ʼn Salarisverhoging van 8% in 2009 was groter as ʼn verhoging van 10% in 2008. Hierdie stelling klink dalk verkeerd, maar lees verder om uit te vind waarom dit wel korrek is.
Een stel konsepte wat dikwels in ekonomiese artikels voorkom, is nominale syfers teenoor reële syfers. Dit verwys na die verskil tussen iets se waarde in terme van geldwaarde soos op enige oomblik in tyd (nominaal) en die waarde volgens een of ander vaste maatstaf (reëel). Hierdie vaste maatstaf is in die meeste gevalle ʼn geldwaarde op ʼn spesifieke, onveranderlike datum (dit wil sê, aangepas vir inflasie), maar dit kan ook ʼn ander soort intrinsieke maatstaf van waarde wees. Vir die doeleindes van hierdie verduideliking sal die mees algemene maatstaf om nominaal van reëel te onderskei, naamlik die geldwaarde aangepas vir inflasie, gebruik word.
Gestel ʼn persoon koop ʼn huis vir R1 miljoen op die eerste dag van 2009. Op die eerste dag van 2010 word die huis vir R1,03 miljoen verkoop. Dit het dus ʼn nominale styging in waarde van 3% getoon. Dit beteken egter nie dat die huis se waarde noodwendig in reële terme gestyg het nie. Gestel dat die algemene prysvlak gedurende 2009 met 5% gestyg het (inflasie). Dan beteken dit dat as ʼn mens aan die begin van 2009 ʼn sekere hoeveelheid algemene goedere en dienste met R1 miljoen kon koop, sou R1,05 miljoen aan die begin van 2010 nodig wees om dieselfde hoeveelheid goedere te koop. Die persoon wat die huis verkoop het, het dus eintlik in reële terme nie R30 000 se wins gemaak nie, maar het R20 000 agteruitgeboer. Hy het ʼn nominale opbrengs van 3% gehad, maar ʼn reële opbrengs van -2%.
Bogenoemde som is gedoen volgens die eenvoudige weergawe van die Fisher-vergelyking, waar die reële syfer eenvoudig gelyk gestel word aan die nominale syfer minus inflasie. Die eintlike verwantskap is ʼn bietjie ingewikkelder, maar in verreweg die meeste praktiese gevalle waar die koerse taamlik laag is, is die vereenvoudigde weergawe van die vergelyking naby genoeg aan die werklike antwoord om geen noemenswaardige verskil te maak nie. Indien mens die bogenoemde voorbeeld volgens die uitgebreide Fisher-vergelyking uitwerk, is die antwoord gelyk aan -1,9% – nie baie vêr van -2% af nie.
Dus, indien die inflasiekoers en die nominale koers van opbrengs bekend is, kan die reële koers van opbrengs maklik benaderd uitgewerk word deur eenvoudig die inflasiekoers af te trek van die nominale koers van opbrengs.
In die vakbondwêreld het hierdie onderskeid tussen nominaal en reëel natuurlik ook ʼn baie belangrike toepassing. Die werklike waarde van ʼn salarisverhoging kan op hierdie manier bepaal word.
Neem die voorbeeld van ʼn persoon wat salarisverhogings in Januarie van elke jaar ontvang. In 2008 was die persoon se nominale verhoging gelyk aan 10%, in 2009 was dit gelyk aan 8% en in 2010 was dit gelyk aan 7%. Dit lyk dus asof die persoon besig is om elke jaar swakker en swakker salarisverhogings te kry. In nominale terme is dit wel die geval, maar dit is nie die nominale syfers wat saak maak nie.
In 2008 was gemiddelde jaar-op-jaar inflasie gelyk aan 11,5% en in 2009 het dit gedaal tot 7,1%. Laat ons argumentsonthalwe aanneem dat gemiddelde inflasie tydens 2010 gelyk sal wees aan 5,8%*. Indien die reële waarde van die persoon se salarisverhogings dus uitgewerk word deur die inflasiekoers af te trek van die nominale verhoging, word waardes van -1,5% vir 2008, +0,9% vir 2009 en +1,2% vir 2010 verkry. Die persoon het dus in 2008, die jaar toe die nominale verhoging die hoogste was, agteruitgeboer, terwyl die reële toename tydens 2010 groter was as tydens 2009, selfs al was die nominale toename kleiner.
ʼn Ander manier om dit te illustreer, is om dit na geldwaarde om te skakel. Indien die persoon in 2007 ʼn jaarlikse salaris van R100 000 ontvang het, sou dit in nominale terme in 2008 gelyk gewees het aan R110 000, R118 800 in 2009 en R127 116 in 2010. Dit lyk na lekker stygings, maar as mens dit vergelyk met wat die bedrae in die onderskeie jare kan koop in vergelyking met wat die geval in 2007 was, is die prentjie egter anders.
In terme van koopkrag (reële terme) sou die bedrag van R110 000 in 2008 slegs kon koop wat R98 500 in 2007 kon koop, in 2009 sou dit R99 386 wees en in 2010 sou dit R100 579 wees. Eers in 2010 (toe die nominale verhoging maar 7% was), was die persoon werklik beter af as wat hy/sy in 2007 was.
|
Die verskil tussen nominale en reële salarisverhogings |
|||||
|
Nominale verhoging |
Nominale salaris |
Inflasie |
Reële verhoging |
Reële salaris |
|
| 2007 |
- |
R100 000 |
- |
- |
R100 000 |
| 2008 |
10% |
R110 000 |
11,5% |
-1,5% |
R98 500 |
| 2009 |
8% |
R118 800 |
7,1% |
0,9% |
R99 386 |
| 2010 |
7% |
R127 116 |
5,8%* |
1,2% |
R100 579 |
Met ander woorde: Die salarisverhoging van 7% in 2010 (met die aanname van ʼn gemiddelde inflasiekoers van 5,8%) was in hierdie voorbeeld baie beter as die verhoging van 10% in 2008, toe die inflasiekoers 11,5% was.
*Die aanname van ʼn geskatte gemiddelde inflasiekoers van 5,8% in 2010 is slegs ʼn skatting ter illustrasie van die voorbeeld en verteenwoordig nie noodwendig Solidariteit se werklike inflasieverwagtinge nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.