Sensus-omsendbrief foutief

Daar word ‘n foutiewe omsendbrief rondgestuur oor die sensus. Die omsendbrief, van ‘n maatskappy genaamd Security Management Consultants, bevat inligting wat ge-”copy and paste” is vanaf inligting oor die Amerikaanse sensus wat in 2010 in die VSA gehou is. Die brief praat byvoorbeeld van die “Census Bureau”, terwyl daar glad nie so iets in Suid-Afrika is nie. Die VSA het ‘n “Census Bureau”, maar in Suid-Afrika is die naam “Statistieke Suid-Afrika”. Die maatskappy het intussen die foutiewe brief teruggetrek.

Die foutiewe omsendbrief is egter klakkeloos deur talle sekuriteitsmaatskappye, versekeringsmaatskappye en gemeenskapspolisiëringstrukture aangehaal. Dit verskyn ook op talle gespreksforums op die internet en word deur mense (wat goed bedoel) verder versprei.

Die inligting daarin is foutief en kan Suid-Afrikaners verwar en Statistieke Suid-Afrika (SSA) se taak onnodig bemoeilik. ‘n Paar variasies van die foutiewe omsendbrief bestaan. Een daarvan kan hier besigtig word. Die sekuriteitsmaatskappy wat die foutiewe brief opgestel het, het reeds met SSA daaroor vergader. Die maatskappy het ook ‘n brief met regstellings uitgestuur, maar soos dit nou maar is, word die korrekte brief nie so vinnig verder versprei soos die oorspronklike, foutiewe brief  nie.

Dit slaan my nog altyd dronk dat soveel mense enigiets glo wat in ‘n PDF-dokument vir hulle per e-pos aangestuur word.

Korrekte inligting oor algemene vrae oor die sensus kan hier gevind word: http://www.statssa.gov.za/Census2011/faq.asp.

OPDATERING: Statistieke Suid-Afrika het ook nou ‘n amptelike reaksie op die misleidende brief uitgereik. Lees dit hier: http://www.statssa.gov.za/Census2011/documents/Misleading_Communique.pdf

Van die belangrike punte volg ook hieronder:

Sensusafnemers kan uitgeken word aan hul heldergeel oorbaadjies, geel sakke, A3-grootte boeke met kaarte van die area en hul identiteitskaarte met ‘n holografiese sekuriteitskenmerk. Daar word ook tans plakkate opgesit met die gesigte van spesifieke areas se sensusafnemers en hul selfoonnommers. Sodoende kan mense hul woonbuurt se sensusafnemers se gesigte leer ken, en ook vooraf telefonies met hulle reëlings tref oor wanneer ‘n geskikte tyd sou wees om kontak te maak.

In die foutiewe omsendbrief word gesê dat die enigste inligting wat nodig is om aan die sensusafnemer te gee, is hoeveel mense by die adres woonagtig is. Dit is nie korrek nie. Die sensusafnemer sal ‘n vraelys met 75 vrae hê, wat alles ingevul behoort te word. Nie alle vrae sal van toepassing wees op almal nie – byvoorbeeld vrae oor die aard en graad van ‘n persoon se gestremdheid sal nie van toepassing wees op ‘n gesonde persoon nie.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) is goed bewus van die feit dat Suid-Afrikaners skrikkerig is om vreemdelinge in hul huise toe te laat. Hoewel hulle vriendelik versoek dat mense wel sensusafnemers in hul huise sal verwelkom, maak SSA ook voorsiening daarvoor dat die sensusvorms deur ‘n veiligheidshek of selfs deur ‘n heining ingevul kan word. Indien dit so verkies word, kan die sensusafnemer ook die vraelys oorhandig en ‘n tyd reël om die voltooide vraelys later te kom haal. Die vraelys kan dan rustig, op eie tyd, in privaatheid voltooi word, terwyl SSA se tolvrye hulplyn geskakel kan word by 0800 110 248 indien daar onduidelikheid oor enige van die vrae is.

Baie min van die vrae wat gevra word, handel oor sensitiewe sake. Die enigste vrae wat moontlik sensitief kan wees, is die vrae oor inkomstevlakke en huishoudelike bates. Die vraag oor inkomste is egter glad nie baie spesifiek nie en vra slegs in watter breë band ‘n persoon se inkomste val. Wanneer ‘n mens daaroor dink, is die vraag oor huishoudelike bates ook nie juis so sensitief nie. Dit is tog, in verreweg die meeste gevalle, vir enigiemand wat uit die straat na ‘n huis kyk, duidelik of die persone in die huis ‘n goeie lewensstandaard handhaaf of nie. ‘n Mens gaan byvoorbeeld nie na ‘n groot Neo-Toskaanse “villa” kyk en dan wonder of die persone wat daar woon ‘n TV en ‘n mikrogolf in die huis het of nie.

Die rede waarom daar vrae gevra word oor huishoudelike bates is omdat dit gebruik word vir die LSM (“Living Standards Measures”)-ontledings, wat ‘n baie meer akkurate idee van lewenstandaard gee as inkomstevlakke alleen.

Voordat die inligting in SSA se elektroniese stelsel ingevoer word, word die flap buite-aan elke vraelys, waarop die presiese adres en name van die persone verskyn, afgeskeur en vernietig. Baie vroeg in die proses word enige verband tussen die inligting en die adres of persone dus verbreek. Volgens wet mag SSA of enige van SSA se werknemers ook geen inligting met enige buitestaanders deel nie. Die inligting mag nie eers met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gedeel word, of in ‘n hof as ‘n bewysstuk gebruik word nie. Indien SSA se amptenare inligting laat uitlek, kan hulle vir elke oortreding ses maande tronkstraf en ‘n boete van R10 000 opgelê word.

Al die sensusafnemers is ook ondersoek vir enige kriminele geskiedenis voordat hulle aangestel is, om te help om te verseker dat geen booswigte deurgelaat sal word nie. SSA het ook hierdie keer ‘n sterk poging aangewend om mense met goeie taalvaardighede en syfervaardighede aan te stel. Met die 1996 en 2001 sensusse het hulle geleer dat dit nie help om die sensus as ‘n “werkskeppingsprojek” te beskou nie, omdat die data wat dan ingesamel word se akkuraatheid in gedrang gebring word deur ongeletterde en onbevoegde mense aan te stel. SSA het hierdie keer ook hard probeer om sensusafnemers aan te stel wat woonagtig is in die gebiede waar hulle die mense sal tel. Dit was nie in alle gebiede moontlik om dit reg te kry nie, maar waar dit moontlik was, sal dit help om mense gemakliker te laat voel met sensusafnemers wat soos hulle lyk en wat hulle taal praat. SSA het laat weet dat dit vir hulle ongelukkig (maar verstaanbaar) baie moeilik was om mense in gegoede areas te werf. Daar word dus begrip gevra van hierdie areas se inwoners indien die sensusafnemer dalk nie van die area is nie.

Laastens is dit noodsaaklik om te onthou dat, selfs al is ‘n mens kwaad vir die regering oor baie dinge, dit nie ‘n goeie rede is om negatief te wees oor die sensus nie. Die sensus is die enigste instrument waarmee daar werklik ‘n redelik goeie idee van die land se bevolkingsamestelling in terme van ouderdom, taal, verspreiding, ensovoorts gekry word. Die inligting word nie net deur die regering gebruik vir beplanningsdoeleindes nie, maar ook deur ‘n magdom private instansies, insluitend Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand. Hoe meer mense aan die sensus deelneem, hoe meer betroubaar sal die inligting wees en hoe beter is dit vir ons.

Ondersoek gerus ‘n voorbeeld van ‘n sensusvraelys hier: http://www.statssa.gov.za/Census2011/documents/Quest%20A%20LATEST%20Census%202011%20Dress%20Rehearsal_edited%2016th%20Sept.pdf

Die finale vraelys kan in klein opsigte dalk daarvan verskil, maar dit is min-of-meer hoe dit gaan lyk en wat die vrae is wat gevra sal word. Die inligting oor mense se name en die fisiese adres, sal afgeskeur word van die vorm en vernietig word voordat die data elektronies geskandeer word by SSA se kantore.

 

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Riaan V

    Paul, (hopelik) my laaste bydrae oor die sensus en spesifiek die wil van die regering.

    Gestel die sensus toon dat daar 3 miljoen wit Afrikaanssprekendes in die land is, 25% ie 750 000 van hulle leef in erge armoede, verder is daar 40 miljoen swartmense in die land(hoeveel burgers is sal ons nooit weet nie omrede die in”suip”-elaars (sic) dit nie sal erken nie, lugfotos ens sal dit ook nie toon nie) van hierdie 40 milj leef 40% ie 16 miljoen in erge armoede. Hierdie feite kan nou op drie maniere gestel word nl :

    1) 25 % van wit Afrikaanses en 40% van swartmense is uiters arm, of

    2) 750 000 wit Afrikaanse en 16 miljoen swartmense is uiters arm,  of

    3) Vir elke een arm wit Afrikaanse persoon is daar 21 arm swartmense.

    Op watter wyse sal die regering hierdie feite aanbied ?

    Al 3 is die waarheid, maar 2 en 3 laat die posisie van die wit Afrikaanses beter klink as wat 1 doen. Derhalwe bied die regering dit op wyse 2 of 3 aan, nou moet ander instansies soos Solidariteit ea die prentjie reguit trek, tog hulle kan nie oral trek of stoot nie.

    Is ek net sommer ‘n siniese ou klagat blik…. , of is dit so dat statistiek se aanbieding kan wys wat die aanbieder wil wys, en dat andere dan eers weer die beeld moet regskuif ??

    Tog hiermee ontken ek nie die waarde van statistiek, en die nodigheid van ‘n BETROUBARE sensusopname nie. 

    • Anonymous

      Die inligting word redelik “rou” vrygestel. Dit hang van die gebruikers daarvan af hoe dit voorgestel word.

  • Riaan V

    Paul die belang van opnames vir ‘n wye spektrum van mense/instansies word nie betwyfel nie. Ek betwyfel slegs die wil en bevoegdheid van SSA om die data behoorlik op te neem en te verwerk sodat dit vir almal bruikbaar is. Ek ken ’n persoon wat in ‘n redelike hoe pos by SSA se finansiele afdeling werk, (net terloops ‘n Tswana sprekende), AS alle amptenare van SSA soos hy is deel ek jou vertroue dat die sensussyfers betroubaar sal wees, jy het baie kontak met SSA en derhalwe aanvaar ek dit, AS jy vir my kan se dat die meeste amptenare bevoeg is en dat jy SSA se syfers sonder enige voorbehoude aanvaar.
     
    Persoonlik het ek my erge twyfel in ons regeringsinstansies.
     
    Voorbeeld :
     
     ’n Paar maande gelede noem jou kollega? Paul Mardon iewers op ‘n blog-artikel
    aan my dat inligting mbt die register van advokate “verdwyn” het, ek gaan kyk en ja, ek WAS daar, sedertdien het ek reeds 2 keer die nodige dokumentasie aangestuur, maar helaas ek kom nie terug op die register nie. Een mens, een stel (van 2 dokumente) en dit kan nie verwerk word nie, daagliks hoor ons van mense met dubbele ID nommers, ek weet dis ander Departemente, maar vir my bly alles Staatsdiens. Nav jou vraag van gister mbt akkuraatheid en deelname. Wat is vir Solidariteit en ander die gevaarlikste :
     
     Om te werk met syfers wat jy weet  “raaiskote” is, of om te werk met syfers wat jy dink akkuraat is, maar wat nie is nie ??  

    • Anonymous

      Vraag bly staan: Gaan die feit dat iemand weier om aan die sensus deel te neem, of foutiewe inligting verskaf, die kanse verhoog dat die resultate die werklikheid weerspieël? Die antwoord daarop is ‘n onomwonde “nee”, sonder dat enige ander faktore ingebring hoef te word.

      Ek het nie (en niemand het) volle kennis van enigiemand anders se wil of bevoegdheid nie. Ek kan jou wel verseker dat my indruk in my skakeling met SSA se mense is dat hulle wel ‘n baie sterk wil het om die sensus akkuraat te hê en ek bespeur geen politieke invloed daar nie.
      Daar is wel talle onafhanklike statistiese instellings wat die sensus se gepubliseerde resultate sal evalueer en “peer review”. Kyk maar op die internet om dieselfde dokumente oor die vorige sensusse te kry.

      Weereens – deur deel te neem, verhoog elke persoon die waarskynlikheid dat die sensus wel die werklikheid weerspieël. Sonder samewerking kan SSA se mense die mees bevoegde en slim mense op aarde wees en hulle sal steeds niks kan uitrig nie.

    • Riaan V

      Nee, daar verskil ek nie met jou nie, ons moet deelneem dit is in ons hande, die verwerking en betroubaarheid nie. As ons nie deelneem nie, SAL dit ‘n mislukking en mors van geld wees, met deelname KAN dit dalk ‘n mislukking wees, maar die kans op aanvaarbare en werkbare syfers is altyd daar. 

  • Linda-mari Gerber

    n Sensus is n volkstelling,nie n opname van jou intilligensie,bates,sekuriteit en opleiding nie! Wat nog te se jou salaris!!!! Hierdie is net vir blankes,wys my hoe tel hulle die ander in hutte,op straat,waar ookal!!!! Hulle wil slegs bepaal hoeveel arme drommels nog oor is om skiet die boer voor te sing! NEGATIEF??? NEEM WIE ONS KWALIK???????

    • Anonymous

      Linda-Mari, ek verstaan die frustrasie, maar Statistieke Suid-Afrika het geen aandeel in die skep van die probleme nie. Moenie hulle daarvoor blameer nie.

      ‘n Sensus is ook nie slegs ‘n telling van die aantal mense nie. Dit is standaardpraktyk regoor die wêreld (en ook in die tyd van die ou regering in SA) dat verdere inligting ingesamel word, soos opleidingsvlakke en lewenstandaarde (wat bates en inkomste insluit). Hulle nie vrae vra oor intelligensie of sekuriteit nie. Sien die skakel wat hierbo gegee is vir ‘n voorbeeld van hoe die vraelys min-of-meer daaruit sal sien.

      Die sensus is geensins slegs vir witmense nie. Almal word getel. Daar is selfs reeds vooraf bepaal waar die areas is waar hawelose mense (meestal swart) gewoonlik slaap, en die sensusafnemers sal hierdie plekke op die aand van 9 Oktober besoek om daardie mense se inligting ook in te win. Hulle het selfs die moeite gedoen om vooraf te bepaal waar die hawelose mense skuil wanneer dit reën, sodat hulle die mense daar kan tel indien die weer dalk nie op 9 Oktober saamwerk nie.
      ‘n Magdom sensusafnemers gaan ook na alle plakkerskampe en ander lae-koste behuising om die mense daar te tel. Hierdie mense is eintlik baie dapper. Ek het verneem dat daar alreeds gevalle voorgekom het waar vroue wat sensusafnemers is, en wat vooraf sulke areas verken het om woon-eenhede op te spoor, betas is deur die inwoners daar.

      Daar word ook lugfoto’s van plakkerskampe (en ander woongebiede) ingespan om vooraf te bepaal hoeveel wooneenhede daar is, om te verhoed dat mense uitgelaat word.

      Jy gee die werklike “boereskieters” te veel krediet – hulle is nie mense wat gepla is oor feite, of wat wetenskaplike opnames nodig het vir hul booshede nie.

    • Anonymous

      Lees ook gerus hierdie dokument, waarin SSA uiteensit hoe hulle poog om almal in te sluit: http://www.statssa.gov.za/Census2011/documents/Census_2011_Undercount%20Strategies-version_6a.pdf

    • Bril

      Ek ken ‘n beter antwoord, maar sal dit liewerste nie oor die web skryf nie.

    • Skulk

      Paul. Your patience is remarkable – well done. We shall be aware that one should not be seen to argue with fools, as others may get the wrong impression. I agree on all your points. My message to the nation is; Stand and be counted.

    • Skulk

      Wow. Your statement is reminiscent of the old apartheid that we so desperately try to get away from. Stand and be counted madam. The “swart gevaar” are not out to get you. But if you cannot, please vote with your oneway plane ticket out of here? You are also welcome to use your “ossewa” but I doubt you’ll get far on that. Wake up and smell the coffee will you?

  • Eengelbrecht

    Nou hoekom het hulle dit dan nodig? Hoekom kan die vorm dan nie anoniem ingevul word nie?

    • Anonymous

      Ek neem aan jy verwys na die mense se name en presiese adresse. Hulle benodig dit om kwaliteitsversekering te kan doen. Dit behels dat die toesighouers oor die sensusafnemers plek-plek sal teruggaan na spesifieke huishoudings om te verifieer dat die sensusafnemer hul taak korrek uitgevoer het en nie byvoorbeeld sommer net self ‘n klomp nonsens op die vorm ingevul het nie. Dit kan ook wees dat ‘n toesighouer sien dat ‘n vorm net half ingevul is – dan kan die toesighouer skakel met die huishouding om te hoor wat die rede daarvoor is, en moontlik help om volledige data te kry.

      ‘n Tweede deel van die kwaliteitsversekeringsproses is dat sowat 200 000 huishoudings weer besoek sal word van 7 November tot 21 Desember, in wat ‘n “post enumeration survey” genoem word. Met behulp van so ‘n opname, kan daar redelik noukeurig m.b.v. statistiese metodes geskat word hoeveel mense in die werklike sensus gemis is. Dit word benodig om die syfers aan te pas vir ‘n ondertelling. Ondertellings gebeur in alle sensusse wêreldwyd. Met hierdie sensus poog SSA werklik hard om die ondertelling so klein as moontlik te maak, sodat die resultate so betroubaar as moontlik kan wees.
      Wanneer beide hierdie kwaliteitsversekeringsprosesse afgehandel is, word die flappe waarop die name en adresse staan, afgeskeur en vernietig. Kyk gerus ook na punt 12 by hierdie blad: http://www.statssa.gov.za/Census2011/faq.asp

      Ek wil weereens herhaal dat die sensus ‘n onmisbare bron van inligting is vir talle nie-staatsorganisasies, Solidariteit en vennote ingesluit.

    • Eugene Terreblanche Herinnerin

      Hoekom het ek jou address nodig nadat ek jou uitgevra het oor jou besittings en ‘n paar ander dinge?

  • Bril

    Teoreties is die Statistiekdiens ‘n onmisbare gedeelte van die land. Maar onder die huidige bestuur is en bly mens maar agterdogtig, saak nie maak wat die wet sê wat mens mag doen of nie, want ons weet as daar op politieke vlak beweeg word steur niemand hulself dadels aan enigiets nie. Die Statistiekdiens is die enigste plek in die land met die wettige bevoegdheid data te kan inwin, asook met die finansiële middele toegerus om so te kan doen.

    Ek het jare gelede ten noustens met die ou Sentrale Statistiekdiens gewerk, tenminste 8 jaar lank. En dus klomp mense daarso geken wat steeds daarso tydens die oorgangsjare na 1994 gewerk het. Ek het so paar dinge op my rekenaarskyf gestoor voordat dit van die web af verdwyn oor wat daarso aangegaan het (en dit het van die web intussen verdwyn), en hoe daar spottery in die parlament gedryf is, soos ‘n stout klomp kinders wat ‘n pak vol swiets ontdek het en buite hulself gaan van magsbeheptheid – dit behoort dalk nog in die Hansard te wees maar ek hoor die ding word ook nie meer ordentlik bygehou nie. Willie Spies, wat by Afriforum is, behoort te weet, hy het nog in die parlament gepraat oor hoe sekere mense van die ou bedeling daarso behandel is, ek hetdie dokument ook by my gestoor. Niemand weet meer hiervan nie, dis soos uit die geskiedenis gevee, maar omdat sommige mense jy kan maar sê na aan my hart was (soos in hulle was goeie mensebestuurders, ek vermoed van hulle is intussen in uiterste armoede oorlede, graad en al) sal ek hulle nie vergeet nie, ook nie die onreg wat teen hulle begaan was nie. Ek sal ook maar versigtig wees om myself te hard oor die lug uit te spreek, want ek is nie in ‘n posisie om nou hofsake te kan bekostig nie. Een enekele persoon lan in elk geval nie die politiek verander nie, tensy mens se skip inkom en jy biljoene met die lotto wen.

    Nie met SARS in verbinding kom nie? Hoop dit is nog waar, wie weet met watter slenters hulle nog tevorendag kan kom.

    SARS inligting – dis ‘n probleem. Ek ken die volgende geval (ek het die e-pos en aangehede vraelyste in my besit). As jy werkloos is en jy wil nou op die laagste pakket van ‘n mediese fonds kom, dan kry jy so ‘n vet brief dat jy al jou finansiële inligting binne ‘n gegewe tyd moet verskaf, insluitende verklaring van bates, bakstate en ook jou belastingbesonderhede. Sou jy nie daaraan voldoen nie word jy permanent verban om ooit weer by ‘n mediese fonds aan te sluit in hierdie land weens wanvoorstelling. Afgesien dat jy in hierdie misdaadomgewing in die land nie sulke sensitiewe inligting wil uitgee nie, vra mens jouself af hoekom moet mens die SARS besonderhede verskaf – is daar ‘n ooreenkoms tussen SARS en die privaatsektor om sulke inligting prys te gee? Met ander woorde die mediese fonds kan jou bqasies met ‘n pistool teen die kop dwing om magtiging te verskaf. As dit moontlik is, dan kan mens een stap verder gaan en sê wat verhoed SARS om ander inligting prys te gee, of vise versa, dat Statistiek Suid-Afrika aan SARS inligting verskaf? Die versoeking is daar. Ons weet die regering het ‘n onbevredigde behoefte aan inkomste, veral nou dat die globale ressesie aan die gang is moet hulle steeds inkomsteteikens bereik, terwyl hulle reeds dit nie meer doen nie.

    Hoe moet ek as gewone burger nou verkwalik word dat ek erg agterdogtig raak wat wil hulle alles van my weet. Ek bedoel as die land deur ‘n klomp nasionaliste bestuur word, het ek meer gerustheid in my hart as wat die land deur ‘n klomp ex-rooies en swartmag bewusstes bestuur word.

    Ek vra maar net, miskien is ek verkeerd. Maar ek lewe nie eers sedert gister in hierdie wêreld nie en weet as die verkeerde mense aan die bewind kom, gaan jy groot chancers kry.

    • Anonymous

      Ek kan so ‘n knaende gevoel van onrustigheid oor “wat die regering alles van jou weet” verstaan.
      Vraag is egter – wat kan SARS nou eintlik met die inligting maak (nie dat dit aan hulle oorgedra mag of sal of selfs kan word nie)?

      Gestel jy dui op die sensusvorm aan dat jou inkomste iewers van R25 601 tot R51 200 is, en dat jou huis van bakstene gebou is, met vyf kamers en ‘n sinkdak, en dat jy ‘n TV, ‘n yskas, ‘n elektriese stoof, ‘n radio, ‘n motor, ‘n stofsuier en ‘n selfoon het. Wat kan SARS of ‘n ander regeringsinstelling nou eintlik met daardie inligting maak? Dis nie asof dit presies spesifiseer wat jou inkomste is, of enigiets oor die waarde van jou bates sê nie.
      Dis ook nie asof daardie inligting juis deur ‘n misdadiger gebruik kan word nie. Deur eenvoudig na jou huis te kyk, kan enigiemand tog sekerlik ‘n goeie skatting maak dat jy ‘n TV, ‘n yskas, ‘n radio, ens. in jou huis het.
      Statistieke SA, anders as SARS, mediese fondse, versekeringsmaatskappye, ens., vra nie presiese antwoorde oor sensitiewe inligting nie. SSA se sensus is die minste van jou worries.

    • Bril

      Nee, nee, dis waar wat jy skryf, ek is bewus daarvan, maar ek dink nie in terme van misdadigers nie, dis die kleiner euwel.

      Ek dink in terme dat die statistieke klomp inligting sal gee, dit wat werklik bruikbaar is, maar dit word gebruik om strategiese beplanning vir die land te doen, en kan ook as maatstaf dien hoe goed die herverdeling van rykdom al gevorder het en hoe daar verder hieraan gewerk moet word. Met ander woorde die uitslag kan ‘n Afrosentriese beplanningskleur aanneem in plaas van soos in die verlede ook ‘n Eurosetriese kleur. Bloot uit die feit dat die beplanners en die mense wat die landsbegroting beheer nou nie meer ons is nie.

      Dit is in hierdie rigting wat ek dink, maar, soos hulel in engels sê “die proof lies in the eating of the pudding”. 

    • Bril

      Vra om verskoning vir die ooglopende spelfout. Dit is tewyte aan skoolvakansie en raserige kinders.

    • Anonymous

      Wel, wat is beter? Dat daardie Afrosentriese beplanning gedoen word op grond van aannames en skattings, of op ten minste grond van goeie data?

    • Riaan V

      Ek dink nie juis dit maak ‘n verskil nie die regering steur hulle slegs aan syfers, statistieke en feite AS dit hulle beplanning pas. Bv. die Staat koop Witpiet se plaas, en gee dit vir Swartpiet, wat dit terug verkoop aan Witpiet, nou wys statistiek dat Witpiete steeds 90% van grond besit, en dat herverdeling nie plaasvind nie, dis mos nou bog. Net so wys statistiek dat blankes beter opleiding en gesondheidsorg kry, dit is waar, MAAR ons WERK en BETAAL daarvoor. Ne, Tutu the cuckoo en agterryer Vossie ?

    • Anonymous

      Statistiek wys NIE dat “witpiet” 90% van die grond besit nie. Daardie syfer is ‘n totale duimsuig en is op geen studie gebaseer nie. Dit ondersteun juis my punt. Dit is juis waarom dit goed is as mense deelneem aan ‘n poging om beter data in te samel.

    • Riaan V

      Paul dit was net ‘n VOORBEELD ter illustrasie van ‘n beginsel, ek het dit GEENSINS as ‘n feit gestel nie.

    • Anonymous

      Ek weet. Daardie 90%-syfer is egter wel al deur die betrokke minister gebruik.

    • Riaan V

      OK. Bewys egter net hul ignoreer feite. :) :)

    • Anonymous

      Punt is, niemand weet wat die werklike feite is nie, en as mense gedurig weier om aan opnames deel te neem, gaan niemand ooit weet nie.

    • Riaan V

      Hoor jou, ek vertrou egter nie die regering se WIL en bevoegdheid om die syfers na behore aan te wend nie. Maar ek is nou maar ‘n sinikus, ek hoop jou optimisme word geregverdig. :)

    • Anonymous

      Vraag: Ongeag van enige bevoegdheid of onbevoegdheid, gaan die resultate meer akkuraat wees as jy nie deelneem nie, of gaan dit meer akkuraat wees as jy deelneem?
      Die antwoord is vanselfsprekend.

    • Riaan V

      Slegs relevant as dit op bevoegde wyse verwerk en aangewend word

    • Riaan V

      Ja ek moet saamstem, die feit dat dat miljoene van ons se persoonlike inligting deur allerlei instansies (banke, besighede ens ) aan SARS “gelek” word, pla my baie meer. Niemand kan AL die inligting verwerk nie, MAAR sou die regering ‘n stok soek om iemand mee te slaan, is om in jou belastingsake te gaan krap baie keer die maklikste;- onthou maar net vir Al Capone. Met belaglike hoë bankkoste deponeer my besigheid nie meer veel kontant nie, dit word uitgehou om salarisse en ander uitgawes mee te betaal, anders betaal jy jou ore van jou kop af om die geld IN die bank te kry, en later weer om dit UIT te kry. Die probleem is egter ekstra boekhouding om te bewys waar die kontant heen is, en dat dit nie so gedoen word agv skelmstreke nie, dat dit suiwer goeie besigheidsbeginsels is. Om die eerlike reguit paadjie te loop is soms baie langsamer as die kronkelpad. Die regering se eindelose string wette mbt opgawes, fooie aan allerlei instansies en ander burokratiese rompslomp wat hulleself dan nie behoorlik kan nagaan en verwerk nie, maak egter dat ons almal op ‘n dun tou loop, en elke dag moet vrees dat jy dalk nie alle vereistes nakom nie. Die kleiner sake ondernemings kan tog nie ‘n 110 mense aanstel om nakoming van al hierdie belaglike vereistes na te kom nie.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube