Stakings selde lonend

Wanneer werknemers staak in ʼn finale poging om die bestuur sover te kry om hoër salarisverhogings toe te staan, verloor hulle hul salarisse of lone tydens die staking (no work, no pay). Die stakende werkers is bereid om hierdie verlies te aanvaar, aangesien hulle glo dat die hoër betaling wat hulle ná ʼn suksesvolle staking sal kry, sal vergoed vir die verlies.

Indien die hoër salaris a.g.v. die staking wel binne ʼn kort tyd vir die verlies aan inkomste tydens die staking vergoed, kan dit sin maak om te staak. As die hoër salaris ná die staking egter jare neem om vir die verlore inkomste te vergoed, is dit beter om eerder die kleiner verhoging te aanvaar en om nie te staak nie.

Dit is maklik om ʼn emosionele besluit oor ʼn staking te neem. Die idee van ʼn ekstra paar honderd rand in die bankrekening elke maand is iets wat maklik ʼn mens se goeie oordeel kan laat verdwyn. Dit bly steeds beter om vooraf die nugtere feite in ag te neem voordat ʼn oorhaastige besluit oor ʼn staking geneem word.

Die nugtere feite in die geval van die staatsdiensstaking is soos volg:

Die verskil tussen die regering se oorspronklike aanbod van ʼn 7%-verhoging op basiese salaris en ʼn 11,1%-verhoging (of ʼn 40%-verhoging, afhangend van watter bronne korrek is) op die behuisingstoelaag aan die een kant en die 7,5%- en 27%- (of 60%-) verhoging in die aanbod wat tans op die tafel is aan die ander kant, is bitter klein. Dit is egter slegs hierdie klein verskil wat belangrik is wanneer die effek van die staking op die werker se banksaldo bereken word.

ʼn Mens moet in gedagte hou dat omdat die salarisooreenkoms terugwerkend is, die stakende werkers in werklikheid meer as hul huidige salarisse verloor. Hulle verloor hul huidige salaris plus die oorspronklike verhoging wat aangebied is, omdat dit is wat hulle sou gekry het as hulle die 7%- en R700-aanbod voor die staking aanvaar het.

Wat dit in effek beteken, is dat ʼn staatsdienswerker wat voor enige verhoging ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, elke dag van die staking sowat R675,60 verloor. (Met ʼn aanname dat daar 250 werksdae in ʼn jaar is.) Die ekstra geld wat ʼn werker per werksdag sal ontvang as die salarisverhoging van 7,5% en die behuisingstoelaag van R800 geïmplementeer word, is slegs R7,80.
Deel nou R675,60 deur R7,80. Dit gee die aantal werksdae wat ʼn staker sal moet werk om in te haal wat gedurende ʼn staking van een dag lank verloor is. Die antwoord is byna 87 werksdae, of meer as vier maande!

Die staatsdiensstaking was egter nie slegs vir een dag nie. Dit trek nou al by meer as 17 dae. Dit beteken dat ʼn werker wat voor die staking ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, reeds byna R11 500 se salaris en behuisingstoelaag verbeur het deur te staak! Vir iemand wat R300 000 verdien, is die ekwivalente syfer byna R22 400!

Die eerste grafiek toon aan hoeveel staatsdienswerkers op verskillende salarisvlakke tans verloor vir elke werksdag wat gestaak word. Dit toon ook hoeveel ekstra geld hulle per dag sal kry as hulle die aanbod van 7,5% en ʼn R800-toelaag aanvaar. Deur die twee syfers deur mekaar te deel en dan te vermenigvuldig met die aantal werksdae van die staking, kan uitgewerk word hoe lank dit sal neem om die derduisende rande wat verloor is tydens die staking, in te haal.

Die tweede grafiek toon aan hoe die situasie sou lyk as die regering ʼn 8,6%-verhoging en ʼn behuisingstoelaag van R1 000 sou toestaan, soos deur die stakers geëis. Selfs in so ʼn geval neem dit nog steeds 28 tot 39 werksdae om die verlies van een dag se staking in te haal.


Sou ʼn mens veronderstel dat ʼn “aanvaarbare” tydperk om in te haal wat verloor is in een werksdag se staking een werksweek is, sou die salarisverhoging in hierdie geval sowat 25% moes gewees het, met die behuisingstoelaag wat sou moes styg na R1 500 per maand.


Wat dus hier na vore kom, is dat werkers baie mooi moet dink voordat hulle begin staak. Selfs al is die staking “suksesvol” in die sin dat die werkgewer wel toegee aan die stakers se eise vir hoër salarisse of hoër toelae, kan dit maklik etlike jare neem voordat die stakers die verlies inhaal wat hulle tydens die staking gely het.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Marionade

    Daar is ‘n saak te maak for the greater good en vir dié kan jy nie al soos ‘n steekpasser om jou eie gat redeneer nie.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Lees gerus weer wat ek geskryf het oor waar die aannames gemaak is. In die oorspronklike berekeninge is geen aannames gemaak nie (behalwe die een oor die 250 werksdae, maar dis geensins kontroversiëel nie). In die daaropvolgende kommentaar het ek wel met aannames gewerk, omdat dit noodsaaklik was om sinvol te kon reageer op die kommentaar. Die rede hoekom ek egter eerder daarvan probeer wegbly, is omdat sodra ‘n mens begin aannames maak oor die verre toekoms, ‘n mens die prentjie op enige manier kan inkleur – vergelyk maar die aandelemakelaars wat vir jou in 2008 ‘n grafiek van die JSE se vertoning oor die vorige vyf jaar gewys het en daarvolgens gesê het dat dit beteken dat die beurs noodwendig so sal aanhou…

    Sover ek bewus is, het die staat in die geval van hierdie staking wel die 7% en R800 aanbod gemaak voordat die staking begin het – dit was nog in die stadium toe daar gedreig is met ‘n staking. Dit is waarom ek dit as die oorspronklike aanbod gebruik het. In terme van die algemene beginsel maak dit nie juis ‘n verskil pf dit wel die geval was of nie.
    Waar ek van jou som se aannames sou afwyk is by die aanname dat die 6,5% en 7,5% in ewigheid so voortgesit sal word. Dit is meer realisties om bv. aan te neem dat beide mense vir die volgende jare elkeen dieselfde verhoging sal kry. Waarom sal die staker weer in die toekoms hoër verhogings as die nie-staker kry, behalwe as hy weer staak (en weer van sy salaris verbeur)? Behalwe natuurlik as jy met een staking ‘n salarisooreenkoms van vyf jaar kan beklink, maar dis iets wat selde (of selfs nooit) gebeur nie. Wat die huislening betref, onthou ook dat ‘n mens ook kan veronderstel dat die geld wat uit die staanspoor verloor word tydens die staking, veroorsaak dat die staker agter raak op sy huispaaiement, wat die moontlike toekomstige voordeel kan uitkanselleer (veral as strafbetalings van toepassing is).

    Ek sê weer: Daar is niks fout daarmee om aanspraak te maak op ‘n mens se regte nie. Die punt bly net steeds dat indien dit op ander maniere as stakings gedoen kan word, is dit beter. Indien ‘n staking die “enigste uitweg” is, is dit dikwels nie lonend nie (selfs oor die lang termyn).

    Dankie vir die in-diepte kommentaar.

  • Iceman

    Nou hoe praat jy dan nou met ‘n gesplete tong Paul? Aan die een kant sê jy, jy bly by bekende feite maar aan die ander kant maak jy aannames. Maar kom ons gee jou die voordeel van die twyfel en sit dit bietjie in perspektief. Die oorspronklike aanbod was 6.5% met behuising van R630 en nie soos jy aangedui het dat dit 7% en R700 is nie. Die huidige aanbod is 7.5% met behuising van R800. Kom ons maak die “aanname” dat jy die oorspronklike aanbod aanvaar het en ek staak vir die verbeterde aanbod. Ek verloor dus R639 per dag soos bereken op jou verhoging en R10 863 vir die 17 dae. Kom ons neem nou die “aanname” oor ‘n kort 5 jaar periode, jy met jou 6.5% en ek met my 7.5% jaar op jaar. Die verskil oor die 5 jaar is R27 046 in my guns + ‘n verdere R10 200 extra behuising in my guns. Die extra op my behuising beteken dat op ‘n verband van R500 000 sal ek R79 000 oor ‘n tydperk van 20 jaar bespaar teen ‘n rentekoers van 10%. Die huis sal ook twee jaar gouer afbetaal word. In kapitaal omgesit sal dit R19750 wees oor die 5 jaar. Kom ons kyk nou waar staan ons. R27 046 + R10 200 + R19 750 = R56 996 Trek nou af wat ek verloor het tydens die staking R56 996 – R10 863 = R46 133. So Paul jy is R46 133 agter my na 5 jaar, en ek het nou nog nie eens die voordeel op die aftree fonds bygesit nie. Kom ons maak nou ‘n verdere “aanname” en die werkgewer pas ‘n 189 toe. Hy kannie net vir my uitsonder omdat ek ‘n staker is, soos wat jy aangedui het nie, dit is teen die wet. Hy moet almal onder dieselfde kamp skeer, dus is my skeidings pakket baie hoër as joune. Ek is jammer buurman, maar ek stem nie met jou saam nie. Deur net ‘n stukkie van die prentjie te skilder op ‘n “aanname” probeer jy om mense afteraai om te staak en dis hoekom mense besig is om te verarm. Dog het ook ‘n aanname gemaak en die feit van sy saak was op die einde van die dag teenwoordig in sy Jockey.

    Marionade, ek hoef nie ‘n eiland te soek en oor 20 jaar na jou toe terug te kom nie. Vandat ek 14 jaar gelede werksaam geraak het, het my basiese salaris met 400% gestyg agv. aanspraak maak op regte. Dit is 28% per jaar net deur salaris verhogings? Wat was joune, so tussen 3% tot 5% per jaar, en wie beding dit vir julle? Ek stel liewers voor dat julle daai donkerbrille wat alles laat mooi lyk afhaal en die werklikheid van omstandighede raaksien en gebruik tot voordeel van jouself. ‘n Reg is beslis nie verkragting van beginsels nie en Die Wet kan defnitief nie gemeet word aan populêre opinie nie.

  • Marionade

    Afhanklikheid, maar eintlik (en meer spesifiek) die unchecked entitlement wat daarmee saamgaan, is ‘n nare ding. Indoktrinering deur die gees van die tyd ook. Die verkragting van beginsels vier hoogty aan beide kante en word geregverdig/aangevat deur die “reg” of die “verkeerd” daarvan te meet teen wat die populêre opinie is. So, Iceman, gaan kry vir jou ‘n eiland waar jy al die wonderlike dinge waarvan jy praat, kan implementeer en dan laat weet jy oor so 20 jaar hoe dit gaan; ek sal graag die toestand van jou Utopia wil peil, maar my vermoede is dat dit nie veel anders sal wees as die huidige toestand hier nie.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Iceman, die vermenigvuldigende effek word nie hier bespreek nie, maar dit gaan nie ongesiens verby nie. Dit speel definitief ‘n rol. Ek het dit nie hier ingesluit nie omdat ‘n mens by ‘n berekening daaroor talle aannames moet maak, aangesien dit oor toekomstige gebeure gaan. Ek het by die bekende feite gebly.

    Met aannames wat binne realistiese perke baie gunstig na die staker se kant toe oorhel (onder andere dat die nie-stakende werker telkens maar net die aanbod van die maatskappy aanvaar sonder om enigsins te onderhandel en dat die staker slegs elke drie jaar staak en dat sy eise elke keer suksesvol is) kan die werker wat tot stakings geneigd is binne so agt jaar wel die werker wat nooit staak nie met ‘n beduidende kumulatiewe marge voor wees. (Onthou, dis met gunstige aannames teenoor die staker – sou ʼn mens aanneem dat die staker se tweede staking onsuksesvol is, is hy eers in die 11de jaar beduidend “voor” die nie-staker.)

    Selfs met hierdie gunstige aannames, moet daar altyd ook verdere oorweging geskenk word aan hoe lank die werknemer by daardie spesifieke werkgewer gaan werk. Wat help dit hy begin wel ná agt jaar beduidende relatiewe voordeel trek uit die feit dat hy geneigd is tot stakings, maar hy verlaat die firma binne sewe jaar? Iets wat ook in gedagte gehou moet word is die effek van die stakings en hoër verhogings op die firma. Dit gebeur telkemale dat ‘n mens sien dat daar gestaak word, die hoër verhoging toegestaan word, net om deur afleggings (of ander tipes personeelvermindering) gevolg te word. (Kyk maar na wat tans in die klerefabrieke gebeur.) Wat help dit dat iemand se verhoging in agt jaar se tyd kumulatief relatief hoër as sy nie-stakende kollega s’n sou gewees het, maar hy sit op straat en verdien R0 omdat hy sy werk heeltemal kwyt is. Selfs met ʼn aanname dat die persoon binne twee maande weer werk kan kry teen sy vorige salaris en dat hy nie weer sy werk verloor nie, neem dit dan (met dieselfde aannames as voorheen) meer as 13 jaar voordat die staker beduidende voordeel begin trek daaruit dat hy geneigd is tot stakings.

    Dit alles kom maar weer op dieselfde gevolgtrekking neer wat ek oorspronklik gemaak het. Ek haal aan: “Selfs al is die staking “suksesvol” in die sin dat die werkgewer wel toegee aan die stakers se eise vir hoër salarisse of hoër toelae, kan dit maklik etlike jare neem voordat die stakers die verlies inhaal wat hulle tydens die staking gely het.”




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube