Die Kommissie vir Diensbillikheid (Commission for Employment Equity – CEE) het verlede week hul tiende jaarlikse verslag oor die “vordering” van regstellende aksie in die werkplek vrygestel.
Die CEE fokus in hul verslag sterk op die topbestuursvlak en op die twee vlakke net onder topbestuur, naamlik die van “senior bestuur” en “professioneel gekwalifiseerd”. Indien ʼn mens egter gaan tel hoeveel mense in hul opname in die topbestuurkategorie val, is dit slegs 0,4% van die totale aantal mense wat in die opname getel is. Slegs 1,4% van die mense in die opname val in die kategorie van senior bestuur en slegs 7,2% is professionele mense. Op grond van “wit oorverteenwoordiging” in hierdie 9% van die opname word daar dan vreeslik te velde getrek teen diegene wat durf om “weerstand teen transformasie” te toon, sonder om in ag te neem dat die oorblywende 91% van die werkplek al heeltemal “getransformeer” is. Selfs al kon alle “oorbodige” wit mense (sowat 140 000 in die jongste verslag) in die top drie kategorieë oornag met werklose swart mense vervang word, sou dit nie ʼn verskil maak aan die ellende waarin miljoene swart mense leef nie (en sou heelwat wit mense, wat tog ook landsburgers is, in ellende gedompel word).
Soos dit ook al gebruiklik geword het, is die verslag weer vol foute. Hiermee word nie eers foute in die interpretasie van landswette of die ontleding van die resultate van die opname bedoel nie. Ook nie eers die tekortkominge in die metodologie van die opname nie. Daar hoef nie so diep of filosofies ingegaan te word om fout te kan vind met die verslag nie. Daar is oorgenoeg oppervlakkige foute om enigiemand sommer vinnig tevrede te stel. Optelfoute, berekeningsfoute, oorskryffoute – hulle is almal daar!
Lees verder ‘Diensbillikheidsverslag weereens vol foute’










