Owerhede wat onmededingende praktyke soos prysvasstelling en markverdeling moet oopvlek, ondersoek en straf, sit met ʼn dilemma wanneer dit by die “straf”-gedeelte kom. Met die onlangse uitspraak in die Pioneer Foods-saak het hierdie kwessie weer na vore gekom.
Uit die aard van die saak moet ʼn maatskappy wat die wet oortree het deur onmededingend op te tree, gestraf word. Hierdie straf behoort ook as afskrikmiddel te dien vir ander maatskappye om nie soortgelyke oortredings te begaan nie. Vir hierdie twee doeleindes is monetêre boetes teoreties ʼn effektiewe strafmaatreël. Natuurlik moet die boetes hoog genoeg wees dat dit werklik straf en afskrik. Daar is ook ander tipes straf wat effektief kan wees, soos om spesifieke strafmaatreëls op te lê vir die individue wat verantwoordelik was vir die onmededingende gedrag, maar in beginsel is ʼn monetêre boete op ʼn maatskappy goed.
Een beswaar wat soms teen sulke boetes geopper word, is dat mededingende maatskappye wat nie by die onderduimshede betrokke was nie, nie vir verliese gekompenseer word nie. Die boetes word normaalweg eenvoudig as staatsinkomste hanteer. Nog ʼn beswaar wat dikwels geopper word, is dat hierdie boetes niks teruggee aan die verbruikers wat deur die onmededingende gedrag benadeel is nie.
In Pioneer se geval het die mededingingsowerhede ʼn interessante besluit geneem om R250 miljoen van die monetêre boete opsy te sit as ʼn fonds om nuwe mededingers in die meel- en broodmark te help. Hoewel die nasionale tesourie onlangs gelas het dat hierdie R250 miljoen soos gewoonlik as normale staatsinkomste behandel moet word, kan die geld steeds vir die geïdentifiseerde doel gebruik word, solank die minister van ekonomiese ontwikkeling die noodsaaklikheid daarvan in ʼn normale begrotingsproses kan motiveer. Indien dit realiseer, kan hierdie stap help om die eerste beswaar te beantwoord.
Die tweede beswaar word in volgende week se artikel bespreek.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.