Mielieboere staan voor moeilike produksiekeuses vir die komende seisoen. Weens oorproduksie en ʼn lae mielieprys kan die land tot 30% van sy mielieboere verloor. Solidariteit het die afgelope tyd toenemend bewus geraak van ʼn dreigende krisis vir Suid-Afrikaanse mielieboere. Volgens aanduidings sal hierdie krisis teen die helfte van 2011 ʼn hoogtepunt bereik. Verskeie onlangse mediaberigte het daarop gewys dat daar tans ʼn ooraanbod van mielies in Suid-Afrika is wat hoofsaaklik veroorsaak is deur ʼn verhoging in produktiwiteit en die afgelope paar goeie produksiejare.
Lees Lanbou.com
Kyk Summit TV. Luister Radio Pretoria.
NWK wys op die probleem in Lanbouweekblad.
Die mielieprys is tans so laag dat boere se produksiekoste nie eers naastenby verhaal kan word nie. Die uitwerking hiervan is dat ʼn geweldige hoeveelheid boere waarskynlik teen die helfte van 2011 in ʼn groot finansiële verknorsing kan sit en selfs finansiële ondergang in die gesig kan staar. Hierdie dreigende krisis is die afgelope week deur verskeie boere onder Solidariteit se aandag gebring. Die boere het die vakbond genader om bystand te verleen met bewusmaking van die probleem en om ʼn platform te skep belanghebbendes oor die probleem kan debatteer en soek na oplossings.
Die vakbond het ingestem om ʼn Landbouseminaar te fasiliteer waar die vernaamste rolspelers, wat insluit Graan SA, Agri SA, TLU SA en al die uitvoerende hoofde van die groot landboubesighede, uitgenooi is om saam met die boere te kyk na moontlike oplossings. Professor Johan Willemse, ʼn bekende landbou-ekonoom sal as kundige ʼn aanbieding oor die probleem doen.
“ʼn Mens sou tereg kon vra waarom Solidariteit as burgerlike organisasie nou juis betrokke raak by hierdie saak. Solidariteit wil geensins op die terrein van georganiseerde landbou beweeg nie – daarvoor is daar te veel puik georganiseerde landbou-organisasies wat hulle uitstekend van hulle taak kwyt. Solidariteit is egter bekommerd oor die impak wat hierdie krisis op die nie-landbougemeenskap van Suid-Afrika sal hê,” volgens Johan Kruger, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.
“Ons weet uit ervaring dat wanneer die landbougemeenskap in ʼn krisis is, die rimpeleffek na die nie-landbougemeenskap geweldig groot is. Indien honderde boere bankrot speel as gevolg van hierdie krisis, word plaaslike gemeenskappe op alle terreine ook in ʼn krisis gedompel. Wanneer gewone Afrikaner-gemeenskappe in Suid-Afrika in ʼn krisis gedompel word, stroom die versoeke om hulp en bystand deur Solidariteit in. As burgerlike organisasie wat sterk bande met die nie-landbougemeenskap het, is dit vir ons belangrik om inligting oor die komende krisis in te samel en te kyk waar ons hulp kan aanbied ten einde ʼn bydrae te lewer om hierdie krisis vroegtydig die hoof te bied. Indien ons ʼn klein bydrae op hierdie gebied kan lewer, maak dit die toekomstige rol wat ons as beweging sal moet speel in die ondersteuning van gemeenskappe soveel makliker,” het Kruger beklemtoon.
Solidariteit nooi alle mielieboere uit om die Landbouseminaar by te woon. Daar is geen kostes aan verbonde nie.
Sien Program en roetekaart.
Datum: 27 Augustus om 10:00
Plek: SAOU-hoofkantoor se konferensiefasiliteit in Pretoria










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.