Oneerlikheid nie deur vrye mark goedgepraat nie

Met die Europese perdevleis-skandaal en nou ook Suid-Afrika se eie vleisskandaal op almal se lippe, kry die vrye mark al weer slae. Wanneer oneerlike gedrag aan die lig kom, is daar altyd ʼn koor van stemme wat sê: “Ja nee, kyk net hoe sleg is die vrye mark, want dit veroorsaak hierdie soort oneerlike en bedrieglike gedrag en praat dit goed!”

Hierdie kritiek is egter misplaas. Oneerlikheid is nie ʼn noodsaaklike komponent van vrye handeling tussen mense nie – dit is juis ongewens. Dat oneerlikheid wel soms voorkom, is  wel ʼn feit. Dit kan selfs uit die vroegste opgetekende geskiedenis van die mensdom gesien word. Oor die jare het menslike samelewings verskillende maniere gevind om oneerlikheid aan die lig te bring, te voorkom en te straf.

Dit is ook so vir ʼn vrye mark – oneerlikheid is nie teoreties of prakties wenslik nie. Een van die voorvereistes vir ʼn suksesvolle vrye mark is juis dat daar ʼn stelsel moet wees waarvolgens dispute oor transaksies op ʼn onpartydige wyse opgelos kan word. Dit hoef nie noodwendig ʼn regstelsel te wees wat deur ʼn staat bedryf word nie – dit kan ook ʼn interne stel reëls binne ʼn spesifieke gemeenskap of groep mense wees, solank dit net nie arbitrêr toegepas word nie.

Die vrye mark skep die meeste welvaart waar daar groter gelykheid van inligting tussen partye tot ʼn transaksie is. Natuurlik wil beide partye gewoonlik probeer om meer inligting as die ander te hê. Die verkoper wil byvoorbeeld nie hê voornemende kopers moet weet dat sy produk eintlik van swak gehalte is nie. Die koper is moontlik weer daaroor besorg dat die verkoper nie moet besef dat die koper eintlik bereid sou wees om ook ʼn veel hoër prys vir die produk te betaal nie. Albei se neiging om inligting van die ander te weerhou, word egter in ʼn mate getemper deur die moontlikheid dat hulle in die toekoms weer sake sal doen. Die verkoper weet dat as hy sy kliënt wil behou, dit ʼn risiko is om oneerlik te wees want as die kliënt dit agterkom die verkoper se reputasie geskaad sal word. Die koper weet ook dat as hy oneerlik is en die verkoper dit agterkom, hy moontlik sal weier om verder te handel te dryf. Verder kan so ʼn swak reputasie in ʼn vrye samelewing ook wyd uitkring, wat nog ʼn groter afskrikmiddel is.

Dikwels is kopers en verkopers egter nie vreeslik besorg oor moontlike oneerlikheid of weerhouding van inligting nie, omdat die “koste” om vooraf te bepaal of gelykheid van inligting bestaan, groter as die moontlike koste van oneerlikheid is. ʼn Koper sal byvoorbeeld ʼn pak boerewors by ʼn nuwe slaghuis koop sonder om eers van die slagter te vereis om elke bestanddeel in die fynste besonderhede uit te spel, omdat hy bereid is om die wors te braai en as dit net na soja smaak, eenvoudig sy verliese te aanvaar en dan nie weer by daardie slaghuis boerewors te koop nie.

Dit is juis in ʼn samelewing wat nie vry is nie waar oneerlikheid geïnstitusionaliseer word. As die staat jou daaglikse brood verskaf, kan jy maar seker wees dat, as jy begin kla dat daar te veel semels en te min meel in die brood is, daar blitsvinnig teen jou opgetree sal word om te keer dat jy jou onpatriotiese kommentaar versprei. As jy in so samelewing oor die soja in die maalvleis kla, beland jy dalk self in die vleismeule…

 

Grafika verkry by: The Rocketeer via photopin cc

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Jessica

    Bygesê, paulsolidariteit, dis net ‘n uiters klein monster en nie ‘n volwaardige kwalitieitsversekerings-steekproef wat deur Stellenbosch geneem is nie, sodat enige afwyking op so ‘n klein skaal van toetsing beslis alle alarms moet laat afgaan.

    Soos die Yanks dit so mooi  sê, do the maths, en jy sal vind dat die molshoop eksponensieel groter word namate die toetsing verbeter, sodat dit uiteindelik ‘n berg word.

    Ons sentrale mensereg bly spraakvryheid, wat insluit die reg op toegang tot inligting.

    Gevolglik het almal nie net die reg om verbaas te wees as daar by verstek of sommer flagrant oor ‘n produk se inhoud gelieg word nie, maar om ‘n moewiese openbare vloermoer te gooi.

    Daar kan dus geen verskoning vir onverklaarde bestanddele wees nie, juis omdat grootskaalse wors en maalvleisprodukte so maklik uitbuitbaar is.

    Maar meer so in hierdie kleptokrasie met sy vrotslegte regulering, korrupsie, nepotisme, amptelike geheimhouding, omkoopbaarheid ens. ens. 

  • Jessica

    Jip, dis net in sosialistiese bewinde wat chronies na totalitarisme hunker -  soos onse wyd-geliefde ANC-kleptokrasie – waar die anti-vryemark-koor altyd so lustig saamsing.

    En die Departement van Grootlieg die Departement van die Heilige Waarheid word, sodat al die Keypoint Tsotsis en Snakes in Suits met hul turn-around-strategy-skelmstreke kan wegkom.

  • Anonymous

    T.o.v. die Suid-Afrikaanse “vleisskandaal”: Ek het die oorspronklike, volledige joernaalartikel gesien. Die detail, wat totaal deur die media gemis of met opset geïgnoreer is, is soos volg:

    Uit die 139 vleisprodukte wat getoets is, is daar in slegs een produk, wors by ‘n slaghuis in KZN, donkievleis gevind.
    Uit die 139 vleisprodukte wat getoets is, is bokvleis in slegs vier produkte gevind. Een daarvan was maalvleis wat as “mutton mince” bemark is. Die term “mutton” word wel vir bokvleis gebruik, nie net skaapvleis nie, so daar is nie eers iets hiermee verkeerd nie. Die ander drie produkte waarin bokvleis gevind is, was worsprodukte, waarvan twee as “mutton sausage” bemark is – weereens, geen probleem daarmee nie, want bokvleis is ook “mutton”. Die oorblywende is as “lamb sausage” bemark, wat wel oneerlik is, aangesien “lamb” slegs na skaaplammers verwys.

    ‘n Berg word van ‘n molshoop gemaak.

    Dit wat die algemeenste voorgekom het, is onverklaarde soja of gluten in vleisprodukte, asook onverklaarde vark- of hoendervleis. Dit is oneerlik, maar nie juis ‘n vreeslike “skandaal” nie – niemand kan tog verbaas wees daaroor dat goedkoop wors of ander vleisprodukte soms soja of hoender in het nie – mens kan dit mos proe!
    In baie van die produkte waarin soja of gluten gevind is, was die vlakke baie laag, wat aandui dat dit waarskynlik onbedoelde kruiskontaminasie was en nie ‘n doelbewuste poging om mense in te loop nie.

    • Riaan V

      Ja nee geensins so skokkend soos die media op hul gewone sensasionele manier die “feite” opgedis (“pun intended”) het nie. Ons weet mos darem dat enige gemors in sekere produkte mag/kan/sal wees, soos Otto von Bismarck gesê het, dis beter dat die publiek nie sien hoe wette en wors gemaak word nie. (geparafraseer). Wat die oog nie sien nie, en die tong seker dan ook nie proe nie……… :)




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube