Hierdie week in Feite en Gebruike het ek in Switserland, die land van mere, berge, kaasfondue en sjokolade ʼn draai gaan maak.
Switserland is ʼn klein staat in sentraal Europa en is tradisioneel baie neutraal wat politiek betref, maar hierdie land is ook die tuiste van baie internasionale organisasies.
Binne die landsgrense van Switserland is daar 55 berge met ʼn hoogte van meer as 4000 meter bo seevlak. Die hoogste berg in Switserland is die Dom, wat 4545 meter bo seevlak lê. Die grootste meer in Switserland is die Meer van Genève wat 580 vierkante kilometer beslaan en waarvan sestig persent in Switserland lê. Twee groot riviere van Europa, die Ryn en die Rhône, het hulle oorsprong in Switserland.
Switserland word as een van die welvarendste lande gereken, met ʼn per capita inkomste van 47 000 €.
Duits, Frans en Italiaans is die amptelike tale in Switserland.
Die kookkuns in Switserland het baie invloede, maar spesialiteite is kaasfondue, Rosti, Raclette.
Natuurlik kan jy nie Switserland besoek sonder om van hierdie land se unieke sjokolade en kaas te eet nie! Die gewilde en heerlike Toblerone sjokolade, wat ook hier in Suid-Afrika te koop is, kom van Switserland af.
Ek lees vandeesweek in Sarie, Suid-Afrika se tydskrif van die jaar, van Linda en Philip Tromp, twee Suid-Afrikaners wat hul in Switserland gevestig het. Die twee Suid-Afrikaners is veral beïndruk deur die geduld, vriendelikheid en hulpvaardigheid van die mense daar. Linda skryf: Orde, veiligheid, respek vir mekaar en geduld is alles deel van die land en dis hoe elke land behoort te wees. Sy sê as hulle 9 uur in die aand langs die meer af loop, groet elke persoon wat verbykom en oral is daar drawwers, stappers, fietsryers en rolskaatsers. Sy sê gewoonlik het die fietsryers ʼn karretjie wat aan die fiets vasgemaak is, waarin kinders met helms vasgegespe sit. Linda sê dis maklik om deur Switserland te reis, want die land is so klein, so alles is naby genoeg om dit naweek vir naweek te gaan besoek. Linda en Philip skryf hulle maak ʼn gewoonte daarvan om elke naweek iets interessants te gaan besoek. So het hulle die mooiste klein dorpie, Lauterbrunnen ontdek, wat tussen twee hoë berge in die sloepie lê. Linda skryf verder wat spoedoortredings betref is daar geen genade in Switserland nie. hulle moes eendag ʼn vlug in Zürich haal en was laat as gevolg van ʼn verkeersknoop en moes aanstoot lughawe toe. Twee weke later het hulle ʼn koevertjie in die pos gekry, ʼn boete van oor die R6000, omdat hulle 73km per uur gery het! Linda sê in die somer is die weer ongelooflik lekker sonnig en dan gaan swem hulle in die meer en stap laataand, sy sê in die winter is dit koud, maar die Switsers is mal oor die sneeu en die hele gesin neem deel aan sneeu-pret. Linda sê sy en Philip het al probeer ski, maar voel op hierdie stadium is dit veiliger om met ʼn beker warm sjokolade in die hand toe te kyk.
Maak seker jy kuier weer volgende week saam met Feite en Gebruike as ons ʼn ander wonderlike land besoek!
Luister na die rubriek op www.solidariteitradio.co.za, klik hier.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.