Deelnemers op ʼn Australiese webblad vir ateïste het die afgelope week of wat behoorlik gejuig oor die nuus dat Julia Gillard nie net Australië se eerste vroulike eerste minister is nie, maar ook die land se eerste ateïstiese eerste minister.
Gillard se woordvoerder het ʼn vraag oor die nuwe eerste minister se geloofsoortuigings geantwoord deur Gillard as “non religious” (nie-gelowig) te beskryf.
Gillard sal egter nie net in die geskiedenis onthou word as die eerste vroulike of eerste ateïstiese Australiese eerste minister nie, maar ook vir die slinkse manier waarop sy haar voorganger, Kevin Rudd, uit die kussings gelig het.
Gillard, wat in Desember 2007 adjunk eerste minister geword het nadat Kevin Rudd, leier van die Arbeidersparty, die verkiesing gewen het, het die afgelope paar maande op geslepe wyse steun vir haar regeringsoorname onder parlementslede van die Arbeidersparty gewerf. Die oomblik toe Rudd in die moeilikheid beland met een of twee slegte besluite, het sy ʼn gaping gesien en deur middel van groot steun onder parlementslede daarin geslaag om Rudd te dwing om te bedank. Dus, sonder ʼn nasionale verkiesing of dat die Australiese burgers ʼn sê gehad het, word Gillard toe eerste minister van die land op 24 Junie.
Gillard beskou haar grootste politieke held as Nye Bevan, ʼn verlinkse Britse politikus, wat die sosialistiese mantel tydens die vyftigerjare in Brittanje gedra het. Bevan het baie van sy politieke lesse, veral in terme van die staat se beheer oor die ekonomie, by Wladimir Lenin, die vader van Russiese Marxisme, geleer.
Dat die aanwys van Julia Gillard as Australië se eerste minister veelseggend is, is nie te betwyfel nie. Dit sê baie oor die agteruitgang van Christenskap in die Westerse wêreld, die feit dat sosialisme steeds ʼn stewige voet in die Australiese deur het en ook die toenemende rol van vroulike politici, veral in linkse politiek, in die Westerse wêreld. Behalwe dat Gillard ʼn sosialis is, is sy ook ten gunste van linkse idees soos belasting op koolstofvrystelling. Sy ondersteun ook groter immigrasie na Australië en is pro-aborsie. Die volgende paar maande sal die storie van Australië se eerste ateïstiese eersteministerskap vertel.
Ander internasionale nuus van die week:
Rusland: Die Russiese minister van buitelandse sake het met woede gereageer nadat die Amerikaanse Departement van Justisie aangekondig het dat 11 persone in die VSA in hegtenis geneem is op aanklagte dat hulle namens Rusland as spioene in die VSA opgetree het.
Mexiko: Die stryd teen dwelmkartelle in Mexiko is die afgelope week ʼn groot slag toegedien toe die voormalige leier van die PRI (Institusionele Revolusionêre Party), Rodolfo Torre, in ʼn sluipmoordaanval vermoor is. Torre sou binnekort as goewerneurskandidaat in ʼn verkiesing gestaan het en was die voorloper. Daar word vermoed dat hy deur ʼn lid van ʼn dwelmkartel vermoor is.
Israel: Die Israelse minister van buitelandse sake het die afgelope week die moontlikheid van die totstandkoming van ʼn aparte Palestynse staat teen 2012 verwerp en aangedui dat dit baie langer sal neem om ʼn ooreenkoms met die Palestyne te bereik.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.