Sit neer die klip, minister Xingwana

Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en gestremdes se onlangse uitlating aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) dat jong Afrikanermans grootgemaak word om te glo dat hulle vroue en kinders “besit”, het groot ongelukkigheid onder Afrikaners veroorsaak.

Hierdie uitlating, wat ek as uiters bevooroordeeld en ongegrond beskou, het beslis met rede negatiewe reaksie ontlok. Ek was onder die indruk dat ons regering juis teen bevooroordeeldheid jeens mense van verskillende rasse gekant is. Gestel die situasie was andersom en ʼn wit regeringsamptenaar het gesê swart mans behandel hulle vroue sleg. Watter reaksie sou dit nie onder swart regereringslui ontlok het nie? Die amptenaar sou beslis ʼn waarskuwing gekry het, of trouens, sy werk verloor het.

 
Hoewel almal in rep en roer is oor die minister se uitlatings en talle mense al hul ongelukkigheid in die media uitgedruk het, voorspel ek dat hierdie uitlating ʼn stille dood gaan sterf. Net soos wat die grootskaalse korrupsie in Xingwana se departement ook ʼn stille dood gaan sterf.
Dit bring my by die punt wat ek eintlik wil maak. Minister Xingwana, ek rig die volgende boodskap aan u: Verwyder eers die wurms in u departement wat lekker aan die staatskas-appel vreet voordat u die Afrikaner-man as ʼn wurm wil uitmaak!

 
As ek Xingwana was, het ek eerder die klip waarmee sy Afrikaner-mans gooi, neergesit. Ons almal bly immers in huise van glas. Ja, daar is groot uitdagings in ons land wat die botsing van kulture betref. Die laaste ding wat egter gaan help om die konflik op te los is om stereotipes te verkondig; veral as jy die minister van ʼn korrupte departement is wat die hardverdiende belastinggeld van (onder meer) wit mans mors op duur, luukse kantoormeubels en massiewe salarisse aan onbekwame mense!

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Lizav96

    Alle politiekery opsy gesit, moet ek se, waar ‘n rokie trek……. Persoonlike ondervinding het my geleer dat die stelling nie so ver van die waarheid is nie….. Maar ek het dit ondervind met meestal ouer geslag Afrikaner manne – wat grootgemaak is, en steeds glo hul woord is wet – en basta wat vrou-lief voel of dink of in staat is om te doen, en veral hul dogters ook. Asof die vroulike geslag breinloos is, identiteitsloos en moet voel en dink en optree soos vir hulle gese word…. Jammer manne, ek glo nie almal is so nie, maar my Pa was so, die man is so, en hy is besig om sy seun ook so te leer, ten spyte van die vroulike lede van die gesin se pogings om vir hulself op te staan en die teendeel te bewys. Sou wat wou gee om die prentjie te verander. Maar al gedra jy jou soos ‘n vrou, dame en respekvolle mens teenoor ander, maak dit absoluut geen verskil by sekere mans nie.

    Se maar net – ‘n saak het meer as 1 kant….

  • Duvalverwey

    Die grootste kommer hier is dat die top leiers van die ANC net eenvoudig stil bly hier oor !
    Kom hulle enigsins agter hoe skadelik so ‘n stelling is vir nasie- bou?. NEE!  Zuma was hierdie week net bekommerd of hy nog “coke” sal kan drink na die bekendstelling van die begroting. ‘n Grappie ja , maar is dit gepas.? Daar is soveel ernstige en vernietigende (korrupsie) aspekte rondom die begroting waaroor hy, as die president, ‘n punt moes maak. As trotse Afrikanerman troos ek my daaraan dat die statistieke die waarheid weergee. Enige iemand met oordeel sal hulle nie steur aan ‘n korrupte minister wat nog net mooi niks in haar departement bereik het nie.

     Dankie Sus ! Dankie Solidariteit !
     Duval Verwey 

  • Adri

    Hello, Inge
    Baie goed gestel. Stuur asb hierdie brief aan die koerante. 
    Groete
    Adri

  • Jessica

    As ‘n mens na die agbare minister se swartsmeerdery oorsee van Afrikanermans luister, Inge, is haar boodskap ondubbelsinnig: hulle is verantwoordelik vir ALLE verkragtings en moorde op vroue en kinders in die land, nie net teen hul eie nie.

    Gaan luister maar.

    Maar wat anders kan verwag word van ‘n Africanist-kader wat, soos verreweg die meeste ander kaders, grootliks deur die ANC-regime ontplooi is omdat hulle heimlik ‘n diepgesetelde haat vir witmense – maar bowenal Afrikaners – koester, en bereid is om staatsgesag te misbruik en enige geleentheid aan te gryp om teen ons te diskrimineer?

    Haar kamma-verskoning sal nie eens my graad-tweetjie flous nie; dis glashelder-duidelik net ‘n goedkoop rookskerm wat toekomstige diskriminasie makliker maak: braak gal plaaslik of oorsee, vra dan ekskuus, beweer soos sy dat jy buite konteks aangehaal is en kom straffeloos daarmee weg – tensy ons haar hof toe gaan sleep.

    En nie soos die talryke buigers en juigers van Reenboognasieland en die Kosies-Ekskuse van Afrikaanse Sonskyn-joernalistiek pens en pootjies daarvoor gaan val, of die implikasies daarvan  met slimjan-eufemismes gaan probeer wegredigeer, wegredeneer en wegliasseer nie. 




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube