Momente en Monumente: Die Ossewa

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe —
hul dra dit getroos en tevree.

Daar was twee eeue gelede reeds kommer oor die talle padongelukke in Kaapstad, en oor verkeersgeraas. Graaf Caledon, die eerste burgerlike goewerneur van die tweede Britse besetting, het tipies Brits beslis dat die kolonie die metropool se verkeersreëls moet gehoorsaam. Op 23 Junie 1809 het hy die volgende proklamasie uitgevaardig:

Alle persone verstrek aan die Fiskaal of die Landdros van hul onderskeie Distrikte hul name, asook hoeveel Karre of Waens hulle besit, sodat dié geregistreer kan word, en hulle vir elke Wa by betaling van Ses Stui wers ’n sertifikaat kan ontvang.

En sodat die Drywers van alle sulke Karre en Waens asook dié van hoegenaamd enige soort Rytuig die uiterste reëlmatigheid sal toon, beveel ek hiermee dat alle soorte Rytuie, hetsy deur Perde of Osse getrek, in ’n Straat of Pad links sal hou en altyd regs vir Rytuie van voor ruimte sal laat; en indien enige Rytuig, Kar of Wa skade opdoen, terwyl hy aan die korrekte kant van die pad is, as gevolg van ’n ander wat aan die verkeerde kant is, die eienaar van daardie Rytuig, Kar of Wa nie net die skade sal herstel en daarvoor vergoed nie, maar boonop by weiering verplig sal wees om ’n boete van 20 Riksdaalders te betaal.

Amper vir twee eeue lank was die wa die belangrikste vorm van vervoer beskikbaar vir die mense van die Kaap. Die eerste opgeleide wamaker is in 1662 aan die Kaap aangestel en hy het sowat 500 riksdaalders of sowat 15c vir ‘n wa gevra.

Die waens wat die Voortrekkers gebruik het, het hulle oorsprong gehad uit 15de- en 16de-eeuse Hollandse en Duitse plaaswaens. Hierdie waens was relatief lig en is deur twee perde getrek. Die rowwe en ongelyke Suid-Afrikaanse terrein het geverg dat hierdie ontwerp aangepas word, sodat die wa sterker gemaak kon word. Die waens is toe in afsonderlike dele gemaak, wat onafhanklik kon beweeg en sodoende kon voorkom dat die wa breek wanneer dit oor ongelyke terrein beweeg.

Die waens wat die Voortrekkers gebruik het, staan bekend as kakebeenwaens. Die vorm van die wa se sykante of lere het soos ‘n kakebeen gelyk, vandaar die naam. Die boonste gedeelte van die wa het ‘n vloer, sypanele en ‘n tent gehad, wat afgehaal kon word. Die agterkant van die wa het ‘n trap gehad waarop allerhande items vasgemaak kon word. Hierdie trap het gerieflike toegang tot die wa gebied.

Die Voortrekkers het hulle beste kledingstukke, breekware, en ander kosbaarhede in wakiste gepak. Die wakis het as sitplek op die wa gedien, en tydens uitspantyd kon dit ook as ‘n tafeltjie gebruik word. Die meeste van die Voortrekkers het met meer as een wa getrek. Een wa is as tuiste gebruik, terwyl die ander waens bergplek verskaf het.

Die trekpad het baie gevare en ontberings opgelewer: donderstorms, haelbuie, ysige winternagte, hitte; roofdiere, slange en giftige insekte. Waens wat omval, byvoorbeeld teen ‘n steilte of in ‘n drif, of selfs wanneer die osse op loop sit daarmee, het groot skade veroorsaak. Die veld was soms so ruig dat die mans met byle ‘n pad vir die wa moes oopkap. Op 2 Junie 1839 het daar ‘n brand in die laer van Jacobus Potgieter uitgebreek en is die ganse laer in as gelê. Die trekkers het net die klere aan hul lyf oorgehou, sommige nie eers ‘n hoed nie. Die groot hoeveelheid kruit op die waens het veroorsaak dat die laer heeltemal uitgebrand het. Vier mans en ‘n paar kinders het omgekom.

Die ossewa was vir die trekboere en die Voortrekkers ’n tuiste in die wildernis. Die wa met sy seiltent, was tegelyk ’n verblyfplek, ’n wieg, ’n siekekamer en ’n huisaltaar.

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe —
hul dra dit getroos en tevree.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube