Stakings selde lonend

Wanneer werknemers staak in ʼn finale poging om die bestuur sover te kry om hoër salarisverhogings toe te staan, verloor hulle hul salarisse of lone tydens die staking (no work, no pay). Die stakende werkers is bereid om hierdie verlies te aanvaar, aangesien hulle glo dat die hoër betaling wat hulle ná ʼn suksesvolle staking sal kry, sal vergoed vir die verlies.

Indien die hoër salaris a.g.v. die staking wel binne ʼn kort tyd vir die verlies aan inkomste tydens die staking vergoed, kan dit sin maak om te staak. As die hoër salaris ná die staking egter jare neem om vir die verlore inkomste te vergoed, is dit beter om eerder die kleiner verhoging te aanvaar en om nie te staak nie.

Dit is maklik om ʼn emosionele besluit oor ʼn staking te neem. Die idee van ʼn ekstra paar honderd rand in die bankrekening elke maand is iets wat maklik ʼn mens se goeie oordeel kan laat verdwyn. Dit bly steeds beter om vooraf die nugtere feite in ag te neem voordat ʼn oorhaastige besluit oor ʼn staking geneem word.

Die nugtere feite in die geval van die staatsdiensstaking is soos volg:

Die verskil tussen die regering se oorspronklike aanbod van ʼn 7%-verhoging op basiese salaris en ʼn 11,1%-verhoging (of ʼn 40%-verhoging, afhangend van watter bronne korrek is) op die behuisingstoelaag aan die een kant en die 7,5%- en 27%- (of 60%-) verhoging in die aanbod wat tans op die tafel is aan die ander kant, is bitter klein. Dit is egter slegs hierdie klein verskil wat belangrik is wanneer die effek van die staking op die werker se banksaldo bereken word.

ʼn Mens moet in gedagte hou dat omdat die salarisooreenkoms terugwerkend is, die stakende werkers in werklikheid meer as hul huidige salarisse verloor. Hulle verloor hul huidige salaris plus die oorspronklike verhoging wat aangebied is, omdat dit is wat hulle sou gekry het as hulle die 7%- en R700-aanbod voor die staking aanvaar het.

Wat dit in effek beteken, is dat ʼn staatsdienswerker wat voor enige verhoging ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, elke dag van die staking sowat R675,60 verloor. (Met ʼn aanname dat daar 250 werksdae in ʼn jaar is.) Die ekstra geld wat ʼn werker per werksdag sal ontvang as die salarisverhoging van 7,5% en die behuisingstoelaag van R800 geïmplementeer word, is slegs R7,80.
Deel nou R675,60 deur R7,80. Dit gee die aantal werksdae wat ʼn staker sal moet werk om in te haal wat gedurende ʼn staking van een dag lank verloor is. Die antwoord is byna 87 werksdae, of meer as vier maande!

Die staatsdiensstaking was egter nie slegs vir een dag nie. Dit trek nou al by meer as 17 dae. Dit beteken dat ʼn werker wat voor die staking ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, reeds byna R11 500 se salaris en behuisingstoelaag verbeur het deur te staak! Vir iemand wat R300 000 verdien, is die ekwivalente syfer byna R22 400!

Die eerste grafiek toon aan hoeveel staatsdienswerkers op verskillende salarisvlakke tans verloor vir elke werksdag wat gestaak word. Dit toon ook hoeveel ekstra geld hulle per dag sal kry as hulle die aanbod van 7,5% en ʼn R800-toelaag aanvaar. Deur die twee syfers deur mekaar te deel en dan te vermenigvuldig met die aantal werksdae van die staking, kan uitgewerk word hoe lank dit sal neem om die derduisende rande wat verloor is tydens die staking, in te haal.

Die tweede grafiek toon aan hoe die situasie sou lyk as die regering ʼn 8,6%-verhoging en ʼn behuisingstoelaag van R1 000 sou toestaan, soos deur die stakers geëis. Selfs in so ʼn geval neem dit nog steeds 28 tot 39 werksdae om die verlies van een dag se staking in te haal.


Sou ʼn mens veronderstel dat ʼn “aanvaarbare” tydperk om in te haal wat verloor is in een werksdag se staking een werksweek is, sou die salarisverhoging in hierdie geval sowat 25% moes gewees het, met die behuisingstoelaag wat sou moes styg na R1 500 per maand.


Wat dus hier na vore kom, is dat werkers baie mooi moet dink voordat hulle begin staak. Selfs al is die staking “suksesvol” in die sin dat die werkgewer wel toegee aan die stakers se eise vir hoër salarisse of hoër toelae, kan dit maklik etlike jare neem voordat die stakers die verlies inhaal wat hulle tydens die staking gely het.

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Iceman

    Noem julle julle-self ‘n unie!? Jy weet né, dis hoekom julle ‘n helpende hand fonds moet hê en sop kombuise op te sit vir julle lede wat afbetaal is omdat julle nie diepte het om ordentlik te onderhandel nie. Die “no work no pay” prinsiep is onderhandelbaar soos wat tans besig is om te gebeur. Of dit kan afgeskaf word of omskep word in verlof of op ‘n 50/50 basis. Duidelik het julle ook nog nie gehoor van vermenigvuldigende kompensasie nie. Die langtermyn effek wat dit het sal die werker/lede verryk, wat julle voorstel sal die hulle net op die langtermyn verarm. Maar nou ja, dis ‘n konsep wat julle nie sal verstaan nie want dit word nie toegepas nie. Die “fat cats” waarvan julle praat voer tenminste hulle lede se mandaat uit en nie soos ander “fat cats” wat dit ignoreer nie. Vergelyk julle eie salarisse met die van julle hoë-koppe soos Flip en Dirk en die bedryfs hoofde. Wat se kar ry jy, waar bly jy, hoeveel was jou verhoging invergelyking met hulle sin, wat is alles ingesluit in hulle pakkette wat julle nie kry nie. Het iemand namens julle onderhandel vir ‘n verhogin vanaf julle werkgewer of is dit eensydig toegepas? Hoekom is die oorgroote meerderheid van julle top bestuur mans, waar is regstellende aksie dan? O jammer, ek’t vergeet julle veg net vir die wit man. Skrik vir ‘n slag wakker en begin opstaan vir julle regte, dit wat julle toekom, en hou op om na ander se stories te luister wat jou regte wil weg vat.

  • Marionade

    Vestig maar net die rekord… dit is die tou.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Lees gerus hier, marietjie:

    http://www.fin24.com/Economy/Strike-threat-over-no-work-no-pay-20100907

    Ek het ook ‘n ander berig gelees waar iemand van NEHAWU, as ek reg onthou, aangehaal word en dit blyk dat hulle ook die saak verstaan, maar nogtans staak. Moenie my vra hoekom nie. Miskien is dit ‘n simptoom van die gewaande “klassestryd” of iets…

  • marietjie

    Indien ek wat ‘n leek is hierdie saak insien wat se dit van die stakers ?
    Wanneer gaan insig en wysheid hulle manifesteer in hierdie stakers se verstande ! Nooit

  • Marionade

    Kan julle nie hierdie analise vir die fat cats aan die bokant van die vakbonde gee en op ‘n verduideliking aandring nie? Laat hulle ‘n slag vir die rekord stel wat hulle oorwegings vir die staking is (nie dat dit die binnelandse saak enigsins sal help nie – hierdie ouens stel net belang in die beautiful revolution, maar laat dit op rekord wees vir die internasionale gemeenskap).




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube