Meeste mense sal ʼn baba as ʼn klein wonderwerkie beskryf. Ouers koester gewoonlik hulle kinders en kan nie uitgepraat raak oor alles wat hulle kindertjies vermag nie, van die eerste tree of ʼn goue medalje vir die 60m, al is hulle nou maar eers in graad1.
Dit gaan my verstand te bowe dat ʼn ma, volgens beriggewing, kan toekyk hoe haar man haar kind so ernstig mishandel dat die kind aan sy besering beswyk. Wat egter ʼn bitter smaak in my mond los is die feit dat die man en vrou onderskeidelik 13 jaar en 10 jaar tronkstraf gekry het. Dit is volgens my nie ʼn groot genoeg straf vir al die lyding waardeur die baba moes gaan nie.
Hoe is ʼn mens so onmenslik teenoor jou eie kind?
Baba, Wade se beserings:
- 22 ribfrakture;
- gebreekte voorarms;
- ’n geswolle brein wat veroorsaak het dat die nate in sy skedel deur die brein oopgedruk is;
- ’n kneusing aan die linkerlong, wat dui op ’n ernstige hou op die borskas;
- vingermerke en kneusplekke op sy gesig, bors en nek; en
- merke onder sy voete.
Regter Cynthia Pretorius het gesê die beskuldigdes kon nie enige verduideliking gee hoe die baba dié beserings opgedoen het nie.
Hier volg ʼn Beeld artikel oor die saak se uitspraak.
Baba: Ma sit 10 j.
ʼn Vrou wat toegelaat het dat haar kêrel hul twee maande oue baba doodmartel, is gister saam met hom tronk toe gestuur.
Marissa Rudman (36) het ná vonnisoplegging met haar hande in boeie na haar voormalige geliefde, Nolan Schoeman (32), gedraai en hom verskree.
Regter Cynthia Pretorius het albei vroeër in die hooggeregshof in Pretoria aan moord op hul baba, Wade, skuldig bevind.
Wade is op 7 April 2009 in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria dood. Hy is van 26 Maart tot 4 April 2009 aangerand.
Pretorius het Rudman tot tien jaar tronkstraf gevonnis en Schoeman het 13 jaar tronkstraf gekry. Twee jaar moet daarvan afgetrek word omdat Schoeman, wat voorheen ’n persoonlike fiksheidsafrigter was, reeds twee en ’n half jaar agter tralies was as verhoorafwagtende.
Rudman, wat intussen in Kaapstad gewoon het, was tot gister op borgtog.
Pretorius het gesê ’n onskuldige baba is gemartel en doodgemaak deur mense wat hom moes koester.
“Daar was niemand om te getuig oor sy gehuil en lyding nie, behalwe die dokters. Die erns van die misdaad moet meer gewig dra as die beskuldigdes se belange.”
Dat hulle geen werk, geld en vervoer gehad het by Wade se geboorte nie en dwelms gebruik het, word in ag geneem.
Schoeman het getuig hy was die laaste twee weke van Wade se lewe selfs méér onder die invloed van dwelms. Hy het toegegee dat hy verantwoordelik kon gewees het vir die baba se beserings.
Pretorius het gesê daar moet tussen die beskuldigdes se vonnisse onderskei word omdat Rudman toegelaat het dat Schoeman die baba in so ’n mate aanrand dat hy aan “verskriklike beserings” dood is.
Sy het gesê sy verstaan nie Rudman se gevoelens van berou nie omdat sy volhou sy het nie die baba se beserings gesien nie. Ná die baba se dood het Rudman se optrede op geen berou gedui nie. Sy het nog twee jaar saam met die persoon gewoon wat sy as haar baba se moordenaar beskou het.
Rudman, wat ’n BCom-graad het, het Schoeman by ’n kroeg ontmoet en hom dieselfde aand genooi om by haar in te trek.
Pretorius het Rudman se aansoek om te appelleer teen haar vonnis later gistermiddag van die hand gewys.
Sy het ook die staat se aansoek om te appelleer vir ’n swaarder straf teen Rudman se vonnis van die hand gewys.
![7d0811bf09434aa1b62283d7b9cb7f30[1]](http://www.solidariteit-blog.co.za/wp-content/uploads/2013/03/7d0811bf09434aa1b62283d7b9cb7f3012-150x150.jpg)









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.