Pak jou tas – die Groot Trek is op ons!

Terwyl derduisende Suid-Afrikaners reeds in die afgelope dekade en meer hulle tasse gepak het en landuit “gevlug” het, lyk dit vir my asof daar ‘n heel nuwe Groot Trek onder veral jong Suid-Afrikaners aan die gebeur is. Hulle pak wel steeds hulle tasse, maar hierdie keer kies hulle eerder koers na die platteland (en dit hier reg in Suid-Afrika).

Ek het in die afgelope twee maande drie jong gesinne teëgekom wat hierdie roete volg. Twee hiervan pak hulle stadskarre en trek plaas toe terwyl die derde na ‘n plattelandse dorp trek. Elkeen van hierdie paartjies lyk op die oog af na tipiese stadmense – die een is ‘n ingenieur, die ander ‘n rekenmeester, hierdie een ‘n joernalis en daardie een besig om sy MBA af te handel. En tog hunker hulle almal na een ding – om WEG te kom!

Is dit dalk die nuutste oplossing? Elkeen van die paartjies  met wie ek gepraat het, is vas oortuig dat die platteland en die plaas die ideale plek is om heen te gaan. Vir hulself om weg te kom van die gejaag en vir hul kinders om in beter omstandighede groot te word.

Maar is dit die antwoord? Word die waarde van die platteland nie dalk oorskat nie? Wie weet, maar ek moet erken – my hart trek ook op ‘n punt om eerder na die rustigheid van die platteland te vlug. (En nie ‘n dag langer vir byna twee ure aan die 30km tussen my huis en die werk voort te poer-poer nie!)

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Denise

    Ek bly die afgelope 15/16 jaar op die platteland nadat ek in die stad grootgeword het. Ek en my man het destyds die stad uitgevlug oor dieselfde redes genoem, maar ek moet ongelukkig waarsku: Dit werk nie altyd so nie. Werk is skaars en betaling swak. Die platteland is ook nie altyd rustiger (as dit by werk) kom nie. Daar word van jou verwag om lang ure te werk (omdat die maatskappye nie meer personeel kan bekostig nie en hulle weet jy afhanklik van jou werk is) en die pas is maar net so vinnig. Skole bied nie dieselfde vakkeuses as stede aan nie en sport is uiters beperk. Jou kinders (wat rustig moes grootword) moet dus heel moontlik koshuis toe in ‘n naburige groter dorp – wat het jy dan van hulle. Winkels is beperk en mens moet gereeld sukkel om eenvoudige goedjies (‘n slaapsak of parte vir jou motor byvoorbeeld) in die hande te kry. Dit is keuses wat jy moet maak. As ek egter weer moet kies, bly ek op die platteland – maar dis nie oor die redes genoem nie. Alle stedeling vrouens kan nie in die platteland aanpas nie. Ek het baie van daai stedelinge sien kom – en gaan… Dink dus maar mooi…

  • Upington

    Ek het groot geword op die platteland en dit is altyd lekker om ‘huistoe’ te gaan! Die stad is my plek en hier is baie om te doen. Pretoria het goeie Afrikaanse skole, dis net Blou Bul mentaliteit wat nie cool is nie!
    Werk hard vir jou ou dag en jou kinders se toekoms, ‘move’ dan ‘huistoe’ of ‘see-toe’!

  • johan

    Ja dit was my lekerste dae op klein dorpie.As jy iets nodig het en dit is na ure dan bel jy net die eienaar van die besigheid en hy help jou.
    Die heel lekkerste is dat jy almal ken in die dorp en almal help mekaar

  • Riaan

    Hoewel ons nog albei in die stad werk, het ons ook verlede jaar uitgewyk Rayton toe. Dit is heerlik om saans in die bed te le en te hoor hoe die beeste bulk of hoe ‘n jakkals in die verte skree. En snaaks genoeg, ek ry nog nie langer werk toe as toe ek in die stad gebly het nie! Nooit is ‘n lang tyd, maar as ek my sin kan kry trek ek nooit weer terug nie!

  • Patrys

    Ons het 10 jaar terug platteland toe getrek. Aanvanklik het ek dit GEHAAT! Nie oor dit platteland is nie, maar oor dit plat was en vol mynhope! Vandag weet ek hoekom dit moes gebeur. My man moes intussen 4 jaar gelede weer in die stad gaan werk agv die winde van verandering, maar ons het besluit om nie terug te trek nie. Dis die beste plek om jou kind groot te maak en hier is die mense nog relatief konserwatief en Afrikaans. Ongelukkig kan ek nie eerlik se nie, want hier is baie geldwolwe wat mense uitbuit. Maar ons is nie spyt oor ons besluit nie – al is dit nie lekker as my man Sondagaande moet terugry na Gomorra toe nie…




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube