Raar maar waar: Nes Oupoot

Verlede week het ek berig oor Kia, die Duitse herdershond wat na Suid-Afrika gebring is sodat sy behandeling kon ontvang vir ʼn hartdefek. Die beste veeartse en kardioloë se hulp is ingeroep om die hond se lewe te probeer red. Ongelukkig is Kia Woensdagmiddag tydens die operasie oorlede. Die operasie het aanvanklik glad verloop, maar later het noodlottige bloeding ontstaan.

* * * * *

Wat is die vreemdste aktivis wat jy al ooit teëgekom het? Ek het nooit gedink ek sal ooit van so iets hoor nie: ʼn olifantaktivis! En ek dog Oupoot se dae is verby. Die inwoners van Liberië vrees die olifant wat daar by hul houtkappers skade aanrig, nes Oupoot van Kringe in ʼn bos. Die stories toon soveel ooreenkomste dat dit voel asof ek weer terug in matriek is en weer Dalene Matthee se bekroonde roman lees. Die inwoners van Liberië glo dat die groot, woedende olifantbul besete is. Die olifant het al die lewe van een van die houtkappers geneem en hy verwoes alles so ver as wat hy gaan. Nes met Oupoot die geval was, word die olifant se habitat deur die mens oorgeneem, en die dier probeer maar net sy tuiste beskerm. Die Liberiese olifant het egter op grusame wyse gesterf toe hy tussen twee industriële masjiene beland het. So sal die stryd tussen die mens en die natuur vir jare nog voortduur.

* * * * *

ʼn Donkie in Rusland is byna bokveld toe nadat ʼn groep entrepreneurs vir die dier ʼn valskermpak aangetrek en hom uit ʼn vliegtuig gegooi het. Die entrepreneurs het gehoop dat die publisiteitsfoefie mense na hul privaat strand sou lok. Dit het toe nie so goed gewerk as wat hulle gedink het nie. Die arme donkie is darem deur ʼn groep swemmers gered terwyl huilende kinders die petalje aanskou het. Dit wys jou net: waaghalsige bemarking is nie vir almal nie. En net omdat diere nie kan praat nie, beteken nie ons kan met hul maak soos ons wil nie.

Luister www.solidariteitradio.co.za elke Vrydag om 12 uur vir nog interessante nuus.

Verwante artikels:

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube