Skuif na regs nie net in Europa nie

Die afgelope week is Angela Merkel tot ʼn tweede termyn as kanselier van Duitsland verkies. Talle kommentators het dit as ʼn skuif na regs beskou. Woensdag het die dagblad Beeld in sy redaksionele kommentaar na die algehele skuif na regs in Europese politiek verwys. In Nederland, Frankryk, België, Oostenryk, Spanje en Italië is dieselfde aan die gebeur. In Pole is die regse partye reeds baie sterk.

Dit is egter nie net op die Europese vasteland waar daar ʼn beweging na regs is nie. Die afgelope week het ʼn peiling in Brittanje gewys dat die linkse Arbeiderssparty nou slegs die derde grootste party volgens steunbasis is. Daar bestaan nie meer veel twyfel dat die Konserwatiewes volgende jaar die regering gaan oorneem nie. In Skotland is die Nasionaliste ook in ʼn baie sterk posisie.

Nieu-Seeland het verlede jaar jul linkse Arbeidersregering vir ʼn regse Nasionale Party-regering verruil en die Arbeiders in Australië is ook besig om stoom te verloor met die konserwatiewe Liberale Party wat waarskynlik in die volgende paar jaar ʼn hele paar state se regerings gaan oorneem. Ook in Kanada is die Konserwatiewe Party in sy sterkste posisie in baie jare. Konserwatiewe partye is ook sterk in Mexiko en Colombië. In die VSA word die Republikeinse Party byna daagliks sterker en vervaag die glans van die Obama-presidentskap.

Die groot vraag wat natuurlik onstaan, is: Hoekom die skuif na regs? Die antwoord lê na my mening by die volgende drie hoofkwessies.

Eerstens het globalisering en die gevolglike immigrasie van werkers baie vrese by mense geskep. Regse partye is gewoonlik meer nasionalisties en geneig om die land se eie belang te beskerm.

Tweedens is mense in verskeie lande moeg vir misdaad, dwelmmisbruik en al die dinge wat daarmee saamgaan. Regse partye is geneig om sterker teen misdadigers op te tree en minder oor menseregte bekommerd te wees wanneer dit by die bekamping van misdaad en die bevegting van dwelmhandel kom nie.

Derdens is regse party meestal gekant teen die uitbreiding van regeringsmagte en steun hulle laer belasting en kleiner regering. Soos wat die wêreld groot vordering in ekonomiese groei oor die afgelope paar dekades gemaak het, is al meer mense uit die werkersklas in die middelklas ingeskuif. Hierdie mense soek nie regeringsinmenging in hul sake nie en linkse, meer sosialistiese partye word dus al minder gewild onder die groeiende middelklasbevolking van die wêreld.

Daar is natuurlik nog baie ander redes vir die opmars van regse partye, soos die feit dat kapitalisme se oorwinning oor sosialiste al meer algemeen aanvaar word. Nog ʼn punt wat natuurlik ook genoem moet word, is dat daar in talle lande waar armoede steeds ʼn groot probleem is, eerder ʼn skuif na links is. Venezuela is hier ʼn goeie voorbeeld. Daar is egter geen twyfel dat die beweging na regs in baie meer lande plaasvind as in die enkele lande waar daar wel ʼn beweging na links is nie.

Ander internasionale nuus van die week:

Filippyne: Meer as 240 mense is dood in erge vloede weens ʼn tropiese storm. Meer as 100 mense is ook deur ʼn tsoenami in Samoa en Amerikaans-Samoa gedood.

Nigerië: Die Chinese regering is tans in onderhandelinge met Nigerië gewikkel om ʼn groot aandeel in dié land se oliereserwes te koop.

Soedan: Terwyl die volksmoord in Darfoer voortduur, dreig ʼn hernude burgeroorlog tussen die suide en die noorde ook. Die laaste oorlog tussen die Christelike suide en die Moslem noorde van Soedan het tot die dood van 2 miljoen mense aanleiding gegee.

Iran: Die land het aangekondig dat hulle ʼn tweede kernenergie-aanleg het. Tot onlangs was die res van die wêreld slegs van een aanleg bewus. Vrese neem toe dat Iran moontlik ʼn kernbom kan bou.

Verenigde Nasies: Die VN het bekendgemaak dat 4 miljoen mense in die wêreld tans behandeling vir vigs ontvang.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Stefan

    Ek kan onthou dat daar in die laat 1980′s, toe die destydse Nasionale Party se oorgawe al duideliker begin word het, ook ‘n merkbare skuif na regs was. Oom Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party het destyds vinnig gegroei om die amptelike opposisie in die destydse Parlement te word. Dit was die kiesers se laaste poging om te probeer behou wat hulle destyds gehad het en waarna ons vandag so baie terugverlang.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube