Ons bank het ons geskei


Absa het die egskeidingsdagvaardiging op ons beteken. Alhoewel die huwelik al lank reeds verbrokkel het, was die ontvangs van die dagvaardiging steeds ʼn skok. Alle tekens was daar, maar dit is net nou so in jou gesig. Ons bank skei ons!


Die Solidariteit Beweging het twee eenvoudige versoeke vir Absa se Maria Ramos gehad. Eerstens: moenie polities inmeng by die rassesamestelling van sportspanne nie. Tweedens: gee ʼn onderneming dat Absa se tradisionele kliëntebasis nie afgeskeep sal word nie. Ramos se antwoord het my getref. Koel en reguit lees sy die egskeidingsbrief: “I will not make any statements that you ask” (haar direkte woorde). Ek loop daar weg met die besef: Ons bank het ons geskei.

Afrikaners en die ou Volkskas was in ʼn noue huwelik. Ek is ook histories verbonde aan die bank. My pa was by Volkskas en dit is maar aan my oorgedra. Ek wou ook vir my dogtertjies spaarrekeninge oopmaak by Absa. Absa word so van geslag tot geslag oorgedra. My pa vertel my hoe hulle as jong studente veldtogte gevoer het om Afrikaners by Absa te laat bank. Volkskas is in 1934 gestig as gevolg van die persoonlike ywer van Joseph Jacobus Bosman of algemeen bekend as Oom Bossie.

Na die verpletterende invloed van die depressie van 1929 het Afrikaners ʼn dringendheid beleef; dat iets gedoen moet word om hulle eie omstandighede te verbeter. Die onmoontlike is verbeel. In dié tyd van absolute armoede onder Afrikaners moet ʼn Afrikaner-bank met Afrikaner-kapitaal opgerig word. Die doel was om Afrikaners weer te help om op hulle voete te kom. Op 3 April 1943 is Volkskas gestig. Die onmoontlike het gebeur. Met armes se geld is armes opgehef. Absa se voorstorie is ʼn pragtige storie van self opstaan. Dit is ʼn storie van ʼn interne lokus van kontrole – ons doen dinge self. Dit was nie die stelsel wat arm Afrikaners opgetel het nie, hulle het hulleself aan hulle arm skoenveters opgetel. Dit is die historiese les van Absa.

Indien Absa ʼn historiese verskil in vandag se Suid-Afrika wou maak, is dit dít wat hulle vir mense moet leer. Staan self op, neem self verantwoordelikheid, moet nooit afhanklik raak van die stelsel om julle op te hef nie. Dit is die krag van Absa. Maar nee, Absa se transformasie-idee wat hy najaag is juis dat die stelsel moet ophef en as die stelsel nie mense transformeer nie, sal ek my mag gebruik om die stelsel te dwing om te transformeer. Nee Absa, dít gaan nie werk nie. Die ideologie wat julle omhels gaan maak dat jong rugbyspelers misluk.

Absa se historiese egskeiding met Afrikaners is ook ʼn historiese egskeiding met die krag wat die ou Volkskas laat opstaan het. Hulle kan dit nie meer oordra aan Suid-Afrika nie.

Ek is oor die egskeidingskok. Ek het my lojaliteit teenoor my vorige eggenoot verloor. Nou soek ek ʼn bank op grond van prys en diens. My historiese verbintenis is verbreek en my dogtertjies se rekeninge gaan nié meer by Absa oopgemaak word nie.
Terloops, Solidariteit het ʼn tegniese span aangewys om die verskillende banke te ondersoek sodat ons goeie inligting vir mense kan gee om te besluit watter bank. Ons hoop dat ons so binne twee weke die verslag kan bekend maak.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Deon

    Die tyd is ryp vir n eie, vrye Afrikaner-bank. Stig weer n Volkskas! Absa het getransformeer, net soos die res. Die Afrikaner en Afrikaans is nie meer vir hulle belangrik nie. Bied ons so gou as moontlik n beter alternatief!!

  • Chris7

    Ek is in die proses om my ABSA huislening te stop en na Standard Bank oor te dra. Ek maak nie ‘n verskil in die groter prentjie nie maar in die kliene – daar waar ek lewe, werk en bid – daar maak dit ontsettend baie saak, soos tereg deur Albert C uitgelug. Anders as Wikus het ek nog ‘n gewete en nog ‘n Afrikanerhart – al is ek ook die laaste een. Die wat reg is was nog altyd by verre in die minderheid en die breë pad is stampvol gepak met die gemaksugtiges en ruggraatloses. Hoekom Standard Bank – want toe hulle 149 jaar gelede gestig is was hulle gestig as ‘n Engelse bank en het nog nooit voorgegee om pro-Afrikaans te wees nie. Liewer die vyand wie ek ken as die een wat my naam dra maar my verraai wanneer dit regtig saak maak. Voorwaarts mars! Vir God, volk en vaderland.

  • Albert Cruywagen

    Gemeet aan die “groot dinge” in die lewe was die sluit van ‘n Absa-rekening Vrydag ‘n klein gebeurtenis. Gemeet aan my gevoel van genoegdoening was dit egter ‘n “groot ding”…

    My gevoel het iets te doen met my onthou van NP van Wyk Louw se woorde:

    “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk se getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

  • Wikus

    Ek wag maar om te sien wat tegniese span aandui. Ja ons huwelik met Absa is op die rotes, maar beteken dit date k nou maar moet aanskuif (om n punt te maak )net om in die bed te spring met n ander bank wat van meet af aan geen “sedes” het nie en wat dan agter alles maar net dieselfde is.
    Ek sien die ding so. Ou Suid Afrika is vir altyd verby – dis jammer maar dit is klaar. Al wat oorbly is mooi herinneringe

  • Chris

    Ek vertrou dat die tegniese span ook die moontlikheid ondersoek van ‘n totaal nuwe bank waar afrikaans as taal gewaarborg word
    Aangesien daar Bank of Lisbon/Mercantile Bank,Bank of Athens,ens is wat vir die Portugese, Grieke ens bedien,waarom kan daar nie ‘n bank wees wat primer Afrikaanssprekendes bedien nie?




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube