Die mynwerkers van die Grootvlei-myn in Springs, en die Orkney-myn, het reeds die afgelope vier maande nie salarisse ontvang nie – dit geld vir die wit sowel as die swart mynwerkers. Die syfers wat hieronder verskyn gee slegs ʼn idee van hoe erg dit onder die wit mynwerkers gaan. Helpende Hand is ook bewus van groot swaarkry onder die swart mynwerkers, maar hierdie studie het uiteraard ʼn fokus op die wit werkers. Auroramyn word tans besit deur Zondwa Mandela, kleinseun van Nelson Mandela, asook ʼn broerskind van President Zuma.
Luister na Solidariteit reaksie op RSG se Geldsake. Deel 1 en deel 2. Frans Baleni van die NUM glo ook nie meer die Pamodzi likwidateurs nie. Lees Moneyweb.
Lees Business Report.
Twee maande nadat die Grootvlei-myn in Springs sy deure gesluit het, het die volgende plaasgevind:
• Die afgelope maand was daar twee selfmoordpogings in Springs. In die een geval was ʼn man op die punt om van ʼn 30-meter mynskag af te spring toe een van sy medewerkers op hom afgekom en hom betyds gekeer het. Hy is die pa van twee kinders.
• Twee skeisake as ʼn direkte gevolg van die situasie het reeds voorgekom.
• Negentien mense het reeds hulle huise verloor.
• Sestien mense se krag is reeds afgesny.
• Sewe mense het hulle motors verloor, aangesien hulle nie meer die paaiemente kon bekostig nie.
• Nog 490 mense het agterstallig geraak met die betaling van hulle huishuur en gaan ook moontlik hulle blyplek verloor.
• Mense neem hulle diere na die DBV toe omdat hulle nie meer vir hulle kan kosgee nie.
• Laerskoolkinders is huis toe gestuur omdat hulle ouers nie skoolgeld kon betaal nie.
• Helpende Hand gee vir 458 mense wat by die Grootvlei-myn werksaam was, elke week kos.
• Gert Harme, skofbaas by die Auroramyn, se grootste vrees is dat sy gesin alles gaan verloor en êrens onder ʼn bloekomboom ʼn kombers sal moet span en daaronder moet bly. “Ons het niks. Ons het nie geld om CV’s uit te stuur nie. Ons het nie geld om petrol in te gooi om na onderhoude te ry nie. Ons staan toue by die banke, maar hulle wil niks weet nie. Baie mans voel van hulle selfbeeld gestroop. Mens se gees raak moeg baklei. Naderhand kan jy nie meer nie,” sê Gert.
• Voorman Ben van Niekerk (45) het eers ʼn baie goeie salaris verdien en was oor ʼn honderd persone in die myn aangestel. Hy woon vandag in sy skoonma se sitkamer. “Ek het van 1986 af op die myn gewerk. Eers is ons maande lank in 2009 nie deur Pamodzi betaal nie, nou is dit weer Aurora. Intussen het ek drie keer al my verblyf verloor. Ek het al my kar verloor,” sê Ben met moeë oë. Hy leun effens vorentoe waar hy langs sy vrou sit. “Baie familielede werk saam vir Aurora. My seun, swaer en neefs het ook vir Aurora gewerk. Almal is in dieselfde bootjie. “Hulle gee ons elke keer ʼn brief, ʼn leё belofte van geld. Elke keer raak ons bly. Elke keer word ons teleurgestel.”
“Ek het 74 dae se verlof verloor, my medies, my pensioen. Alles waarvoor ek gewerk het. Ek staan nog steeds elke oggend op en gaan werk as deel van die care and maintenance-span. Dit kos my geld om werk toe te gaan. Ons werk sonder lewensversekering. As ek vandag iets oorkom, kry my vrou niks. Ons bly maar almal vasklou aan die greintjie hoop dat ons betaal gaan word.” Volgens hom is daar nie vars water of toilette by die myn nie. “Elke Donderdag gaan haal ons kospakkies. Dit is vernederend, maar eintlik is ons by vernederend verby. Ons probeer net oorleef.”
• Kobus Janse van Rensburg (35) het die afgelope twee maande 7 000 kilometer ver gery om werk te soek. Hy werk ook as instandhoudingswerker by die myn, ten spyte van die feit dat hy vier maande laas ʼn volle salaris ontvang het.
“My skoonpa het nou die dag vir my seun R5 gegee om lekkers te koop. Hy het gesê: “Toemaar, Oupa, gee dit liewer vir my pa om brood te gaan koop.” Elke keer as ek by die huis instap, krimp my hart ineen, want ek kan dan nie eers op hierdie oomblik behoorlik vir my kinders sorg nie.
My oudste kind kry elke aand nagmerries en dit word net erger. Sy skoolwerk gaan agteruit. As dit nie vir my gesin was nie, het ek lankal tou opgegooi, alles gelos en ʼn swerwer geword. Elke keer as ek voel ek kan nie meer nie, vra my vrou my om asseblief net aan te gaan.”
• “My man het voor die myn toegemaak het ʼn 44-broek gedra. Nou dra hy maar ʼn 36,” sê Karlien van Rensburg. “Tydens die Aurora-gyselaarsdrama het die polisie die mynwerkers met rubber bullets geskiet om die Aurora mynbestuur te beskerm. Wie het die mynwerkers beskerm wat in die hostels van honger dood is na die myn toegemaak het? Wie beskerm my kinders teen honger? Wie beskerm gesinne daarvan dat hulle alles verloor en omtrent op straat sit? Ons verloor alles, selfs ons vriende. Waar is die wet vir ons mense? Hoe kan Aurora net wegkom daarmee?”
• Elias van Rensburg (60) het ʼn hartprobleem.
“Ek het ses jaar terug nie betaling by die Stilfonteinmyn gekry nie. Toe weer verlede jaar by Pamodzi en nou weer deur Aurora by die Orkneymyn. Ek het alles verloor: my inkomste, spaargeld, pensioen en medies. Ek is 60 jaar oud, hoe gaan ek die res van my lewe leef?” Elias werk al sedert 1973 op die myn.
“Ek is bekommerd oor my hartmedikasie, want ek kan dit nie meer bekostig nie en ek het nie ʼn mediese fonds nie. Gelukkig kry ek dit hierdie maand by die kliniek.”
“’n Ou raak mismoedig. Hulle het boonop drie keer in twee weke by my ingebreek en dít nadat ek my werk verloor het.” Elias bly stil op die vraag of hy kos het om te eet.“ Daar is omtrent 900 mense op die myn oor en baie gesinne het nie kos om te eet nie. Baie het alles verloor. Ek sal nie handdoek ingooi nie. Ek bly net op my knieë [en bid]. Dit is al waar ek die krag vandaan kry om aan te gaan.”
Bydraes kan gemaak word aan:
Solidariteit Helpende Hand, ABSA, rekeningnommer 407 225 0017
Verwysing: GROOTVLEI.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.