My brief in vandag se Beeld

Pietersen, Claassen en ander twyfelaars kort selfvertroue
deur Jaco Kleynhans

Hans Pietersen se brief oor die kritikus en die denker (Beeld, 29 September) herinner my aan politici wat mense altyd in kampe wil jaag.

In ’n stadium was jy ’n Nat of ’n Sap. In ’n ander stadium was jy ’n ja-stemmer of ’n nee-stemmer. Só kan ek aangaan, maar die punt is jy is altyd die een of die ander.

Pietersen wil weet of jy nou die kritikus of die denker met jou kind se opvoeding kan vertrou. Sy definisies van ’n kritikus en ’n denker is darem erge vereenvoudigings, net om sy argument te pas.

Die probleem met denkers soos Pietersen is dat hulle net een soort denker verkies en dit is mense wat soos hulle dink.

Ek is nie ’n anti-geloofsdenker of eng kritikus nie.

Net omdat ek ’n Christen is, kan ek tog ook seker nie as ’n eng karakterkritikus gesien word nie?

Wat gee Pietersen die reg om Christene?–?wat graag hul reg wil verdedig om Christene te wees –?as eng karakterkritici uit te maak? Mag ek nie ’n denker wees nie net omdat ek ’n oortuigde Christen is?

Die probleem met Suid-Afrikaners wat nie in God glo nie, is dat hulle tog so maklik bedreig voel.

Maak ’n Christen sy mond oop, dan is hy ’n karakterkritikus.

As Christen het ek mos die reg om op ’n beskaafde manier mense tot die Christelike geloof te probeer bekeer?

Net so het ’n persoon wat teen gelowe in die algemeen gekant is ook mos dieselfde reg?

Prof. George Claassen het, toe hy nog heeltyds ’n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch was, voortdurend sy studente van die argumente teen geloofsbeoefening bewus gemaak.

Nou mag Christene nie dieselfde doen nie?

Ek gee regtig nie om of my kinders se onderwysers meer kritiese persoonlikhede het of vryer denkers is nie. Dit is wat by die huis gebeur wat saak maak.

Ek maak my kinders as Christene groot en gaan hulle oor ’n paar jaar wanneer hulle skool toe gaan in ’n Christelike skool sit. Net so kan Pietersen mos maar ook sy kinders grootmaak op ’n manier wat hy verkies.

Ek sou dink dat dit baie meer vrydenkend is om mense se diversiteit, nie volgens hul geloof nie maar volgens hul persoonlikhede, standpunte en ’n hele lys ander kwessies te sien. Pietersen se twee-kampe-idee van emosionele Christene as karakterkritici en vrydenkers wat alles altyd reg sien, is tog so eng.

Hoekom kan ek nie ’n emosionele, passievolle Christen wees wat graag verskillende mense se perspektiewe wil insien en verstaan nie? Pietersen, Claassen en al die ander geloofstwyfelaars moet tog selfvertroue kry.

Ons as trotse, emosionele Christene is hier om te bly.

En dit is geen dreigement nie.

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube