Die Fawu staking by ABI (Coke) gaan nou al langer as ʼn maand aan. Om hul te steun sit ek nie my lippe aan Coke nie. Ek het ook aan ʼn IUF en Labourstart veldtog deelgeneem waar vakbonde oor die wêreld vir ABI bestook het met epos boodskappe van steun aan Fawu. Gister kry ek egter ʼn onwelkome verrassing van ABI af. ʼn Antwoord op die epos. Daar was ‘n ABI brief en fotos. En dit lyk nie goed vir Fawu. Die antwoord word nou die wêreld vol gestuur aan elkeen wat deelgeneem het aan die epos veldtog. Fawu en die IUF het in antwoord op die ABI brief die volgende antwoord geplaas.
Financial Mail gee ʼn oorsig van die staking.
Vakbond leierskap moet besef watter gevegte kan gewen word en watter is verloor. Die Fawu leierskap byt egter vas. Die beginsel van geen werk geen betaling geld.
Die staking deur FAWU by ABI wat reeds sedert die 22ste Desember aan die gang is beteken tot dusver dat:
Indien ABI 7,8% aanbied en FAWU eis 9,5% en Saterdae word nie as werksdae gereken nie: Stakende werkers moet 73 maande lank werk om in te haal wat hulle verloor het.
Indien ABI 8,3% aanbied en FAWU eis 9,5% en Saterdae word nie as werksdae gereken nie: Stakende werkers moet 104 maande lank werk om in te haal.
Indien ABI 7,8% aanbied en FAWU eis 9,5% en Saterdae word wel as werksdae gereken: Stakende werkers moet 70 maande lank werk om in te haal.
Indien ABI 8,3% aanbied en FAWU eis 9,5% en Saterdae word wel as werksdae gereken: Stakende werkers moet 100 maande lank werk om in te haal.
Met ander woorde: Dit gaan hulle tussen 6 en 9 jaar neem om in te haal wat hulle verloor het deur die staking tot dusver (dis indien hulle wel hul eis van 9,5% kry!). Die werkgewer het volstaan op 7.8%.
Dis mos hoe ʼn mens armoede bekamp in Suid-Afrika! Fawu lede begin nou stadig terugkeer na die werkplek. Intimidasie speel egter ʼn groot rol en dit is nie baie demokraties nie. Dalk is omdat dit ʼn geweldskultuur is wat verbind word met sosialisme.
Wanneer sal ek begin Coke drink? As al die werkers by die werk is en die staking opgehef is. Coke laat ʼn wrang smaak in my mond. Ek drink eerder water. Dit wat Fawu gevra het was nie onredelik nie. Die proses het net ontspoor en aan beide kante het leierskap gefaal om ʼn oplossing te vind.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.