Dit behoort vir niemand nuus te wees dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in 2008/09 ‘n woeste knou gekry het nie. Wat egter nie so dikwels die nuus haal nie, is die skerp kontras tussen wat met werksgeleenthede in die privaat sektor en werksgeleenthede in die openbare sektor gebeur het.
Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnamesyfers (Quarterly Employment Statistics, of QES), wat ‘n redelik betroubare bron van inligting oor veranderinge in formele indiensname in Suid-Afrika is, het die formele sektor in die vierde kwartaal van 2008 ‘n indiensnamepiek van 8 512 000 bereik. In die daaropvolgende jaar het dit met 5% gedaal, tot ‘n laagtepunt van 8 086 000 in die eerste kwartaal van 2010. Sedertdien het dit stadig weer met 3,4% gestyg tot 8 359 000 in die derde kwartaal van 2011. Die jongste syfer is dus slegs 1,8% laer as die vorige hoogtepunt. Hierdie syfers vertel egter nie die volle verhaal nie.
Indien die gemeenskap-, sosiale- en persoonlikedienste-sektor (community, social and personal services industry), wat hoofsaaklik uit staatswerkers bestaan, uit die totaal gehaal word, kom die verborge tendens na vore:
Die formele privaat sektor se totaal in die vierde kwartaal van 2008 was 6 353 000 werkers, wat met 7,4% tot 5 883 000 in die eerste kwartaal van 2010 gedaal het. Sedertdien het dit met slegs 2,4% tot 6 030 000 toegeneem. Dit is dus steeds 5,1% laer as in die vierde kwartaal van 2008.
In teenstelling hiermee het die gemeenskap-, sosiale- en persoonlikedienste-sektor vanaf die vierde kwartaal van 2008 tot die eerste kwartaal van 2010 met 2% toegeneem, van 2 159 000 tot 2 203 000. Sedertdien het dit met ‘n verdere 5,7% tot 2 329 000 toegeneem. Dit is 7,9% hoër as in die vierde kwartaal van 2008.
Met ander woorde, aan die einde van 2008 was daar ongeveer drie werkers in die formele privaat sektor vir elke staatswerker. Hierdie verhouding het intussen verander na ongeveer 2,6 tot een. So ‘n verandering is nie volhoubaar nie, aangesien staatswerkers met belasting uit die privaat sektor vergoed word. Hierdie verandering is deel van die rede waarom die persentasie van die staatsbegroting wat aan salarisse bestee word, aanhoudend styg. Die hoë skikkings ten opsigte van salarisverhogings wat telkens in die staatsektor bereik word, is nie alleen daarvoor verantwoordelik nie.
Daar is voorlopige aanduidings dat hierdie verandering in die verhouding van werkers in die privaat sektor tot dié in die staat stadig besig is om weer in die teenoorgestelde rigting te beweeg. Intussen sal die staat egter moet voortgaan om broodnodige kapitaalbesteding te besnoei om salarisse te kan betaal, of om die belastinglas te verhoog ten einde voldoende kapitaalbesteding te probeer volhou.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.