ʼn Nuwe jaar het aangebreek – ʼn jaar wat op ʼn baie beter noot begin as die een wat agter die rug is. Daar is egter steeds baie mense wat sukkel met hulle finansies. Sulke mense sal enige oënskynlike reddingsboei wat na hulle kant toe gegooi word maklik met albei hande aangryp, sonder om te kyk of dit werklik uitkoms kan bring. Lees verder ‘Pasop vir piramideskemas’
Sleutelwoord Argief vir 'ekonomie'Bladsy 19 van 22
.
.
.
.
.
.
.
Almal weet dat Desember die tyd van die jaar is waarin ʼn mens kwalik kan beweeg tussen die winkelrakke en in ellelange toue moet staan by die kasregisters, soos hordes mense toesak op die winkels om Kersgeskenke te koop. Hierdie reuse samedromming word mooi voorgestel deur StatsSA se nie-seisoenaangepaste data oor kleinhandelsverkope wat in die bygaande grafiek vertoon word. Elke Desember is winkels ongeveer 45% besiger as gedurende die ander 11 maande van die jaar!
.
.
.
.
.
.
.
Verlede week het die Buro van Arbeidstatistieke in Amerika in hul jongste opname bekendgemaak dat die Amerikaanse werkloosheidskoers vir die eerste keer sedert April 2008 gedaal het (afgesien van ʼn minimale, kortstondige daling in Julie vanjaar). Die amptelike werkloosheidskoers was in November gelyk aan 10% (Suid-Afrika sʼn is tans 24,5%), teenoor die 10,2% van die vorige maand. Die verbetering in die syfers (stygings in indiensname of heelwat kleiner dalings as voorheen) was op ʼn breë basis en was nie beperk tot ʼn spesifieke sektor van die ekonomie nie. Dit verteenwoordig 325 000 minder mense in die “werklose” groep in daardie land, met 227 000 mense wat in die “werkende” groep inbeweeg het, terwyl die grootste deel van die res uit die “werklose” kategorie beweeg het na die kategorie van “marginaal aan die arbeidsmag verbind”.
Volgens die Amerikaanse definisie is mense wat “marginaal aan die arbeidsmag verbind” is diegene wat beskikbaar is om te werk en wat wel in die afgelope 12 maande na werk gesoek het, maar wat om verskeie redes nie in die maand waarin die opname gedoen is na werk gesoek het nie. Hierdie definisie stem rofweg ooreen met Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) se definisie van “ontmoedigde werksoekers”. Indien hierdie werksoekers wat marginaal aan die arbeidsmag verbind is, ingesluit word by die werklose bevolking, en die breë werkloosheidskoers vir die VSA uitgewerk word, het dit gedaal van 11,6% na 11,3% (Suid-Afrika se vergelykbare koers is tans 31,1%).
Die media berig vir die afgelope paar maande dikwels dat laer druk vanaf voedselpryse besig is om laer inflasie teweeg te bring. Die manier waarop hierdie verskynsel bespreek word laat dit dikwels klink asof voedselpryse besig is om te daal. Dis is egter nie waar nie. Net omdat voedselinflasie minder as voorheen bydra tot die totale verbruikersprysindeks se styging beteken nie dat voedselpryse daal nie.
Gedurende 2009 het voedselpryse slegs in Junie en Julie gemiddeld gedaal, onderskeidelik met 0,3% en 0,4%. Gedurende al die ander maande het voedselpryse gestyg – soveel so dat gemiddelde voedselpryse volgens StatsSA steeds 1,9% hoër was in Oktober as in Januarie (en 3,7% hoër as in Desember 2008). Die ekwivalente syfer vir verlede jaar (die styging vanaf Januarie tot Oktober 2008) was 11,9%. Hierdie jaar se styging is dus weliswaar nie so groot soos verlede jaar s’n nie, maar dit is steeds ʼn styging.
Lees verder ‘Voedselpryse styg steeds’
Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) wat verbonde is aan die Universiteit van Stellenbosch doen sedert 2000 ʼn kwartaallikse opname oor inflasieverwagtinge onder besighede, ekonome/finansiële analitici en die arbeidsektor (hoofsaaklik vakbonde).
In die opname word aan deelnemers gevra wat hulle verwagtinge is vir die gemiddelde vlak van verbruikersprysinflasie vir die huidige jaar, die daaropvolgende jaar en die jaar daarna. In die eerste kwartaal (Q1) van elke jaar moet die deelnemers dus ʼn voorspelling maak met byna geen bekende data vir die jaar nie, terwyl die voorspelling in die derde kwartaal (Q3) slegs afhang van drie of vier maande se onbekende data. Daar sou dus verwag kon word dat die voorspellings vir die huidige jaar akkurater sou word soos wat die jaar einde se kant toe staan.
Verlede jaar se data kan as ʼn voorbeeld gebruik word: In die eerste kwartaal (2008Q1) was gemiddelde inflasieverwagtinge vir die hele jaar gelyk aan 8,2%. In die tweede kwartaal (2008Q2) het dit gestyg tot 9,5% aangesien werklike inflasie ook gestyg het. In 2008Q3 het dit geklim tot 10,6% en in 2008Q4 tot 11%. Die werklike gemiddeld vir inflasie in 2008 was gelyk aan 11,5%. Inflasieverwagtinge het dus, soos verwag, al nader aan die korrekte getal beweeg namate die voorspellingstydperk korter geword het. Die groep wat hierdie wiskunde klaarblyklik die beste verstaan, is ekonome, aangesien hul Q4-voorspellings tot dusver nog byna altyd binne ʼn 5%-variasie rondom die werklike getal was. Selfs hul Q3-voorspellings is gewoonlik binne ʼn 10%-variasie. Besigheid en arbeid is feitlik altyd heelwat verder verkeerd.
Lees verder ‘Inflasieverwagtinge is onrealisties’
In die eerste helfte van hierdie jaar was dit baie maklik om ʼn positiewe datapunt of twee hier te bespreek. Selfs die kleinste styging in enige aanwyser was groot nuus, aangesien dit gevolg het op maande en maande se nuus en data wat die een slegter as die ander gelyk het.
So was dit in April byvoorbeeld groot nuus toe ʼn paar Amerikaanse banke tussentydse winste bekendgemaak het. Vandag is so iets egter nie meer opspraakwekkend nie. In dieselfde maand was ʼn verslag van die Amerikaanse Nasionale Vereniging vir Besigheidsekonomie (National Association for Business Economics) oor verbeterende besigheidstoestande in daardie land groot nuus gewees. Indien ʼn mens dit nou weer lees, lyk dit eintlik maar vervelig. Hul jongste verslag, met aanhef “The Great Recession is over!”, het skaars enige belangstelling ontlok, selfs al was dit baie meer positief as die vorige verslag van April. Die Baltic Dry Index is ook reeds weer byna by ʼn nuwe hoogtepunt vir hierdie jaar, maar dit gaan ook net stil-stil verby.
Die effek wat hier aan die werk is, is vergelykbaar met die effek wat aan die werk gaan wees in Suid-Afrika wanneer die eerste positiewe BBP-syfer aangekondig word (Hou duim vas vir die 24ste November!). BBP-groei ná ʼn lang tydperk van inkrimping is baie makliker om te behaal en lyk baie indrukwekkender as dieselfde persentasie groei ná ʼn tydperk van volgehoue groei. Dít ten spyte van die feit dat groei vanaf ʼn lae basis minder beteken as dieselfde persentasie groei vanaf ʼn hoë basis. Indien die 24ste se syfers aantoon dat Suid-Afrika se BBP in die derde kwartaal met 1% gegroei het, sou dit beteken dat produksie met sowat R12,4 miljard toegeneem het. Dieselfde syfer van 1% sou ʼn jaar gelede beteken het dat daar R12,76 miljard se toename in produksie was – dus R360 miljoen meer. Hierdie jaar sal die “laer” 1% egter baie indrukwekkend wees, waar dit verlede jaar, ná tydperke van beter groei, slegte nuus sou gewees het.
Lees verder ‘Goeie nuus is nie meer wat dit was nie’




