Gepubliseer .
Wanneer ʼn produk of diens in ʼn transaksie van eienaar verwissel of gebruik word, moet daar daarvoor betaal word. Dit kan natuurlik deur middel van ʼn ruiltransaksie gebeur, maar in die moderne ekonomie is die algemene praktyk dat ʼn monetêre betaalmiddel – geld – gebruik word.
Wat “geld” presies is en nie is nie, is ʼn hele onderwerp op sy eie. Hier is slegs die aanvaarbaarheid van geld as ʼn waardedraer ter sprake. Iemand wat Suid-Afrikaanse munte en papiergeld in sy beursie het, kan feitlik seker wees dat dit in enige transaksie as ʼn betaalmiddel aanvaar sal word en dat almal op enige gegewe tydstip min of meer dieselfde waarde aan ʼn rand heg. Dit is een van die groot voordele van geld as ʼn betaalmiddel.
Die gebruik van so ʼn betaalmiddel gaan egter oor die algemeen gepaard met ʼn monetêre koste, iets wat mense dikwels nie besef of in gedagte hou nie. Afhangende van die presiese metode wat gebruik word, kan hierdie koste op die ou end ʼn aardige persentasie van die volle prys van ʼn produk of diens uitmaak.
Lees verder ‘Die koste van betaalmiddels’
Gepubliseer .
Die jongste nuus oor die Realcor-sage beteken dat dit weer gepas is om hier te waarsku teen beleggings wat te goed klink om waar te wees. Die eenvoudige waarheid is dat geen belegging ʼn gewaarborgde opbrengs kan lewer wat veel hoër as die algemene rentekoers is nie. ʼn Belegging kan óf ʼn relatief lae opbrengs gee met geen/min risiko, óf dit kan die moontlikheid van ʼn hoë opbrengs bied, maar met ʼn hoër risiko. Daar is nie iets soos ʼn risikovrye of gewaarborgde hoë opbrengs nie.
By die voorbeeld van Realcor het die beleggers ʼn gewaarborgde opbrengs gekry, selfs al is die gebou waarin hulle hul geld belê het nog nie klaar gebou nie. So iets is tog selfs met die eerste oogopslag onwerkbaar. ʼn Halfklaar gebou genereer geen inkomste nie, so enige “rente” wat uitbetaal word, moet van iewers anders af kom. Daar is twee maniere wat Realcor wel waarskynlik gebruik het om aanvanklik die beleggers se “rente” te betaal. Die eerste manier is deur beleggers se eie kapitaal aan hulle terug te betaal as rente. So iets kan net aangaan tot die kapitaal opgebruik is, of totdat die beleggers hul kapitaal wil terughê. Die ander manier is om die kapitaal van nuwe beleggers aan ander beleggers uit te betaal. In ieder geval is dit nie volhoubaar nie, soos die praktyk ook nou getoon het.
Lees verder ‘Realcor-likwidasie nog ʼn waarskuwing vir beleggers’
Gepubliseer .
Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het vandeesweek sy jaarlikse mediumtermynbegrotingstoespraak (MTBPS) gelewer. Die oorhoofse strekking van die toespraak was positief en gerusstellend. Die minister is terdeë bewus van die feit dat die staat se fondse beperk is tot dit wat die privaat sektor aan belasting kan afstaan. Anders as talle ander figure in die regerende party en dié se alliansievennote, besef Gordhan dat die staat nie net kan aanhou spandeer sonder om aan die terugbetaling van skuld te dink nie.
Op etlike punte het Gordhan se toespraak egter ʼn gevoel van déjà vu laat opkom. Talle van die stellings wat gemaak is, is al dikwels voorheen deur die minister gemaak, oënskynlik sonder dat iets daadwerkliks intussen gedoen is om die gestelde doelwitte ʼn werklikheid te laat word.
Hieronder volg die minister se stelling oor die regering se spandabelrigheid en vermorsing van geld op onnodige luukshede uit 2009 se toespraak, gevolg deur die eggo’s daarvan in 2010 en 2011 se toesprake:
Lees verder ‘Minister sê, maar is dit déjà vu?’
Gepubliseer .

Inflasie het in September aanhou styg, tot 5,7% jaar tot jaar, teenoor Augustus se syfer van 5,3%. Dit is goed op dreef om die teikenband van 3% tot 6% se boonste grens teen die einde van die jaar te oorskry.
Die feit dat die grootste drywers van inflasie kos, brandstof en elektrisiteit is, verklaar waarom die Suid-Afrikaanse Reserwebank nog nie rentekoerse verhoog het om inflasie aan bande te lê nie. Lees verder ‘Aanbodkantinflasie oorheers’
Gepubliseer .
Daar is nog weinig goeie nuus vir die vervaardigingsektor as ʼn geheel. Volgens die regering se planne moet dié sektor ʼn groot bron van indiensname wees as deel van die poging om werkloosheid te laat daal van die uiters hoë vlakke waar dit tans verkeer.
Indiensname in die formele vervaardigingsektor daal egter al aanhoudend sedert 2006, ʼn daling wat versnel het tydens die resessie van 2008/2009.
Lees verder ‘Vervaardiging trek steeds swaar’
Gepubliseer .
Die ministers van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid en landbou, bosbou en visserye is al weer besig om teen Walmart se oorname van Massmart kapsie te maak.
Hul argument is dat die oorname gaan lei tot ʼn massiewe toename in ingevoerde goedere wat in die Massmart-winkels (soos Makro, Game en Builders Warehouse) verkoop gaan word. Hulle is bekommerd dat, indien hierdie ingevoerde goedere goedkoper as plaaslik vervaardigde goedere is, dit gaan lei tot werksverliese by plaaslike fabrieke.
Volgens die drie ministers mag ʼn inwoner van ʼn land dan blykbaar slegs produkte invoer wanneer dit duurder is as die produkte wat plaaslik beskikbaar is. Waarom sou ʼn mens dan enigiets wou invoer? Lees verder ‘Stop alle invoere! (en uitvoere…)’