwoorde soos “economic depression”, “recession”, “retrenchment” en “layoffs” begin afneem ná skerp stygings teen einde-2008, soos die ekonomiese pyn oor die wêreld minder geword het.
Hierdie tendense het nou min of meer gestabiliseer – meestal op relatief lae vlakke, maar die vlakke is steeds hoër as wat dit voor Oktober 2008 was. Dit dui op ʼn aanhoudende bekommernis wat in die agtergrond voortduur ten spyte daarvan dat so te sê alle (indien nie alle nie) lande in die wêreld nou reeds uit resessie uit is.
Lees verder ‘Google “trends” stabiliseer op hoër vlakke as voorheen’
Gepubliseer .

Click op die grafiek om dit te vergroot
.
.
.
.
.
.
.
Verlede week het die Buro van Arbeidstatistieke in Amerika in hul jongste opname bekendgemaak dat die Amerikaanse werkloosheidskoers vir die eerste keer sedert April 2008 gedaal het (afgesien van ʼn minimale, kortstondige daling in Julie vanjaar). Die amptelike werkloosheidskoers was in November gelyk aan 10% (Suid-Afrika sʼn is tans 24,5%), teenoor die 10,2% van die vorige maand. Die verbetering in die syfers (stygings in indiensname of heelwat kleiner dalings as voorheen) was op ʼn breë basis en was nie beperk tot ʼn spesifieke sektor van die ekonomie nie. Dit verteenwoordig 325 000 minder mense in die “werklose” groep in daardie land, met 227 000 mense wat in die “werkende” groep inbeweeg het, terwyl die grootste deel van die res uit die “werklose” kategorie beweeg het na die kategorie van “marginaal aan die arbeidsmag verbind”.
Volgens die Amerikaanse definisie is mense wat “marginaal aan die arbeidsmag verbind” is diegene wat beskikbaar is om te werk en wat wel in die afgelope 12 maande na werk gesoek het, maar wat om verskeie redes nie in die maand waarin die opname gedoen is na werk gesoek het nie. Hierdie definisie stem rofweg ooreen met Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) se definisie van “ontmoedigde werksoekers”. Indien hierdie werksoekers wat marginaal aan die arbeidsmag verbind is, ingesluit word by die werklose bevolking, en die breë werkloosheidskoers vir die VSA uitgewerk word, het dit gedaal van 11,6% na 11,3% (Suid-Afrika se vergelykbare koers is tans 31,1%).
Lees verder ‘Amerikaanse werkloosheid daal, huispryse styg’
Gepubliseer .
In die eerste helfte van hierdie jaar was dit baie maklik om ʼn positiewe datapunt of twee hier te bespreek. Selfs die kleinste styging in enige aanwyser was groot nuus, aangesien dit gevolg het op maande en maande se nuus en data wat die een slegter as die ander gelyk het.
So was dit in April byvoorbeeld groot nuus toe ʼn paar Amerikaanse banke tussentydse winste bekendgemaak het. Vandag is so iets egter nie meer opspraakwekkend nie. In dieselfde maand was ʼn verslag van die Amerikaanse Nasionale Vereniging vir Besigheidsekonomie (National Association for Business Economics) oor verbeterende besigheidstoestande in daardie land groot nuus gewees. Indien ʼn mens dit nou weer lees, lyk dit eintlik maar vervelig. Hul jongste verslag, met aanhef “The Great Recession is over!”, het skaars enige belangstelling ontlok, selfs al was dit baie meer positief as die vorige verslag van April. Die Baltic Dry Index is ook reeds weer byna by ʼn nuwe hoogtepunt vir hierdie jaar, maar dit gaan ook net stil-stil verby.
Die effek wat hier aan die werk is, is vergelykbaar met die effek wat aan die werk gaan wees in Suid-Afrika wanneer die eerste positiewe BBP-syfer aangekondig word (Hou duim vas vir die 24ste November!). BBP-groei ná ʼn lang tydperk van inkrimping is baie makliker om te behaal en lyk baie indrukwekkender as dieselfde persentasie groei ná ʼn tydperk van volgehoue groei. Dít ten spyte van die feit dat groei vanaf ʼn lae basis minder beteken as dieselfde persentasie groei vanaf ʼn hoë basis. Indien die 24ste se syfers aantoon dat Suid-Afrika se BBP in die derde kwartaal met 1% gegroei het, sou dit beteken dat produksie met sowat R12,4 miljard toegeneem het. Dieselfde syfer van 1% sou ʼn jaar gelede beteken het dat daar R12,76 miljard se toename in produksie was – dus R360 miljoen meer. Hierdie jaar sal die “laer” 1% egter baie indrukwekkend wees, waar dit verlede jaar, ná tydperke van beter groei, slegte nuus sou gewees het.
Lees verder ‘Goeie nuus is nie meer wat dit was nie’
Gepubliseer .
Die jongste vrystelling van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se saamgestelde ekonomiese aanwysers skets ʼn redelik rooskleurige vooruitsig. Die leidende aanwyser het ʼn definitiewe onderste draaipunt gehad in die omgewing van Maart vanjaar. Die daaropvolgende styging was eers tentatief, maar het in die drie maande tot en met Augustus baie momentum opgetel. Die samelopende aanwyser van die SARB het in die jongste beskikbare maand (Julie) ook vir die eerste keer in presies 12 maande ʼn klein styging getoon.

SARB aanwysers
Die SARB se leidende aanwyser is ʼn indeks wat saamgestel word uit verskeie datareekse van ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik vroeër as die werklike ekonomie styg of daal. Die samelopende aanwyser is weer ʼn indeks wat saamgestel word uit ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik saam met die werklike ekonomiese siklus styg of daal. Daar is ook ʼn sloerende aanwyser, maar dit is uiteraard nie van belang indien ʼn mens wil bepaal hoe ekonomiese vooruitsigte lyk nie.
Die leidende aanwyser toon histories ʼn boonste draaipunt sowat sewe maande voordat die samelopende aanwyser (en dus ook die werklike ekonomie) ʼn afswaai beleef. Die verspreiding rondom hierdie gemiddelde is egter redelik breed – van so min as twee maande tot soveel as 15 maande. Die leidende aanwyser het egter die afgelope resessie met presies die gemiddelde sewe maande vooruitgeloop.
Lees verder ‘SARB se aanwysers gee hoop’
Gepubliseer .
Nee, dit is nie ʼn uitnodiging om roomys te gaan eet nie! Die begrip “double dip” verwys na die moontlikheid van ʼn tweede afswaaiperiode kort nadat die ekonomie ʼn groeiperiode binnegegaan het.
In geheel het die wêreldekonomie gemiddeld in die tweede kwartaal van 2009 van inkrimping na groei omgeswaai. Hierdie groei was in vele lande merkwaardig skerp, met die grafieke wat in die vorm van ʼn V geteken word, eerder as ʼn U of ʼn L.
Suid-Afrika, tesame met ʼn hele paar ander lande, was in die tweede kwartaal egter nog nie by die draaipunt gewees nie, maar ons sal na alle aanduidings op die laatste in die vierde kwartaal weer by die groeiers aansluit.
Daar is egter nou wêreldwye bekommernis oor watter vorm hierdie groeitydperk oor die langtermyn gaan inneem en hoe volhoubaar dit sal wees. Aan die een kant bestaan die potensiaal vir goeie en snel groei as gevolg van die groot hoeveelheid industriële kapasiteit wat ongebruik lê. Dit beteken dat dit nie nodig is om nuwe kapasiteit te bou om produksie te laat groei tot op ten minste die vlakke voor die resessie nie. Aan die ander kant is daar egter ʼn groot vraagteken oor die vermoë van veral Westerse verbruikers om dié produksie op ʼn volhoubare manier te kan absorbeer. Om eenvoudig terug te keer na skuld-tot-inkomsteverhoudings van meer as 100% in Amerika gaan geen probleem oplos nie. Dit is verbasend genoeg tog wat sekere ekonomiese beleidsmakers in Amerika op die oomblik aanbeveel!
Lees verder ‘“Double dip” vir engiemand?’
Nuutste kommentaar