Reddingsdaadkongres afsluiting

img_9023Dit is maklik om mekaar vir drie dae warm te praat. Solidariteit is egter ‘n doen organisasie en na afloop van die kongres is daar reeds ‘n raamwerk met planne saamgestel. Die kaptein aan die stuur om die planne te implementeer met sy span en almal wat wil help is dr Danie Langer. Die reddingsdaadverklaring onderneem die planne. Rapport en Beeld het berig oor die kongres. Luister ook na Danie Langer  en Dirk Hermann op RSG se Praat saam: Deel 1 en deel 2.

Aksieplan om nuwe armoede aan te pak

ʼn Doenplan om armoede aan te pak is vandag tydens die Solidariteit Helpende Hand se Reddingsdaadkongres aanvaar. Die kongres, wat die afgelope drie dae in Pretoria gehou is, is ʼn opvolg op die eerste Reddingsdaadkongres wat in 1939 gehou is. Die aksies voortspruitend uit die historiese kongres het daartoe gelei dat die Afrikaner-armoedevraagstuk binne slegs ʼn dekade opgelos is.

Die Reddingsdaaddoenplan, met sowat 30 doelstellings, is vandag deur die meer as 300 verteenwoordigers van 66 verskillende Afrikaanse organisasies aanvaar.

Die plan sluit verskeie aksies in wat daarop gemik is om die nuwe armoedevraagstuk op te los en kyk na vier sentrale kwessies, naamlik die ekonomie, onderwys en opleiding, kultuur en die gemeenskap. Die samestelling van ʼn plan om Afrikaanse kapitaal te mobiliseer, die uitbou van Afrikaanse onderwys op verskeie vlakke en die vestiging van ʼn navorsingsinstituut is van die aksies wat in die Reddingsdaaddoenplan saamgevat word. ʼn Tydraamwerk vir die instelling van die doelstellings sal binnekort gedoen word.

Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het die kongres op ʼn nuwe manier gekyk na die idees waardeur die Afrikaner voorheen opgestaan het. “Hierdie idees is waarskynlik vandag selfs meer relevant om hul demokratiese ruimtes in Suid-Afrika te vestig,” verduidelik Langner. “Gemeenskappe wat buite die fokus van die regering se hulpprogramme val, moet nou self verantwoordelikheid vir hul welstand neem en hierdie verantwoordelikheid is vandag weer aangegryp.”

Talle deelnemers aan die kongres het telkens beklemtoon dat daar nie in isolasie na die probleem kan gekyk kan word nie en dat ʼn nouer samewerking tussen alle gemeenskappe nodig is om Suid-Afrikaanse armoedeprobleem op te los.

“Die uitkomste wat vandag saamgestel is, moet as insette vir die res van Suid-Afrika dien. Hierdie is nie ʼn superplan nie, maar eerder ʼn oproep aan die talle organisasies wat reeds werk aan die nuwe armoedeprobleem om hul werk met ywer te doen en nuwe maniere waarop armoede aangepak moet word te ondersoek en toe te pas,” verduidelik dr. Dirk Hermann, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand.

Die JD Kestell-gedenkfonds is ook vandag deur Solidariteit Helpende Hand gestig en sal dien as ʼn toekomsgerigte fonds vir die bemagtiging van Afrikaner-kinders.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube