SARB se aanwysers gee hoop

Die jongste vrystelling van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se saamgestelde ekonomiese aanwysers skets ʼn redelik rooskleurige vooruitsig. Die leidende aanwyser het ʼn definitiewe onderste draaipunt gehad in die omgewing van Maart vanjaar. Die daaropvolgende styging was eers tentatief, maar het in die drie maande tot en met Augustus baie momentum opgetel. Die samelopende aanwyser van die SARB het in die jongste beskikbare maand (Julie) ook vir die eerste keer in presies 12 maande ʼn klein styging getoon.

SARB aanwysers

SARB aanwysers

Die SARB se leidende aanwyser is ʼn indeks wat saamgestel word uit verskeie datareekse van ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik vroeër as die werklike ekonomie styg of daal. Die samelopende aanwyser is weer ʼn indeks wat saamgestel word uit ekonomiese veranderlikes wat gewoonlik saam met die werklike ekonomiese siklus styg of daal. Daar is ook ʼn sloerende aanwyser, maar dit is uiteraard nie van belang indien ʼn mens wil bepaal hoe ekonomiese vooruitsigte lyk nie.

Die leidende aanwyser toon histories ʼn boonste draaipunt sowat sewe maande voordat die samelopende aanwyser (en dus ook die werklike ekonomie) ʼn afswaai beleef. Die verspreiding rondom hierdie gemiddelde is egter redelik breed – van so min as twee maande tot soveel as 15 maande. Die leidende aanwyser het egter die afgelope resessie met presies die gemiddelde sewe maande vooruitgeloop.
Die leidende aanwyser se onderste draaipunt gebeur histories gemiddeld sowat ses maande voordat die samelopende aanwyser weer positief draai. Die verspreiding rondom hierdie gemiddelde was histories egter vanaf een tot nege maande. Indien die geskiedenis dus as ʼn gids gebruik word, sou verwag kan word dat die onderste draaipunt in die ekonomie iewers vanaf Julie tot Oktober moet voorkom.

Die klein opwaartse neiging van die samelopende aanwyser in Julie kan dus hoogs waarskynlik gevolg word deur verdere, groter stygings. Dit strook ook met wyer ekonomiese aanduidings wat reeds sedert die begin van 2009 toon dat die derde kwartaal van 2009 moontlik ʼn klein positiewe BBP-groeisyfer kan oplewer. Statistiek Suid-Afrika stel op 24 November die BBP-syfers vir die derde kwartaal vry. Ons sal dan sien of die positiewe verwagtinge verydel gaan word deur vervaardiging, kleinhandel en residensiële konstruksie wat steeds onder druk was deur die loop van die derde kwartaal.

Verwante artikels:

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube