“Nersa” verhoor word voortgesit op Summit

w10

Die Nersa debat is op Summit TV voortgesit. Dirk Hermann het Solidariteit se saak gestel saam met die bekende ekonome Mike Schussler en Dawie Roodt. Die onderhoud is gevoer deur Erika van der Merwe. Hier is die afsluiting waar Dirk vir Eskom terug na die tekenbord toe stuur. Daar was ook ‘n onderhoud op Sake met Summit in Afrikaans. Luister ook vorige blog. Dirk moes ook vandag verduidelik waar kry Jacob Maroga die arrogansie en gulsigheid om ‘n R85 miljoen eis teen Eskom in te sit as hy die plek in die grond in bestuur het.
Die Eskom storie vir die week gaan egter aan Carte Blanche wat die klug aan die publiek gebring het van hou Eskom “swartes” werf in ander lande en dan onder die vaandel van regstellende aksie hul laat tel vir gelyke indiensname. Genoeg gronde vir ‘n ondersoek. Die keiser is inderdaad kaal. Jy kan net jou kop skud as jy die storie gekyk het. Die arme Amerikaners.

 

Solidariteit eis ondersoek na Eskom se regstellendeaksie-aanstellings van buitelandse werknemers

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn dringende beroep op Eskom gedoen om ʼn volledige uiteensetting aan die vakbond te voorsien van alle buitelandse werknemers wat hier aangestel is. Dit volg nadat dit gister in die nuusprogram Carte Blanche aan die lig gekom het dat verskeie swart werknemers vanuit die buiteland gewerf is, met die doel om regstellendeaksie-teikens by die maatskappy te haal.

Volgens Eskom-werknemers wat op die program verskyn het, is werknemers uit onder meer die VSA gewerf om by Eskom te kom werk. Van dié werknemers is oortuig dat hulle slegs gewerf is vir hul velkleur en om Eskom te help om hul regstellendeaksie-teikens te haal. Hulle voer onder meer ook aan dat as hulle geweet het dat dit die rede vir die werwing was, hulle nie die aanbod sou aangeneem het nie.

Ingevolge ʼn veldtog wat Eskom ʼn paar jaar gelede aangepak het, was die plan om nagenoeg 5 000 nuwe werknemers oor ʼn tydperk van vyf jaar te werf – hiervan moes ongeveer die helfte swart vroue wees.

Solidariteit hou vol dat as dié bewerings van aanstellings wat vir die doel van regstellendeaksie-teikens misbruik is wel die waarheid is, het die kragvoorsiener vir homself ʼn lat gepluk. “Suid-Afrika beskik oor uiters kundige mense wat jare se ervaring in Eskom het, maar wat sedert 1994 hul werk hier verloor het. Vir Eskom om hul teikens blindelings na te jaag en swart werknemers bloot vir hul velkleur in te voer, neem dinge te ver. Nie net is die werknemers onder die verkeerde indruk na die maatskappy gelok nie, maar daar word ook op ʼn onwettige manier gepoog om teikens te haal deur bloot swart werknemers in die poste te plaas. Hierdie benadering is nie bevorderlik vir enige Suid-Afrikaner, wit of swart, nie en daar moet veel eerder gekyk word na die ontwikkeling van plaaslike kundiges,” verduidelik Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans.

Kleynhans beklemtoon dat Eskom se poging om regstellendeaksie-teikens te haal die doeltreffendheid van die maatskappy geheel en al ten gronde laat gaan het. “As daar nie plaaslik geskikte swart werknemers vir die poste gevind kan word nie, mag Eskom nie geskikte wit werknemers oorsien nie. Die oorspronklike doel van regstellende aksie word tog geensins met die aanstelling van buitelandse swart werknemers gevul nie en ʼn dringende ondersoek behoort na Eskom se regstellendeaksie-aanstellings geloods te word om te bepaal wie werklik na regte vir dié poste kwalifiseer aangesien dit eintlik vir plaaslike werknemers geoormerk is,” verduidelik Kleynhans.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube