ʼn “Priceless” in elke situasie… of nie.

Na ʼn heerlike gelag en malligheid gisteraand saam met familie, sit ek op my Facebook-profiel die volgende: “Het ʼn paar “priceless” oomblikke beleef vanaand.”

Die kommentaar daarop:
“Alles het ʼn prys.”

Ek stuur toe terug: “Nee nee, sommige goed in die lewe is regtig gratis, jy moet dit net gryp!”

En toe begin ek wonder. Het alles in die lewe werklik ʼn prys? Of moet ons soms net sommige goed aangryp?

Weet ons nog in vandag se tyd hoe om dinge “priceless” te doen? Of het selfs die “priceless” oomblikke wat ons beleef, ook ʼn prys gehad?

Die gedurige verwysing na “priceless” deesdae, kom natuurlik van die Mastercard advertensies. Matercard het gegaan en advertensies gaan uitbeeld van die dinge in die lewe wat “priceless” kan wees. Vir alles anders is daar natuurlik Mastercard.

Ek het gisteraand gedink die kyk op my pa, ʼn boer wat alles redelik ongekompliseerd sien, se gesig terwyl ons Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gaan kyk het, was “priceless”.

Daarna het ons gaan uiteet. Die kyk op die kelner se gesig toe ek haar vra om vir my inkleurkryt en papier te bring, was verseker “priceless”. Toe sy vra of ek ernstig is, sê ek: “Nee, bring dit vir my sussie.” En die kyk op my sussie (24) se gesig toe die kelner die inkleurkryt en papier voor haar neersit… “priceless”!

Maar was die aand regtig “priceless”? Nee, hoewel ons die aand geniet het en die “priceless” oomblikke raakgesien het, het die aand ook ʼn prys gehad, die uiteet en fliek het ʼn hele paar rand gekos.

Weet ons regtig hoe om in vandag se tyd dinge “priceless” te doen? Ek daag jou uit, gaan geniet God se natuur, jou kind se lag, jou familie se saam wees, maar doen dit sonder ʼn prys, loop na ʼn stuk veld toe, moenie ry nie, soek goggas en beleef die oomblikke, doen dit heeltemal “priceless”.

Die ander ent van die argument om daarop te fokus om “priceless” oomblikke te beleef, is mense se vrees om goed aan te gryp, omdat hulle bang is dit kom met ʼn prys.  Dis nou die “Alles het ʼn prys”-mense.  Ja, in vandag se tyd kan mens bitter min avonture beleef, of selfs oomblikke gaan geniet, sonder dat dit ʼn prys kos.  Al kos dit jou net die petrol om daar te kom, die genot het dan ʼn prys.

Maar om nie goed aan te gryp of “priceless” oomblikke raak te sien nie, net om jouself te beskerm teen moontlike mislukking of seerkry omdat jy dit al te veel voorheen probeer het, is ʼn skewe uitkyk.

Om te fokus op die prys van moontlike seerkry of mislukking is nie die regte manier om na goed te kyk nie. Fokus eerder op die “priceless” oomblikke wat jy uit elke kans, verhouding, werk of avontuur kan haal!

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Riana

    Outjies, ek was vir 4 maande werkloos en laat ek julle vertel – as dit nie vir die priceless oomblikke in daardie tyd was nie, sou ek van my kop af geraak het. Ek is glad nie materialisties nie, wil net genoeg verdien om te kan lewe, dus is die klein dinge in die lewe vir my genoeg om ‘n kwaliteit lewe te kan lei. Ons moet ons nie blind staar teen die misdaad en korrupsie om ons nie – ons moet steeds probeer LEWE …

  • Dr. Dries du Toit

    Die beste “priceless”-oomblikke vir my as Oupa is as my kleinkinders kom ‘peel by oopa’. Het altyd gedink alle Oupas is simpel goed, maar nou is ek self een. Om op my rug op die sitkamermat met hulle te rol en saam leggo-karretjie te bou, tarentale kos te gee, en vir Ouma blomme te pluk is waarlik ‘priceless’ oomblikke vir my.

    Ek dink alles hang af van ons eie ingesteldheid. Sien ons ons omstandighede as positief of negatief….. die halfvol glas/half leë glas sindroom. Dit lê dus binne onsself om die ‘sternstundes’/goue oomblikke, raak te sien.

    Dankie.

  • Henry Barnes

    Is die lewe self nie priceless nie?! Jy het nie nodig om in ‘n veld te wandel of waar ookal, nee, kyk om jou rond en jy sal vele sulke oomblike beleef. Ek dink ook dit is hoe jy jouself jou gemoed instel. Wil jy ‘n suurknol wees of wil jy hê jou lewe moet priceless wees. Geniet die lewe wees vriendelik en die priceless oomblike kom vanself.

    Dankie vir die skrywer jou woorde was ook priceless !!

  • Naómi

    Verskoon dat ek so sinies is, maar jy kan nie meer vandag na ‘n stuk veld toe loop nie. Eerstens sal jy langs die pad aangerand en beroof word. Tweedens sal jy in die oop veld aangerand/verkrag/beroof word. Derdens is die ekosisteem so vernietig dat jy niks noemenswaardig in die veld gaan sien nie, behalwe ander mense se vullis, veral die bekende geel plastieksak (die nasionale blom).

    As kinders het ons in Kloofsig, Lyttelton oor die spoorlyn geloop om veldblomme in die veld agter die stasie te gaan pluk en dan op die wonderlikste goggas ook afgekom. Ons het met die trein na Fonteinestasie gery om by die publieke swembad daar te gaan swem. Ons was twee meisies alleen, maar ons het na elke boom en plantjie langs die pad gekyk en dit was nou regtig “priceless” – ook die oorsprong van ons lewenslange verhouding met die plantewêreld. Vandag staan ek met ‘n rollie in my skouerholster en my paniekknoppie om my nek om my tuin nat te spuit, terwyl ek lustig teug aan die gifgasse van die vragmotors. “Priceless?” Nee, ek dink nie so nie, veral as jy weet wat dit kos om longkanker te behandel. Al wat vandag nog “priceless” is, is die opregte glimlag op die gesiggie van ‘n baba of kleuter, of jou hond se mannewales.

  • Moira

    Priceless!




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube