Nóg ʼn kind ontvoer en vermoor

 

Solidariteit Helpende Hand eis dat die regering beveiligingstrukture in minderbevoorregte gemeenskappe opskerp nadat nóg ʼn kind se lyk gisteroggend in ʼn veld in Springs aan die ooste van Johannesburg gevind is. Die oproep volg nadat die vierde kind sedert Sondag uit ʼn minderbevoorregte area ontvoer is.

Lees Beeld.

In dié voorval het ʼn sesjarige meisie laat Maandagmiddag uit haar tannie se huis vermis geraak. Sy is die laaste keer gesien waar sy die huis saam met ʼn familievriend verlaat het. Die 34-jarige man is kort ná die voorval in hegtenis geneem. In ʼn soortgelyke voorval is ʼn negejarige kind gevind ure nadat sy in Boksburg vanuit haar ouerhuis vermis geraak het. Volgens die misdaadvoorkomingsorganisasie eBlock Watch is sy laat gistermiddag gevind.

Dié voorvalle volg ʼn dag nadat die lyk van Lazanne Farmer (14) in Elandspoort, Pretoria-Wes gevind is nadat sy en haar 16-jarige vriendin Sondagoggend in Elandspoort ontvoer is. Lazanne is dood toe sy uit ʼn bewegende bakkie gespring het om van die 28-jarige ontvoerder te ontsnap. Haar 16-jarige vriendin is kort daarna in ʼn beboste gebied langs die Hennopsrivier verkrag.

Volgens die ma van die 16-jarige word jong meisies in die gemeenskap gereeld lastig geval deur skoorsoekers. “Ek het nie ʼn kar om my kinders rond te ry nie – hulle moet stap waar hulle wil wees. My ander 12-jarige dogter stap ook elke dag skool toe. Ek voel magteloos.”

Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpend Hand, sê kinders in minderbevoorregte gemeenskappe is oor die algemeen meer blootgestel aan mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting. “Gewetenlose misdadigers teiken juis die kinders omdat hulle ouers eenvoudig nie kan bekostig om vir toesig oor hulle kinders te betaal of iemand te kry om hulle te vervoer nie. Hoeveel kinders moet nog sterf voordat die regering optree teen kinderverkragtings en  ontvoerings?” vra Langner.

Volgens hom is misdadigers laks omdat die meeste aangemelde kinderverkragtingsake deur die mat val nadat kinderbeskermingseenhede in 2006 uitgefaseer is. Volgens die regering sou hierdie uitfasering die diens meer toeganklik maak vir gemeenskappe. Sedertdien het die persentasie skuldigbevindings ten opsigte van kindermisdaad drasties afgeneem.

Ten spyte van ministers se beloftes verlede jaar dat kinderbeskermingseenhede heringestel gaan word, is daar die afgelope jaar nog geen tydsraamwerk aan die publiek deurgegee of ʼn plan in plek gesit vir die herinstel van die eenhede nie.

Volgens Helpende Hand se Kindermisdaadverslag wat verlede jaar vrygestel is, is 1 410 sake van kindermoord in 2007/2008 in Suid-Afrika aangemeld. Dit beteken dat ongeveer vier kinders elke dag in Suid-Afrika vermoor word. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se webblad is daar verlede jaar 1 034 sake van kinderverwaarlosing in Suid-Afrika aangemeld.

“Wie gaan daarvoor verantwoordelikheid neem om kinders in arm gemeenskappe teen potensiële misdadigers te beskerm?” vra Langner. Volgens hom moet finansies nooit ʼn rede wees hoekom kinders nie in hulle eie gemeenskappe veilig is nie.

Feitelys oor verkragtings in SA:

• Daar word elke 17 sekondes ʼn vrou in Suid-Afrika verkrag.
• Ongeveer die helfte van hierdie verkragtings is kinderverkragtings.
• Suid-Afrika het die hoogste getal aangemelde verkragtingsyfer ter wêreld.
• Ongeveer 88% van verkragtings word nooit aangemeld nie.
• Volgens ʼn verslag wat deur die Amerikaanse navorsingsmaatskappy Gallup en die internasionale intelligensie-agentskap Interpol uitgereik is, word een uit elke twee vroue in Suid-Afrika verkrag.

Verwante artikels:

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • http://www.solidariteit.co.za Reint Dykema

    Stop kinderontvoerings en -verkragtings! – Helpende Hand Vroue in Aksie
    Vroue in Aksie belê dringende vergadering met minister

    Solidariteit Helpende Hand Vroue in Aksie het vandag ʼn dringende vergadering met die minister vir vroue, kinders en gestremdes, Noluthando Mayende-Sibiya, aangevra nadat dit aan die lig gekom het dat vier kinders in minderbevoorregte gebiede sedert Sondag ontvoer, verkrag of vermoor is.

    Tydens die vergadering gaan die herinstelling van kinderbeskermingseenhede en die skep van beveiligingsstrukture in minderbevoorregte gebiede onder bespreking kom.

    “Vier kinders word elke dag in Suid-Afrika vermoor. Dit is tyd dat vroue opstaan en standpunt inneem teen verkragting wat elke dag kinders se lewens verwoes. Genoeg is genoeg!” sê Maryn Botha, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Vroue in Aksie.
    Luidens ʼn verslag wat deur die Amerikaanse navorsingsmaatskappy Gallup en die internasionale intelligensie-agentskap Interpol uitgereik is, gaan een uit elke twee vroue in Suid-Afrika in hulle leeftyd verkrag word. Volgens Helpende Hand se Kindermisdaadverslag is ongeveer die helfte van verkragtings in Suid-Afrika kinderverkragtings.

    “Sedert kinderbeskermingseenhede in 2006 uitgefasseer is, het die persentasie skuldigbevindings van misdadigers drasties afgeneem. En dít in ʼn land met die hoogste syfer van aangemelde verkragtings ter wêreld,” sê Botha.

    Vroue in Aksie besoek vandag ʼn sestienjarige meisie van Pretoria wat Sondag in Elandspoort, Pretoria-Wes saam met ʼn vriendin ontvoer en daarna verkrag is. Haar vriendin, Lazanne Farmer (14), is dood toe sy uit ʼn bewegende bakkie gespring het om van die 28-jarige ontvoerder te ontsnap.

    Fondse uit Solidariteit Helpende Hand se Misdaadnoodfonds gaan gebruik word om die verkragte meisie en haar familie by te staan. Die noodfonds is gestig om berading en ander noodsaaklike bystand aan kinderslagoffers van geweld te bied.

    “Kinders val deur die krake omdat kinderregte in Suid-Afrika eenvoudig nie ʼn prioriteit nie. ʼn Koor van ministers, insluitende minister Mayende-Sibiya, het reeds in 2006 beloftes gemaak oor die herinstel van kinderbeskermingseenhede, maar tot op hede is geen tydsraamwerk in plek gesit vir die herinstelling van sulke eenhede nie,” sê sy.

    Volgens Botha besef die Suid-Afrikaanse Polisiediens glad nie die unieke behoeftes van kinderslagoffers van misdaad nie.
    “Helpende Hand het in 2008, ter herdenking van Sheldean Human, ʼn kindervriendelike aanmeldingskamer by die Hercules-polisiestasie ingerig. Die kamer staan vandag leeg,” volgens Botha.

    “Vroue moet opstaan en die stem wees vir kinders wat elke dag die weerlose slagoffers van misdaad in Suid-Afrika is,” sê Botha.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube