Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se leidende aanwyser vir ekonomiese aktiwiteit het in Mei vir die derde agtereenvolgende maand gedaal. Waar dit in Februarie ’n piek van 134,5 bereik het, het dit deur die loop van Maart, April en Mei tot 130,8 gedaal.
Lees verder ‘Leidende aanwyser daal ’n derde keer’
Sleutelwoord Argief vir 'leidende aanwyser'
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se leidende aanwyser vir ekonomiese aktiwiteit het in Februarie die sywaartse tendens van byna twee jaar voortgesit. Die indekssyfer van 134,4 is slegs sowat 2% hoër as April 2010 se vlak van 131,8.
Die aanwyser is ʼn samestelling van 12 verskillende veranderlikes wat aandui wat waarskynlik in die toekoms met die Suid-Afrikaanse ekonomie sal gebeur. Lees verder ‘Leidende aanwyser beweeg steeds sywaarts’
Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) is ʼn organisasie wat tans uit 34 lande met relatief hoë gemiddelde lewenstandaarde bestaan. Die lidlande van die OESO is gesamentlik vir sowat 55% van die wêreld se ekonomiese aktiwiteit, gemeet aan die bruto binnelandse produk (BBP), verantwoordelik.
Hierdie lande stel elkeen afsonderlik ʼn leidende aanwyser vir ekonomiese aktiwiteit saam. Hierdie 34 aanwysers word dan gekombineer volgens elke land se ekonomie se relatiewe grootte, en ʼn gesamentlike leidende aanwyser word dan verkry. Hierdie aanwyser voorspel tydperke van bogemiddelde ekonomiese groei en ondergemiddelde groei (nie noodwendig resessies nie) redelik goed. Dit neem gewoonlik sowat ses tot nege maande voordat dit wat met die OESO se leidende aanwyser gebeur, ook met werklike ekonomiese aktiwiteit in die OESO-lande begin gebeur.
Lees verder ‘OESO se leidende aanwyser draai’
In ʼn vorige artikel is die samestelling en betekenis van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se leidende en samelopende aanwysers verduidelik. Draaipunte in die leidende aanwyser gee ʼn aanduiding van toekomstige draaipunte in die werklike ekonomie.
Die jongste data, vir Januarie 2011, toon dat die leidende aanwyser voortgaan om te styg, wat daarop dui dat Suid-Afrika nie binnekort weer ʼn ekonomiese resessie in die gesig sal staar nie. Die aanwyser sal egter fyn dopgehou moet word in die komende maande om die uitwerking van talle stygende kostes en internasionale ekonomiese probleme daarvolgens te bepaal.
Die jongste vrystelling van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se saamgestelde ekonomiese aanwysers skets ʼn redelik rooskleurige vooruitsig. Die leidende aanwyser het ʼn definitiewe onderste draaipunt gehad in die omgewing van Maart vanjaar. Die daaropvolgende styging was eers tentatief, maar het in die drie maande tot en met Augustus baie momentum opgetel. Die samelopende aanwyser van die SARB het in die jongste beskikbare maand (Julie) ook vir die eerste keer in presies 12 maande ʼn klein styging getoon.
Die SARB se leidende aanwyser is ʼn indeks wat saamgestel word uit verskeie datareekse van ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik vroeër as die werklike ekonomie styg of daal. Die samelopende aanwyser is weer ʼn indeks wat saamgestel word uit ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik saam met die werklike ekonomiese siklus styg of daal. Daar is ook ʼn sloerende aanwyser, maar dit is uiteraard nie van belang indien ʼn mens wil bepaal hoe ekonomiese vooruitsigte lyk nie.
Die leidende aanwyser toon histories ʼn boonste draaipunt sowat sewe maande voordat die samelopende aanwyser (en dus ook die werklike ekonomie) ʼn afswaai beleef. Die verspreiding rondom hierdie gemiddelde is egter redelik breed – van so min as twee maande tot soveel as 15 maande. Die leidende aanwyser het egter die afgelope resessie met presies die gemiddelde sewe maande vooruitgeloop.
Lees verder ‘SARB se aanwysers gee hoop’
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het onlangs weer nuwe data bekendgemaak oor die leidende aanwyser vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hierdie aanwyser word as ʼn indeks voorgestel en die SARB se navorsers stel dit saam uit verskeie databronne. Die indeks dui aan in watter rigting die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel gaan beweeg oor sowat ses maande (soms langer).
Die indeks het gestyg van ʼn laagtepunt van 104,9 in Maart tot 106,3 in April, 107,8 in Mei en 109,7 in Junie. Dit dui dus op ʼn werklike draaipunt in die Suid-Afrikaanse ekonomie iewers in die omgewing van September/Oktober vanjaar.
Internasionaal het die leidende aanwysers van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD in Engels) se lidlande byna almal reeds ʼn definitiewe draaipunt getoon. Gaan kyk gerus by http://www.oecd.org/dataoecd/45/9/43453886.pdf na die volledige besonderhede daaroor.
Hou egter steeds in gedagte dat sprake van ʼn draaipunt en ekonomiese groei nie noodwendig ʼn terugkeer na vorige tye van groei van 5% tot 6% beteken nie. Wat baie meer waarskynlik is, is dat groei op laer vlakke gaan wees wanneer dit terugkeer. Dit beteken dat meteoriese werkskepping en armoedeverligting waarskynlik nie gou weer hul opwagting gaan maak nie.


