Met die Europese perdevleis-skandaal en nou ook Suid-Afrika se eie vleisskandaal op almal se lippe, kry die vrye mark al weer slae. Wanneer oneerlike gedrag aan die lig kom, is daar altyd ʼn koor van stemme wat sê: “Ja nee, kyk net hoe sleg is die vrye mark, want dit veroorsaak hierdie soort oneerlike en bedrieglike gedrag en praat dit goed!”
Hierdie kritiek is egter misplaas. Oneerlikheid is nie ʼn noodsaaklike komponent van vrye handeling tussen mense nie – dit is juis ongewens. Dat oneerlikheid wel soms voorkom, is wel ʼn feit. Dit kan selfs uit die vroegste opgetekende geskiedenis van die mensdom gesien word. Oor die jare het menslike samelewings verskillende maniere gevind om oneerlikheid aan die lig te bring, te voorkom en te straf.
Dit is ook so vir ʼn vrye mark – oneerlikheid is nie teoreties of prakties wenslik nie. Een van die voorvereistes vir ʼn suksesvolle vrye mark is juis dat daar ʼn stelsel moet wees waarvolgens dispute oor transaksies op ʼn onpartydige wyse opgelos kan word. Dit hoef nie noodwendig ʼn regstelsel te wees wat deur ʼn staat bedryf word nie – dit kan ook ʼn interne stel reëls binne ʼn spesifieke gemeenskap of groep mense wees, solank dit net nie arbitrêr toegepas word nie.
Die vrye mark skep die meeste welvaart waar daar groter gelykheid van inligting tussen partye tot ʼn transaksie is. Natuurlik wil beide partye gewoonlik probeer om meer inligting as die ander te hê. Die verkoper wil byvoorbeeld nie hê voornemende kopers moet weet dat sy produk eintlik van swak gehalte is nie. Die koper is moontlik weer daaroor besorg dat die verkoper nie moet besef dat die koper eintlik bereid sou wees om ook ʼn veel hoër prys vir die produk te betaal nie. Albei se neiging om inligting van die ander te weerhou, word egter in ʼn mate getemper deur die moontlikheid dat hulle in die toekoms weer sake sal doen. Die verkoper weet dat as hy sy kliënt wil behou, dit ʼn risiko is om oneerlik te wees want as die kliënt dit agterkom die verkoper se reputasie geskaad sal word. Die koper weet ook dat as hy oneerlik is en die verkoper dit agterkom, hy moontlik sal weier om verder te handel te dryf. Verder kan so ʼn swak reputasie in ʼn vrye samelewing ook wyd uitkring, wat nog ʼn groter afskrikmiddel is.
Dikwels is kopers en verkopers egter nie vreeslik besorg oor moontlike oneerlikheid of weerhouding van inligting nie, omdat die “koste” om vooraf te bepaal of gelykheid van inligting bestaan, groter as die moontlike koste van oneerlikheid is. ʼn Koper sal byvoorbeeld ʼn pak boerewors by ʼn nuwe slaghuis koop sonder om eers van die slagter te vereis om elke bestanddeel in die fynste besonderhede uit te spel, omdat hy bereid is om die wors te braai en as dit net na soja smaak, eenvoudig sy verliese te aanvaar en dan nie weer by daardie slaghuis boerewors te koop nie.
Dit is juis in ʼn samelewing wat nie vry is nie waar oneerlikheid geïnstitusionaliseer word. As die staat jou daaglikse brood verskaf, kan jy maar seker wees dat, as jy begin kla dat daar te veel semels en te min meel in die brood is, daar blitsvinnig teen jou opgetree sal word om te keer dat jy jou onpatriotiese kommentaar versprei. As jy in so samelewing oor die soja in die maalvleis kla, beland jy dalk self in die vleismeule…
Grafika verkry by: The Rocketeer via photopin cc









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.