Gepubliseer .

Daar was onlangs in Sake24 ʼn SMS-versoek dat die samestelling van die petrolprys gepubliseer moet word. Moontlik doen die koerant dit nog, maar lees dit intussen sommer hier.
Ter agtergrond: Die staat reguleer petrolpryse in Suid-Afrika volgens ʼn formule wat verseker dat die prys wat in Suid-Afrika betaal word, genoeg is om te verseker dat die groot oliemaatskappye nie hul plaaslike raffinaderye sluit en eerder brandstof van oorsese raffinaderye invoer nie. Hierdie formule vir die berekening van die basiese petrolprys, voor enige winsmarges, vervoerkostes of belastings, is nie onder verdenking nie. Indien dit nie gebruik is nie, sou die groothandelsprys wat deur die mark bereik word, slegs marginaal (indien enigsins) laer gewees het as die prys wat tans deur die formule bepaal word.
In die tabel word getoon waaruit die prys van ʼn liter 93-oktaan petrol in Gauteng tans (Februarie 2012) bestaan: Lees verder ‘Wie kry wat uit die petrolprys?’
Gepubliseer .

Dit behoort vir niemand nuus te wees dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in 2008/09 ‘n woeste knou gekry het nie. Wat egter nie so dikwels die nuus haal nie, is die skerp kontras tussen wat met werksgeleenthede in die privaat sektor en werksgeleenthede in die openbare sektor gebeur het.
Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnamesyfers (Quarterly Employment Statistics, of QES), wat ‘n redelik betroubare bron van inligting oor veranderinge in formele indiensname in Suid-Afrika is, het die formele sektor in die vierde kwartaal van 2008 ‘n indiensnamepiek van 8 512 000 bereik. In die daaropvolgende jaar het dit met 5% gedaal, tot ‘n laagtepunt van 8 086 000 in die eerste kwartaal van 2010. Sedertdien het dit stadig weer met 3,4% gestyg tot 8 359 000 in die derde kwartaal van 2011. Die jongste syfer is dus slegs 1,8% laer as die vorige hoogtepunt. Hierdie syfers vertel egter nie die volle verhaal nie. Lees verder ‘Meer staatswerkers plaas begroting onder druk’
Gepubliseer .
In November 2011 het Cosatu in die Wes-Kaap te kenne gegee dat hulle die Kaapstadse administrasie na die gelykheidshof sou sleep oor wat hulle as diskriminasie teen arm werkers beskou.
In ‘n ietwat bisarre argument word die stad van diskriminasie teen armes beskuldig omdat die stad geld bestee om toerismeprojekte te ondersteun, maar nie om advertensies te plaas wat plaaslike verbruikers aanmoedig om plaaslik vervaardigde goedere te koop nie. Die veronderstelling is dat, deur plaaslike produkte te koop, meer plaaslike werksgeleenthede in vervaardiging behoue sal bly.
Blykbaar is verhoogde toerisme net tot voordeel van die “ryk base” en “middelklas werkers”, en is daar klaarblyklik geen “regte werkers” (m.a.w. laagbetaalde arbeiders) wat in die toerismebedryf werk nie. Terselfdertyd is daar blykbaar geen “ryk base” of “middelklas werkers” in die vervaardigingsektor nie – wat ‘n mens laat wonder teen wie Cosatu dan protesteer wanneer daar oor die vervaardigingsektor uitsprake gemaak word…
Lees verder ‘Mag werkers nie welaf wees nie?’
Gepubliseer .
In verlede week se artikel is die kwessie van Sasol se brandstofpryse uiteengesit. Daar word hierdie week steeds by die onderwerp van brandstofpryse gehou. Met die vakansieseisoen wat op pad is, is dit belangrik om vir vervoerkoste te kan begroot.
Die goeie nuus is dat die kleinhandelprys van petrol op Woensdag, 7 Desember na alle waarskynlikheid met 25 of 26 sent per liter sal daal. Die slegte nuus is dat die groothandelprys van diesel met sowat 36 tot 39 sent (afhangende van die swawelinhoud) sal styg. Hierdie syfers kan nog met ʼn sent of twee aangepas word voordat dit eerskomende Vrydag gefinaliseer word, afhangende van wat intussen met die wisselkoers en internasionale petroleumprodukpryse gebeur, maar enige afwyking sal nie groot wees nie.
Hierdie veranderinge sal die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng dan op R10,34 per liter te staan bring, met 95-oktaan wat aan die kus R10,21 sal kos. Diesel met ʼn 0,05%-swawelinhoud se groothandelprys sal styg na sowat R10,38 in Gauteng, wat die kleinhandelprys tot bokant R11 per liter kan laat styg, afhangende van die vulstasie.
OPDATERING: Die finale daling vir petrol was toe 11c en die styging van diesel was nagenoeg 47c en 44c vir 0,05% swawelinhoud en 0,005% swawelinhoud onderskeidelik. Die rede waarom dit so dramaties verskil van die verwagtinge is dat talle van die toepaslike winsmarges aangepas is deur die Departement van Energie.
Dit mag vreemd voorkom dat diesel se prys kan styg terwyl petrol se prys daal, aangesien beide van ruolie gemaak word, Lees verder ‘Goeie en slegte nuus vir die vakansietyd’
Gepubliseer .
Talle Suid-Afrikaners is dikwels ontevrede daarmee dat die voertuigbrandstof wat Sasol uit steenkool en gas vervaardig, nie goedkoper is as die res van die brandstof wat uit ingevoerde ruolie vervaardig word nie. Sasol – eintlik Sasol se aandeelhouers – word erg daarvoor kwalik geneem dat hulle voordeel daaruit trek.
Daar is twee redes waarom Sasol se brandstof nie goedkoper is as ander brandstof nie, ondanks die feit dat Sasol se insetkoste per liter brandstof volgens alle aanduidings tans veel laer is as dié van maatskappye soos Shell, BP, Engen, Caltex en Total wat ingevoerde ruolie raffineer of klaarvervaardigde brandstof invoer.
Lees verder ‘Waarom is Sasol se brandstof nie goedkoper nie?’
Gepubliseer .
Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO), in samewerking met Eerste Nasionale Bank (FNB), doen reeds sedert 1982 ʼn kwartaallikse opname van verbruikersvertroue in Suid-Afrika. Dit behels dat ʼn verteenwoordigende steekproef van huishoudings uitgevra word oor hul verwagtinge vir Suid-Afrika se algemene ekonomiese toestand en die huishouding se eie finansiële toestand oor die komende 12 maande. Daar word ook gevra of dit tans ʼn goeie tyd is om duursame huishoudelike toerusting te koop of nie. Saam verwerk, gee die antwoorde op hierdie vrae ʼn goeie aanduiding van hoe verbruikers oor die ekonomie en oor hul eie vooruitsigte voel.
Van die begin van 2008 tot die derde kwartaal van 2009 het verbruikersvertroue skerp gedaal, waarna dit weer toegeneem het tot die einde van 2010. In 2011 het verbruikersvertroue gedaal, hoewel dit steeds in positiewe gebied is.
Lees verder ‘Verbruikersvertroue laag, maar bestendig’