Kos bly steeds duur

Click op die grafiek om dit te vergroot

Click op die grafiek om dit te vergroot

Daar is gedurig berigte in die media dat voedselinflasie daal. Onlangs is daar weer berig dat “voedselinflasie nou onder die Reserwebank se teiken is”. Hierdie dinge is waar – voedselinflasie het inderdaad gedaal en is nou, met ʼn jaar-op-jaar getal van 2,4%, onder die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%.

Hierdie berigte kan mense egter onder die indruk bring dat kospryse nou laer is as ʼn jaar gelede. Dit is ongelukkig nie waar nie. In Januarie 2010 het StatsSA se amptelike meting van kospryse in der waarheid ʼn hoogtepunt bereik. Die indekssyfer het op 110,9 te staan gekom, teenoor die vorige hoogtepunt van 110,1 in Mei 2009. Die feit dat voedselinflasie daal, beteken slegs dat disinflasie plaasvind. Disinflasie is nie dieselfde as deflasie nie. Tydens disinflasie styg pryse steeds, maar teen ʼn stadiger tempo as voorheen. Dit is slegs tydens deflasie wat pryse daal. Hoewel ons wel in drie maande van verlede jaar kortliks maand-op-maand matige deflasie van voedselpryse gesien het, was die stygings tydens die ander maande oorgenoeg om dit uit te kanselleer.

Dit beteken natuurlik nie dat alle voedselitems se pryse gestyg het nie. Daar is wel sekere items waarvan die pryse tydens die afgelope jaar gedaal het, maar dit is byna uitsluitlik produkte waarvan die pryse tydens 2008 reusagtige stygings gehad het. Voorbeelde sluit rys, broodmeel, margarien en kookolie in. Daar is egter ʼn oorwig van produkte waarvan die pryse wel tydens 2009 geklim het, soos die meeste soorte vleis- en visprodukte, melk, kaas, eiers, byna alle geblikte produkte, suiker en tee.

Die mandjie van basiese voedselitems wat die Navorsingsinstituut van Solidariteit dophou (saamgestel uit StatsSA se rou data oor elke afsonderlike voedselitem se prys en geweeg volgens StatsSA se vorige inflasiemandjiegewigte), is ook steeds gemiddeld 28% hoër as in Januarie 2008 en sowat 2% hoër as wat dit in Januarie 2009 was. Dit is dus duidelik dat die grootste deel van die stygings in 2008 plaasgevind het, wat regverdigbaar kon wees uit die reuse voedselkommoditeitsprysstygings van daardie tyd. Dit is ook duidelik dat daar tydens 2009 geen sprake van ʼn volgehoue daling in pryse was nie (hoewel kommoditeitspryse reeds teen die middel van 2008 baie gedaal het).

Die bygaande grafiek toon hierdie tendens met die soliede lyne aan. Die grafiek wys dat die vlak van voedselpryse tydens middel-2009 begin stagneer het, maar dat dalings nog nie plaasgevind het nie. Die stippellyne toon die maandelikse stygings of dalings in die pryse van die amptelike voedselmandjie en ook die basiese mandjie aan. Let maar op dat hulle uiters selde negatief is. Moet dus nie dink dat as die koerantopskrifte aandui dat voedselinflasie daal, dit beteken dat die pryse van voedsel ook daal nie. Al wat dit eintlik beteken is dat pryse nou stadiger styg as voorheen – nie ʼn baie groot prestasie gegewe die reuse stygings in die verlede nie.

Verwante artikels:

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube