Solidariteit beklink oorwinning by Denel oor uitsluiting van wittes van opleidingsprogram
In nóg ʼn taai stryd teen rassisme, dié keer by die Denel-entiteit RheinMetall Denel Munitions (RDM), het die vakbond Solidariteit ʼn noemenswaardige oorwinning beklink. Ingevolge dié oorwinning sal wit studente ook voortaan aan die maatskappy se opleidingsprogramme kan deelneem en vir studiebeurse hier aansoek kan doen.
Dit volg nadat Solidariteit beswaar aangeteken het teen RDM se rassistiese benadering tot deelname aan ʼn opleidingsprogram en aansoeke vir studiebeurse hier wat wit studente geheel en al van deelname uitgesluit het. RDM het einde verlede jaar en vroeër vanjaar twee kennisgewings oor die maatskappy se studiebeurse en ambagsluiprogram uitgereik waarvolgens slegs swart, Indiër- en kleurlingstudente kon aansoek doen om aan die program deel te neem.
Solidariteit het die saak met die bestuur van RDM opgeneem en beklemtoon dat dié benadering, wat uitsluitlik op ras gebaseer is, onbillik is. Die vakbond het ook aangedring dat RDM die kennisgewings moet onttrek en die program ook aan wit studente moet oopstel.
Solidariteit het intussen in ʼn vergadering wat met die maatskappy se uitvoerende hoof, Norbert Schulze, gehou is, kommer oor die uitsluiting van wit studente van die opleidingsprogram uitgespreek. Hiertydens het Schulze aan Solidariteit beklemtoon dat RDM spyt is dat die benadering wat die maatskappy gevolg het “die persepsie van permanente uitsluiting tot opleidingsgeleenthede van een groep” geskep het.
Schulze het intussen ook in ʼn brief aan Solidariteit die versekering gegee dat dié uitsluiting van een groep van die maatskappy se opleidingsgeleenthede nie in die toekoms voortgesit sal word nie.
Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans, verwelkom die vakbond RDM se standpunt. “Solidariteit besef dat RDM, soos ander Suid-Afrikaanse maatskappye, volgens wetgewing ʼn verantwoordelikheid het om aan die vereistes rakende gelyke indiensname te voldoen en dat dié vereistes geweldige druk op maatskappye kan plaas. Tog kan dit nie as ʼn verskoning gebruik word om wittes geheel en al van geleenthede te ontsê nie. Die uitsluiting van ʼn groep op grond van ras bly steeds onbillik en kan onder geen omstandighede geduld word nie,” verduidelik Kleynhans.
Ingevolge die kennisgewings wat aan personeel uitgereik is, is werklose jongmense uitgenooi om aansoek te doen vir die opleidingsprogram in Wellington, Boksburg en Boskop. Die maatskappy het dié waardevolle opleidingsgeleentheid vir 30 chemiese operateurs, drie passers, drie passer-en-draaiers, twee elektrisiëns, een tegniese tekenaar en een instrumentwerker aangebied.
Lees News24.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.