Hoewel mynsterftes in Suid-Afrika tans ʼn afwaartse kurwe toon, laat die tekorte in mynveiligheidstegnologie steeds leemtes en ruimte vir verbetering, het die vakbond Solidariteit vandag op die viering van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se Internasionale Dag vir Veiligheid en Gesondheid in die Werkplek gesê. Solidariteit maan voorts dat werkgewers en werknemers altyd waaksaam moet wees as dit by mynveiligheid kom.
Suid-Afrika het die rykste minerale rykdom in die wêreld volgens ʼn verslag.
Lees Business Day. Sapa en Mining Weekly berig. Luister Jozi FM.
Volgens die ILO is die doel van die Internasionale Dag vir Veiligheid en Gesondheid in die Werkplek om ʼn bewuswording van beroepsgesondheid- en veiligheidskwessies te skep en om ʼn kultuur van voorkoming te kweek.
Volgens Paul Mardon, Solidariteit se hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid, is die huidige neigings in mynsterftes in Suid-Afrika baie positief. “Alle belanghebbendes in die mynbedryf het saam gewerk om ʼn veiliger omgewing te skep en die afname in mynsterftes oor die afgelope paar jaar toon dat dié insette nou vrugte afwerp,” verduidelik Mardon.
In 2007 het 221 – oftewel meer as vier werkers per week – op Suid-Afrikaanse myne gesterf. Die syfer het teen 2009 tot 165 – oftewel net meer as drie werkers per week – gedaal. In die eerste 16 weke van die jaar het daar reeds 29 werknemers op plaaslike myne gesterf. Dit kom neer op nagenoeg 1,8 sterftes per week.
“Dié syfer is realitief laag en as projeksies gedoen word, lyk dit belowend. Die eerste derde van die jaar is reeds verby en dit lyk of sterftes afwaarts beweeg. Een sterfte is egter ʼn sterfte te veel,” sê Mardon.
Mardon beklemtoon dat hoewel struikelblokke soos die uitermatige diepte van sommige Suid-Afrikaanse myne die gevaar verhoog, baie werk nog gedoen kan word om die tegnologie vir die voorkoming van mynongelukke te verbeter. “Tegnologie wat byvoorbeeld tans gebruik word om seismiese aktiwiteite ondergronds te meet, kan beweging in die rots tot ʼn duisendste van ʼn millimeter monitor, maar dit is steeds nie akkuraat genoeg nie. Ten spyte van dié tegnologie kan daar nog nie met sekerheid gesê word presies waar en wanneer rotsstortings gaan plaasvind nie,” meen Mardon.
Solidariteit hou vol dat maatskappye in die komende maande meer klem op die voorkoming van ongelukke moet plaas. “Ons is pas deur die Paasseisoen wat ʼn moeilike tyd is en tog dit het goed gegaan met mynveiligheid. Die volgende periode waarin werknemers ekstra waaksaam moet wees, is gedurende die Sokkerwêreldbeker. Hiertydens sal elke mynmaatskappy ʼn hernieude veiligheidsinisiatief moet inisieer sodat die positiewe momentum wat reeds vanjaar ten opsigte van veiligheid opgebou is, nie verlore gaan nie,” beklemtoon Mardon.
Volgens Mardon beskik Solidariteit oor ʼn afdeling wat spesialiseer in beroepsgesondheid en -veiligheid. “Die afdeling moedig onder meer die aanstelling van vakbondverteenwoordigers wat net op mynveiligheid fokus aan. Die resultate van die aksies word duidelik gesien by die werkgewers. Hulle veiligheidsrekords lyk beter as dié van hul mededingers,” volgens Mardon.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.